Tuesday 12 December 2017

Second update from Jacobus himself...


Is jy OK?

Maandag 11 Desember 2017


Die plan was om vroeg te vertrek vanaf Paardevlei, in Alexkor se gronde.  Dan is dit nog koel en het die mynwerkers nog nie begin nie.  Hopelik kan ek `n paar ure insit voor die ondervragings weer begin.  Dis lekker afleiding om te gesels met mense, maar ook so vreeslik tydrowend.  En die sak is swaar.  Hoe korter dit op my rug is hoe beter…

Maar dinge werk nie altyd uit soos `n mens dit beplan het nie.  Ons is 4h45 op.  Half ses moet ons soos afgespreek vir oom Paul by Muisvlakmyn, langs die pad na Alexanderbaai kry.  Hy moet my weer in die myngebied gaan aflaai, waar ek laas Saterdag opgetel is.  Dertig kilometer terug.  Dis nogal demotiverend.  Ek stap dus vandag na Port Nolloth toe, waar ek gisteraand geslaap het.  Dit gaan seker nog baie gebeur.  Ek sal maar gewoond moet raak daaraan.

Dis koud en nog half donker toe ons op Muisvlak aankom.  Mistig.  Ons het nogal gewonder of ek `n spesiale baadjie moet kry vir die stap.  Dis mos somer.  Hoe koud kan dit nou raak?  Maar nou is ek bly...  Dis een van daardie soort baadjies wat jy in `n klein ligte bondeltjie kan oprol.  Dis warm, lig en vat amper niks plek nie.

Van oom Paul is daar nog geen teken nie.  Ons is bietjie vroeg.  5h45 ook nie.  Dit raak al later.  Toe die oom teen 6h00 nog nie hier is nie, raak my pa bietjie opstandig en stap na die sekuriteitsbeampte toe wat voor die mynhek sit.  Hy het ons hoeka nou al die afgelope halfuur al argwanend aangekyk.  Oom Paul laat weet hy is `n bietjie vas vanmôre.  Die twee bakkies van die myn is besig om wagte aan te ry na die verskillende poste.  Ons het nou presies op skofruiltyd aangekom.  Hy het nie `n voertuig nie.  Ons moet maar wag.

En so stap die tyd aan.  In die Grosvenor het ons geleer wat die “War of the waiting” beteken.  Dit is wanneer jy te veel tyd het om te dink aan allerhande goed wat jy nie moet nie.  Veral soos nou wat jy jouself geestelik voorberei het vir die lang ent se stap...  Jy voel hoe jou motivering stadig wegsink...

Intussen word hier net mense aangery: werkers, wagte en toerusting.  Een van daardie reuse geel trokke dreun voor die neus van die bakkie verby.  Ons sit maar binne.  Dis te koud buite.

Twaalf minute voor sewe daag oom Paul by ons op...  Die hekke word oopgemaak en ons ry `n onbekende stuk myngebied binne.  Ek voel soos `n celebrity.  Die wagte groet vriendelik.  Almal ken vir oom Paul.  Hy is hulle baas.  Terwyl die mynhope, sandduine, klein bossies en graspolletjies verby ons skuif praat ons land en sand.  Ek let nie te veel op die omgewing nie.  Dit lyk maar baie dieselfde en ek stap nou-nou mos weer hierdeur.  Terug in die rigting van Port Nolloth.

Met oom Paul
Volgens oom Paul gaan die see vandag plat wees.  Dit beteken dat dit vandag `n goeie dag vir die myners gaan wees om buite te werk.  Ek is natuurlik nie te opgewonde daaroor nie...  Die see lyk vir my maar redelik rof.

Volgens oom Paul moet ek gaan kyk by die robbe by Spuitgat, maar ek het vergeet om te vra dat hy dit vir my op die kaart moet wys, want daar is nêrens `n Spuitgat op my topografiese kaart nie.  Ek het dit ongelukkig op my stap gemis.  Ek wil nie onnodig van die beplande paaie afdwaal nie.  Ek het alreeds 30km wat ek moet klaarmaak vir die dag en in hierdie weer sou die robbe volgens oom Paul in elk geval nie op land wees nie.

Ek stap nou al `n uur, maar dis nog steeds koud.  Dis weer `n kwessie van “Stap jouself warm” en ek het met `n stywe pas begin.  Maar die dik misbank se koue kom sit maar in jou lyf.  Daar is gelukkig nie baie wind nie.  Alles is grys rondom my.  Die lug, die pad en die omgewing.  Dit is asof ek deur `n grysgekleurde bril na die wêreld kyk.



