Thursday, 14 December 2017

Third update from the pen of Jacobus


J was here... 12-13 Desember 2017

Tannie Jaqui, of juffrou Jaqui soos almal haar hier op die dorp ken, vat nie nee vir `n antwoord nie.  Port Nolloth ken haar so.  En ons sou gou genoeg leer...  
Tannie Jaqui se lyf is groot.  Soos oorlede oumagrootjie s`n.  Maar die Here het dit vir haar gegee.  Anders het haar hart nie ingepas nie.

Sy het ons gisteraand gebel.

“Hoe laat begin die stapper?”  Sy weet van ons.  Sy was die fotograaf by afgelope Sondag se diens.  Sy wil saamstap.  Deur die dorp.  “Jacobus support.”

Gaan die tannie kan byhou?

“Vyf uur” sê ek sonder om te dink, toe my pa na my kant toe loer.  Dit sal seker nie so vroeg wees nie, dan is dit nog donker.  Ek het nog nie besluit nie.  Wil nog nie nou al daaraan dink nie.  Ek voel nog my voete van gister se stap.

“Dit sal seker te vroeg wees vir jou nê?” Probeer my pa nog die tannie afskrik.

Ek is op die ou end eers half sewe daar weg.  Dit het maar moeilik gegaan met die opstaan slag.  Ten spyte van al my ma se gepamperlang en ingevrywery van my bene en voete met arnika-olie en die slow release magnesium vir die krampe, voel ek spiere wat ek nie geweet het ek het nie...  Veral my voete het gister behoorlik gesuffer.  Toe ek my skoene aantrek weet ek sommer hier is fout.  Maar ek hou dit stil.  Dalk gaan dit verby as ek eers begin stap.


Op die parkering by die bakkie staan in groot letters in die sand geskryf: “J was here”.  Kan nie wees nie...  Ons voel dadelik sleg.  Die tannie was wraggies vanoggend 5h00 hier om saam te stap!  Ons sal later moet gaan verskoning aanbied.

Maar dis nie nou wat my bekommer nie.  My linker enkel en `n toontjie aan my linkervoet is nie lekker nie.  Dit pyn asof dit gebreek is...

Net anderkant die afdraai na McDougalbaai besef ek, dat ek nie so kan verder nie.  Ons sal `n plan moet maak.  Ek bel my pa.  Omdat die pyn eers begin het nadat ek my skoene aangetrek het, besluit ons om my stapskoene vireers vir my drafskoene te verruil.  Terwyl my pa dit gaan haal het, trek ek solank my sokkies uit.  Ek dra gewoonlik twee paar sokkies.  Toon-sokkies met gewone sokkies bo-oor.  Die toon-sokkies help dat ek nie blase kry nie en die gewone sokkies versterk my enkels.  Die twee saam plaas egter te veel druk op my tone.  As ek net die toon-sokkies aan het maak my tone glad nie seer nie.  Aangesien ek die gewone sokkies wel nodig het vir my hakke, besluit ons om die tone deel van die gewone sokkies af te sny.  Dit het baie goed gewerk. 

Tannie Jaqui het opgedaag.  Wil gou kyk hoe gaan dit met die stapper...  Sy is baie besorg toe sy hoor van my voete en gee raad.

Ek is met my drafskoene verder.  Alhoewel ek my enkel nog voel van gister se besering toe ek uit die pad uit moes spring vir die vragmotor, voel my voete sommer van die staanspoor af beter.  Dis asof `n groot klip bekommernis van my skouers af rol.  Dankie Here.  Nou kan ek weer aangaan...

Ek stap teerpad.  Dit loop lekker gemaklik en omdat dit nog so vroeg is, is dit nog koel.  Maar dit is vreeslik eentonig.  Ek stap nou al amper tien kilometer en behalwe vir `n hele klompie motors wat verby jaag sonder om enige notisie van my te neem, gaan hier nie veel aan nie.  Die trokdrywers toet darem as hulle verbykom.  Hier is net grond en bossies.  Twee klein rooivalkies sit op `n telefoonpaal en vlieg nie eens op nie.  Dis nie `n mooi wêreld hierdie nie.  Orals langs die pad kan `n mens diep slote sien waar gesoek is na diamante.  Verder lê hier ook verskriklik baie bottels en plastieksakke langs die pad.  Dit is  `n onophoudelike streep van gemors.  Soos `n lang stortingsterrein.  Dit is seker moeilik om die waarde van God se skepping raak te sien as alles al klaar so deur masjinerie verniel is.  Maar dit is nie `n verskoning nie.  Die mense van Port Nolloth behoort hulle te skaam...


Ver voor my is `n styl bult. `n Lange.  Ek kyk hom al van ver af en hoop dat die afdraai na Kleinzee voor dit sal wees.  Soos dit nader kom besef ek dat ek nie so gelukkig gaan wees nie.  Hierdie ding gaan my kuite vreet.  Ek probeer `n paar fotos neem, maar weet sommer dat `n mens dit nooit op kamera kan vaslê nie.  Eindelik staan ek bo.  Rus eers `n bietjie.  Van hier af kan `n mens Port Nolloth nog duidelik sien.  Dit lyk nie eens of ek al ver geloop het nie.  `n Derde van my reis vir die dag is al verby...

My pa stuur vir my `n boodskap.  Tannie Jaqui wil die stapper treat.  Haar nefie AD is `n chef wat in Franschoek gestudeer het en hulle nooi ons vir `n seekosete by my tent.  Op die vlak!  Vanaand slaap ek as die Here wil langs die grondpad in die middel van nêrens...  Dit gaan `n belewenis wees...  Tannie Jaqui vat nie nee vir `n antwoord nie.

Omdat die pad so vervelig is, besluit ek om anders as wat ek tot dusver gedoen het, eerder radio te luister as musiek.  Ek ken nou al al die liedjies wat ek saamdra.  Nou praat daar mense met mekaar en kan ek hoor hoe dit in die res van die wêreld gaan: die probleme met die treine, verkeer, die weer en sommer net `n klomp goed om my gedagtes besig te hou.

Dit lyk of die draftekkies werk.  Dit bied nou wel nie so baie ondersteuning vir my voete nie, maar ten minste pyn my voete nie meer so erg nie.  Omdat die sole al redelik dun en verslete is, voel ek omtrent elke klippie waarop ek loop.  Maar dis hanteerbaar.
Wat lekker is van teerpad stap, is die piekniekplekkies wat `n mens elke nou en dan langs die pad kry.  Dit is net soveel gemakliker om  jou swaar rugsak daar af te haal.  Daar is ook lekker skaduwee en bankies om op te sit.  `n Mens leer om die klein dingetjies in die lewe te waardeer.  Dis makliker om op te staan na die tyd.  Dis net hartseer dat hier so ongelooflik baie glas en plastiek rondlê.


Ek het gister twee ure geloop op teer en vandag nog net `n uur en `n half, maar die rubberdoppies onder my stapstokke het nou deur geskuur.  Die ysterpunte wat dit beskerm steek nou al deur.  Ek weet nie of die doppies ontwerp is om op teer te loop nie, maar as dit so is, werk die patent nie baie goed nie.  Dit stap nie lekker met die staalpunte op die teer nie.  Ek sal maar kyk wat ek met die goed gaan maak as dit heeltemal gaar is.


Bo op die plato begin `n koel windjie nou van voor af opsteek en begin al harder waai.  By die afdraaibordjie na Kleinzee rus ek eers.  Ek het gedink die grondpad wat ek nou gaan vat gaan rustig wees, maar letterlik al die motors wat van Port Nolloth af kom draai hier af.  Baie mense woon seker in Port Nolloth en werk in Kleinzee of selfs Koiingnaas.  Bereid om eerder elke dag 60 tot 100km te ry, heen en terug, as om naby die werk te woon in dorpies waar nog maar min geriewe oor is.

Interessant hoe baie politiek en intriges hier in Port Nolloth is.  Die plekkie is klein, die mense weet alles van mekaar af en natuurlik die diamante...  Tannie Jaqui het mos gesê hier is so verskriklik baie geld, maar dit vlieg oor hulle koppe heen na ander dele van die land.  Blykbaar was `n vorige burgemeester van Port Nolloth in `n groot skandaal betrokke.  Hy het homself so verryk aan diamante, smokkelary en ek weet nie wat nog als nie, dat hy die einde van sy geld nie kan sien nie.  Plase van tot 80  000 ha, hierdie kant en anderkant die Oranje.  `n Groot deel van Port Nolloth behoort aan hom.  Dit het selfs die koerante gehaal.  Hy is nie eens skaam daaroor nie.  My pa en ma het hom ontmoet nie ver van waar hulle oorslaap nie.

Die twee sekuriteitsmanne van West Coast Resources, Koning Vincent en Johan Steenkamp, met wie my pa die afgelope tyd onderhandel het om deur hulle myngebied te stap, het nou net hier by my gestop.  Hulle wou weet of ek die stapper is, of ek nog OK is en of enige van die mense hier rond vir my gepla het.  Hulle kon nie glo ek is net agtien nie.  “Jo, maar jy is `n groot seun!”

Die grond waarvoor hulle verantwoordelik is, lê eintlik meer tussen Kleinzee en Hondeklipbaai.  Die uitgestrekte heuwels regs van my behoort nog aan De Beers.  My pa het dit nie besef nie.  Hy het gedink dit is alles Alexkor se gronde.  Toe ons in Port Nolloth is, het my pa De Beers se hoof van sekuriteit, William McDonald, gebel om te kyk of hy nie iets kan reël dat ek strandlangs tot by Kleinzee kan stap  nie, maar sonder sukses.  Nou moet ek maar buite om die myngebied stap.