Op `n ligter noot:  Ek dink my maag is bietjie omgekrap.  Terwyl ek in die bakkie saam met die oom gery het, moes ek vir `n halfuur knyp vir `n vale, maar noudat ek so alleen is, laat loop ek...  Dis darem een voordeel van alleen in die wêreld wees!

Om by die strand uit te kom is amper onmoontlik.  Die kus hier is baie rotsagtig en oral is daar mynbou aktiwiteite: reuse mynhope, slikdamme en allerhande toerusting en mense wat besig is.  Die reuse geel trokke dreun gereeld verby op die groter paaie.  Dis gevaarlik.  Ek kan omtrent net-net nie onderdeur die goed stap nie, so hoog sit die bestuurders.  Ek is bang hulle sien my nie raak nie.  Op een stadium het ek gedink die bestuurder sien my, want hy het bietjie uitgewenk, maar toe die trok naby is, toe kom dit vir my.  Die bestuurder was op sy selfoon besig...  Ek moes met my swaar tas uit die pad uit spring.  In die proses het ek my enkel bietjie verswik en my voet beseer.

Van nou af hou ek vir eers op die kleiner paadjies.  Dit is nie hoe ek en my pa dit gisteraand afgespreek het nie, maar ek moet maar aanpas by die omstandighede.  Dit beteken wel dat die stapomstandighede baie slegter is op die dowwe, sanderige paaie.  Sommige paaie kan `n mens sien is baie lank terug gery en verdwyn mettertyd sommer in die middel van nêrens.  Ek sal hier moet kophou.  Nie omdat ek bang is ek verdwaal nie, want ek stap mos net in `n suidelike rigting kuslangs, maar sodat ek nie te veel energie verloor op paadjies wat nêrens heen gaan nie.  Anders stap ek dalk veertig vir die dag.  Gelukkig voel ek nog vars en is die weer ideaal vir stap.  Ek wil soveel as moontlik na aan die strand hou om te kyk vir Oystercatchers en ander seelewe en natuurlik om te soek vir die Spuitgat, maar as dit te moeilik begin raak moet ek maar weer die groter paaie binneland toe opsoek.


Dit is hier by Jakkalsput rond wat ek op die dooie walvis afgekom het.  Ek het dit al vir hele tydjie geruik, maar eerder `n dooie rob verwag of die robkolonie waarvan oom Paul gepraat het, want dit stink mos ook geweldig...  Die karkas wat hier gelê het was al in `n erge staat van verotting.



Ek was verbaas dat hier so min seelewe langs die kus was.  Ek het nou al `n hele paar kilometers net bo die rotslyn deur die sand geploeter en my pad gesoek, maar nog nie `n enkele seevoël gesien nie.  Ek kan nie agterkom of dit is as gevolg van die see wat so rof is of van die mynbou aktiwiteite nie.  Wat wel opvallend is in hierdie hele mynbou area van Alexkor, is dat ek baie min rommel gesien het.  Oom John van PlasticSA sal baie bly wees om te hoor dat die myners omtrent al die gemors op die strande optel.  Plek-plek is daar hope groot blou sakke vol gemors wat wag om weggery te word.  So “Well done” aan Alexkor.  Hierin is julle vir die meeste Suid-Afrikaners `n goeie voorbeeld.

My bene het begin moeg word van los sand stap en ek kies koers binneland toe.  Na die groter paaie soos ek en my pa afgespreek het.  Ons kon op die kaarte al sien dat ek `n groot deel van die roete weg van die kus af sal moet stap.

Terwyl ek stap praat ek gereeld in my selfoon, sodat ek goed nie vergeet nie.  My pa luister dit dan later en gebruik dit saam met my stories om my verhaal te vertel, so getrou as moontlik aan my eie woorde.  Dan voel `n mens ook nie so alleen nie.  Dit voel of ek dan met my pa en ma praat.  Asof hulle my kan hoor.  Ek weet die Here is by my hier in die eensaamheid.  Ek hoef nie eens my oë te sluit as ek met Hom wil praat nie...

Ek kry elke nou en dan sein.  Dan ontvang ek die wonderlikste boodskappies.  Lyk my die hele van Vondel-clan het besluit om boodskappies te stuur.  Dit is wonderlik en inspirerend.  Selfs tannie Mach de Mooij het `n boodskappie gestuur.  Dit is baie spesiaal.  Ek wens ek kon sommige boodskappe plaas, maar ek is bang mense gaan dan te skaam raak of ophou stuur.  Ek wil net vir juffrou Hester sê ek het pepper spray by my vir as die “skollies” moeilikheid kom soek... Ek gaan dus nie mense uitsonder nie, maar ek waardeer julle bekommernisse, liefde en gebede verskriklik baie.