Die wind waai nou so hard dat ek nie `n skuiling kan opslaan nie.  Ek wil `n bietjie rus, maar hier is nêrens skaduwee nie.  Net lae bossies en telefoonpale.  Ek het spesiaal hiervoor `n gazebo sykant gekoop, wat ek saam met my stapstokke in `n skuiling kan omskep, maar dit gaan nie hier werk nie.  Ek weet ook nie hoe ek my tent alleen opgeslaan gaan kry nie.  Dit sal ek eers kan doen as die wind gaan lê.  Ek sal maar kyk of ek `n natuurlike skuiling kan kry...



Die grondpad is regtig sleg.  Plek-plek is daar groot gate, wat opgevul is met stof en op ander plekke is dit geweldig sanderig.  Die walle is bestaan ook uit dik sand.  As daar motors aankom moet ek padgee oor hierdie walle.  Gewoonlik kan `n mens die motors van ver af sien kom as gevolg van die stof wat hulle opgooi, maar die wind hier is baie bedrieglik.  Die wind waai soms so hard dat dit stof opskop van die grondpad en ek nie altyd seker is of dit die wind is en of dit `n motor is wat oppad is nie.  Ek vat maar nie kanse nie.  
Die skoene wat ek nou dra is nie so geskik vir grondpad nie.  Hulle is nie gemaak vir so ver stap nie en is al redelik verslete.  Die sand en stof kom sommer in deur die skrefies in my sole en waar die lap vas is aan die sole.  Ek is ook nie lus om elke nou en dan te stop om daarvan ontslae te raak nie, want dis elke keer maar `n mission om weer te begin.

My pa het laat weet die kosplanne het verander.  Die wind waai te veel en daar is nie `n manier hoe ons seekos geeët gaan kry sonder om `n duin sand daarmee saam in te kry nie.  Ek moet nog nie my tent opslaan nie.  Hy kom haal my.  Ons eet vanaand by tannie Jaqui in haar huis...



Dit was omtrent `n belewenis.  AD het die kos gemaak soos my oupa Koos daarvan hou.  Lekker sterk.  `n Regte koningsmaal.  Ons het omtrent gesmul.  So saam met al die stories van die dorp en veral van die outyd, het ons lekker gelag.  Tannie Jaqui se broer het ook opgedaag.  Hy het nie saam geeët nie, maar onophoudelik stories vertel van kreefduik en van toe hy klein was en sy oom stuk-stuk al sy vliegduiwe opgeeët het.  Ons was deel van die familie. `n Groot treat!  Hier op Port Nolloth het ons geleer wat gasvryheid beteken.  Ons het by tye ook ernstige gesprekke gehad oor die mense van die omgewing wat so wag op die “grants” van die staat en niks vir hulle self kan doen nie.  Tannie Jaqui is nie so `n persoon nie.  Sy “organise” .  Of dit nou haar junior rangers is wat sy oplei, besig is in die kerk of opheffingswerk in die dorp is.  Geen wonder die mense het soveel respek vir haar nie.  Juffrou Jaqui.  Sy het vir die meeste van hulle skool gegee.  Hulle ken haar.  Sy vat nie nee vir `n antwoord nie.  Toe ons groet druk sy my vas, asof ek hare is.  “Mooi loop my kind”  

Dankie tannie.  Dit was `n voorreg.

Ek moet erken dit was nogal sleg om na die feesmaal terug te gaan veld toe.  Dit was al donker toe ons by die plek waar ek moes slaap, stop.  My pa-hulle het gou die tent help opslaan.  Op so `n plek, waar die mense my nie van die pad af kan raak sien nie.  Oral rondom my tent is skerpioengate...





Gelukkig het die wind darem redelik bedaar.

Toe my pa se bakkie wegry, bly ek alleen agter. `n Vreemde gevoel...  Vir `n hele tydjie het ek my verbeel ek kon hulle nog hoor.

Ek het nog `n tydjie gelees, maar was skrikkerig dat iemand die lig in die donkerte sien en kom ondersoek instel.  As gevolg van die wind het ek my ook elke nou en dan verbeel ek hoor `n motor.

Net toe ek aan die slaap begin raak, dreun `n motor by my verby.  Sonder om te stop...
Kwart voor vyf die oggend was ek al wakker.  Dis verskriklik koud buite.  Ek het goed geslaap en nog omtrent `n halfuur in die tent gelê om myself te motiveer om op te staan.  Dis nie `n grap om elke dag dertig kilometer te stap nie.  Ek geniet die uitdaging en die omgewing, maar hierdie deel wat ek nou stap is nie juis inspirerend nie.  Ek moet dringend badkamer toe gaan, maar dis te koud om uit te gaan...  As ek nou opstaan, kan ek maar net sowel aangaan en klaarmaak vir die stap.  