Ek is in twee gedagtes oor die wind.  Dit het nou ophou waai.  Maar die temperatuur het skerp opgetel en dis bedompig.  Ek kan nie besluit wat ek verkies nie...  Die Here leer my om nie te kla nie.  Alles het goeie en slegte kante.

Ek weet nie wat gebeur het nie.  Dalk het oom Paul vir die mense gewaarsku, maar nog niemand hier in die Muisvlakdeel van Alexkor se grond het enige notisie van my geneem nie.  Baie voertuie is al hier by my verby.  Hulle waai net en ry aan.  Ook maar goed so, want dis besig.  Ek moet heeltyd uit die pad uitgaan vir trokke en bakkies.  Die mense is nie gewoond aan stappers nie.  Almal word hier rond aangery.  Hulle ry ook so.  Jaag van een plek na `n volgende.  `n Miernes van aktiwiteite.  Maar ek moet nie kla nie.  Dit stap in elk geval beter as die sand- en skulpie-paaie wat ek tot hier toe geloop het.


Net toe ek te wintie begin voel, stop `n bakkie langs my en word ek gevra of ek werk vir die myn!  Lyk dit so...?  Toe ek egter oom Paul se naam noem, was die man dadelik tevrede en ry aan.

Ek begin my bene nou al voel.  Iewers in my rug is ook `n pyn.

Elke nou en dan loop ek verby plekke waar die grond gerehabiliteer word.  Sommer sulke groot stukke.  Mens sien die groen nette wat in rye geplant staan van ver af oor die grys vlaktes.  Oom Paul het vanoggend vir my  in die bakkie gesê dit is die ou metode.  Hoe die nuwe metode dan deesdae is het hy nie gesê nie.  Ons het oor ander goed begin praat.  Soos sy bekommernis oor die jong mense van die area wat so hul geld en geleenthede op duur motors, meisies, drank en dwelms mors, dat ek heel vergeet het om hom te vra.  Oom Paul is soos `n liewe oupa wat sommer bekommerd is oor die hele dorp se kinders.  Hy ken van swaar kry en kan nie verdra dat daar so met geld gemors word nie.  Die jong mense dink net aan nou.  As hulle dertig is het hulle niks meer nie en dan lewe hulle soos `n klomp sleg goed van die Staat.



Ek het nie geweet `n mens kry skilpaaie wat ekstroverte is nie.  Hier duskant Muisvlak is een...  Hy het nie eenkeer sy kop ingetrek nie.  Maak nie saak hoe naby ek gekom het nie.  Dalk het die arme ding `n stywe nek gehad van die koue mis...  Ek kon `n paar oulike foto`s kry van die gewone ou rooipensie.  Vir my was dit spesiaal.  Nog `n lewendige skepseltjie van dieselfde Vader. `n Kameraad in die middel van nêrens.



Ek het nog omtrent 18km oor vir die dag.  Anders as die vorige twee dae is my voete vandag seer.  My tone en hak.  Ek hoop nie dit word erger nie...

Ek kan van hier af Muisvlak se mynhoop sien.  Wat sleg is, want ek weet die Mynhoop is net so 8km van Port Nolloth af.  Al weet ek, ek is nog nie eens halfpad nie, voel dit of ek amper klaar is.  Wat  nie goed is nie.  Ek stap nou al `n hele tydjie, maar die mynhoop bly tart my daar op die horison...  Dit voel nie of die ding nader kom nie.  



Na `n tydjie kan ek darem al die lig en die donker op die hoop onderskei... Ek kan al die naam op die kant van die vragmotors sien.

Ek het net gestop om gou `n foto van Muisvlakmyn te neem, maar ek was dadelik spyt daaroor.  Om nou weer te begin stap is `n mission.  My hele lyf is nou styf.  Dit is asof my brein vir my lyf gesê het ons is klaar...  Wat `n gesukkel.  Die bene moet nou eers weer bietjie geghries word.  Ek moet dit nou maar eers weer stadig vat aan die begin.

Dis cool om elke nou en dan boodskappe te kry.  Dit gee weer `n bietjie ekstra petrol in die tenk.  My bene is nou al lekker moeg.  Erens in my rug begin dit nou in alle erns te pyn...
  
Twee mans in `n wit Fortuner het nou net hier by my gestop en wou weet of ek die outjie van die TV is.  Ons het sommer lekker gesels oor my stap.  Hulle kan nie glo ek stap dertig km `n dag nie.  Die een man vra nogal: “Stap jy met jou eie twee voete?” (!) Hoe anders...  Ek wens op dié stadium ek kan my voete omruil...  Toe die Fortuner-ouens vertrek, was dit weer `n gesukkel van voor af om aan die gang te kom.  Maar die belangstelling en geselskap langs die pad is wonderlik.  Die nuus het nou vinnig versprei...  Ek dink die manne in die wit Fortuner het vir die ander oor die radio laat weet.  Hier stop nou gereeld ouens om te vra of ek die outjie is wat op Port Nolloth slaap en of ek OK is.