Ek weet nie wie die grootste geskrik het nie, maar toe ek my tent oopmaak het die kraai wat op die paal naby my tent gesit het, met `n onaardse lawaai opgevlieg.  Ek is nou helder wakker.

Die son het nou net begin opkom.  Net so `n skrefie lig bo die heuwels.  Dis nog steeds bitterlik koud.  My lyf ruk eintlik.  Die warm slaapsak is darem baie aanloklik.  Maar ek wil klaarmaak.  My ouers kry my in Kleinzee.


Ek maak `n bietjie koffie om my hande warm te kry...

`n Halfuur na ek begin stap het, begin die wind weer waai.  Lyk my dit gaan weer een van daardie dae wees.

`n Hele klompie motors en vragmotors het veral in die oggend verbygekom.  Tannie Jaqui se seun wat in Koingnaas werk ook.  Hy het nog eers kom groet.  My ouers is later ook verby.  Hulle het belowe dat `n lekker koue koeldrank vir my wag in Kleinzee.  Ek moet net nie te haastig raak nie.  Myself pace.  Die dag is nog lank.

Die sandpad en `n paar stywe bulte vreet my bene.  Die wind van voor help ook nie en ek loop half gebukkend vorentoe.  `n Mens stap nie lekker so  nie.  Ek wens nou ek was korter...  Hoë bome vang die meeste wind.  Letterlik.

Sommige bulte is baie bedrieglik.  Dis soos wanneer jy klein is en jy leer swem.  Jy klap en trap vir `n vale om by hulle uit te kom en net soos jy dink jy is daar beweeg hulle agtertoe.  So is die bulte ook.  Nes jy dink jy is bo is daar nog `n stukkie opdraande en dan nog `n bietjie.  Sommiges kry nie end nie.




Verder is daar eintlik nie veel om te sê oor die dag se stap nie...  Grondpad tot in Kleinzee.  Witborskraaie, `n bleeksingvalk en bossies, bossies, bossies...

Naby Kleinzee het dit behoorlik gevoel of my bene afval.  Na ongeveer 22 kilometer se bulte lyk dit of die laaste agt darem gelyk of afdraande gaan wees.  Ek hoop nie my kuite begin kramp nie.

Net anderkant die “Welkom in Kleinzee” val ek onder `n klompie bloekombome neer.  Nog `n skof verby.  My ouers kan my maar kom haal...

By Kleinzee se strand het ons nog eers bietjie plastieknavorsing gaan doen en gekyk of ons enige nurdles vind.  Gelukkig nie `n enkele een nie.



Dankie Here dat ek hierdie moeilike gedeelte ook kon klaarmaak, ten spyte van die probleme met my toerusting.  Dankie dat ek altyd bewus kon wees van U nabyheid.

Dankie aan almal wat vir my bemoedig het met hul boodskappies en gebede.  Selfs al ken jy my nie persoonlik nie.  Dit help baie om te weet daar is mense wat aan my dink en vir my bid.

4 comments:

  1. Sjoe.... Dit is alles net ongelooflik indrukwekkend. Ons bid elke dag vir jou.

    ReplyDelete
  2. Tannie Bets v Biljon17 December 2017 at 16:25

    Jy is ń dapper man! Geniet die stap en natuur? Tannie Bets

    ReplyDelete
  3. Ja ek was self bietjie uit sein uit. Net besluit vanaand moet ek weer slag met jou oplyn kom en net sê al die Brandjies dink aan jou en wil jou bemoedig. Hou jou fokus op jou taak op hande en weet dat God al die pad met jou stap. Geniet die valkies. Ek weet hulle is altyd pragtig. En dan stap jy nou seker in van die mooiste gedeeltes. Ek het gesien jou Pa hulle het geskryf oor die grotte by Spoegrivier. Dit was iets besonders om te lees. Mooi loop maat en kyk net op.

    ReplyDelete
  4. Hello Everybody,
    My name is Mrs Sharon Sim. I live in Singapore and i am a happy woman today? and i told my self that any lender that rescue my family from our poor situation, i will refer any person that is looking for loan to him, he gave me happiness to me and my family, i was in need of a loan of $250,000.00 to start my life all over as i am a single mother with 3 kids I met this honest and GOD fearing man loan lender that help me with a loan of $250,000.00 SG. Dollar, he is a GOD fearing man, if you are in need of loan and you will pay back the loan please contact him tell him that is Mrs Sharon, that refer you to him. contact Dr Purva Pius, Email urgentloan22@gmail.com call/whats-App Contact Number +918929509036 via email:Thank you.

    ReplyDelete