Net-net.  Die pyn in my voete en rug raak erger.  Ons het geweet dit gaan gebeur.  My lyf moet nog gewoond raak.  Ek hoop dit is dit.  Ek het ook agtergekom dat ek so min as moontlik moet stop nou.  As ek loop is die pyn draagbaar, maar as jy stop en dan weer begin, voel dit tien keer erger.  As jy dan eers weer aan die gang is gaan dit beter.  Dis veral my voete wat nou die meeste probleme gee en begin kramp.  Ek drink `n paar pille vir die pyn.

Op `n stadium het ek gou `n foto geneem van `n heuweltjie aan die einde van `n lang reguit stuk pad.  Dit het nie baie ver gelyk nie...  Dit het my `n uur geneem om tot daar te kom.  Dit is nogals misleidend hoe ver alles is.  Ek moet dit nie weer doen nie...



By Muisvlakmyn pyn my voete en bene so dat dit voel of hulle gebreek is.  Anders as wat ek en my pa afgespreek het, besluit ek om nie kuslangs nie, maar teerpad langs te hou Port Nolloth toe. Die teerpad gaan, dink ek, minder stremming veroorsaak op my voete.   Ek moet nou aan myself dink en nie aan allerhande avontuurlike paadjies en scenery nie.  Ek moet by die huis kom.  Daar is nog `n lang pad vorentoe.

Ek stap nou baie stadiger.  Die ses kilometer tot op Muisvlak was baie erg en het tydsgewys baie langer geneem as gevolg van my voete.  Ek het nou nog net soveel oor....  Dis nie lekker om dit op die gps te sien nie.


So 4km voor Port Nolloth stop ek gou as gevolg van `n spasma in my rug.  Ek het my rugsak afgehaal om dit op die grond neer te sit, maar kon nie.  Ek het dit maar grond toe laat val.  `n Polisiemotor het van nêrens af skielik langs my verskyn en `n blondekop vrou vra my:  “Is jy OK”.  Vir my het dit baie beteken om vir haar te kan sê:  “Toe maar tannie.  Nog net vier kilometer”.

Net na sy weg is kom `n Polo van voor af.  Toe dit naby genoeg is verminder die bestuurder spoed en kom stadig in die geel streep reg na my toe aangery.  `n Entjie voor my stop die motor met die CX registrasienommer en die blanke bestuurder duik onder die dashboard in.  Hy soek iets.  Greg, die bestuurder van die Polo, is `n geoloog hier by die myn.  Hy het my gesien stap en wil weet of ek OK is.  Hy het twee lemoene en `n tinkie wat ek kan kry.  Het ek genoeg water?

Wonderlike mense hier op Port Nolloth...

Ek moes natuurlik eers `n foto saam met my nuwe vriend neem.



Met baie meer energie en moed is ek daar weg.  So sorg die Here.  Dit was nie dat ek die lemoene of die tinkie nodig gehad het nie.  Die tinkie was natuurlik great!  Maar in hulle liefde, die polisievrou en Greg, het ek die liefde van my God en Vader raakgesien.

Eindelik kom ek na `n moeisame tog verby Wedge Point, Cliff Point, Sandkopbaai en Herring Bay by “Secret Place” in Port Nolloth aan.

Maar nie voor ek die bordjie 20m van my eindbestemming af, gesien het nie...

“You`ll never walk alone.”





Dankie Here.  Ek weet dit...

3 comments:

  1. Pragtige post Jacobus. Ek weet ook God is by jou en dat jy nooit alleen sal loop nie. Bid vir jou! Sterkte!

    ReplyDelete
  2. Jacobus, wat 'n pragtige verhaal. Mag jy saam met die Here verder stap. Ons bly jou opdra in gebed.

    ReplyDelete
  3. Hello Everybody,
    My name is Mrs Sharon Sim. I live in Singapore and i am a happy woman today? and i told my self that any lender that rescue my family from our poor situation, i will refer any person that is looking for loan to him, he gave me happiness to me and my family, i was in need of a loan of $250,000.00 to start my life all over as i am a single mother with 3 kids I met this honest and GOD fearing man loan lender that help me with a loan of $250,000.00 SG. Dollar, he is a GOD fearing man, if you are in need of loan and you will pay back the loan please contact him tell him that is Mrs Sharon, that refer you to him. contact Dr Purva Pius, Email urgentloan22@gmail.com call/whats-App Contact Number +918929509036 via email:Thank you.

    ReplyDelete