Wednesday 13 December 2017

`n Nuwe lewe vir Kleinzee

Woensdag 13 Des 2017



Terwyl die res van Namakwaland in die laat 1920`s aan diamantkoors gely het, was Pieter de Villiers besig met sy gewone dagtaak – onderwys.  Wel soort van.  Hy was al sestien jaar onderwyser in die omgewing en was besig om `n nuwe skooltjie naby die mond van die Buffelsrivier te bou.  Dit was `n lang proses om die stene uit klei te maak en dan in die son te laat droog word.  Maar sy messelaar Alberts was amper klaar en dit was tyd om die mure af te wit.  Terwyl hulle twee die regte kalk in die veld gesoek het, hier geskop en daar gekrap het in al die plekkies in die omgewing wat belowend gelyk het, skop De Villiers `n diamant los uit die grond uit.  Met die hulp van Alberts se swaer, wat `n prokureur was, is `n sindikaat gevorm.  Binne sestien dae het hulle nog tien diamante gevind en `n week later nog 600 karaat diamante wat hulle vir £6000 verkoop het.  Die nuus van die  diamantfonds op Kleinzee het natuurlik vinnig versprei. Uiteindelik was die aanbod van £35 000 wat Cape Coast Exploration Company vir die kleims aangebied het, net te aanloklik en is dit verkoop.  `n Week na die transaksie word die pot met diamante gevind – die beroemde Kleinzee krater.  Net die eerste fonds binne die krater was al £120 000 werd! En dit was maar net die begin...




Soos Lawrence Green dit in sy boek “So few are free” gestel het: “The farm which could not have grazed a hundred sheep for a week, had become a treasure house.”



Saam met die skatte het die doringdraad en polisiewagte gekom.  Kleinzee het `n myndorp geword, met al die toerusting wat nodig was om die diamante uit die aarde en uit die klip uit te haal en skoon gewas te kry.  Die einste man wat die eerste diamant in Namakwaland, suid van Port Nolloth ontdek het, was die eerste bestuurder van die hele operasie hier.  Jack Cartsens.  Die nuus van sy ontdekking `n paar jaar tevore, het net te vinnig versprei en voor die Carstens hul oë kon uitvee en die prospekteerregte kon kry, was die hele wêreld al daar.  In plaas van `n miljoenêr, moes Jack Carstens nou die myn op Kleinzee beheer.  In die boek wat hy geskryf het, kla hy oor die fortuin wat hy deur sy vingers laat glip het.  Vandag is daar darem in Kleinzee `n straat na hom vernoem.  En sy foto hang in die museum...



Na die Tweede Wêreldoorlog het De Beers die myn oorgekoop en die produksie opgestoot na `n miljoen karaat per jaar.  In die piek jare van die 1980`s het meer as 3000 mense van Kleinzee op die myn gewerk.  Maar daardie jare is verby.  Vanaf 2009  toe die mynbou aktiwiteite geweldig afgeskaal is, het baie mense hul werk verloor en is nog net die wat betrokke is by sekuriteit en onderhoud nog werksaam vir De Beers.

Toe ons in 2011 vir `n paar nagte in die karavaanpark oorgeslaap het, was die dorp verlate.   Soos wat `n mens soms in films sien waar die mense deur een of ander verskriklike siekte uitgewis is...  Spookagtig in helder daglig.  Dit was hartseer om die pragtige dorpie so te sien.



In sy piektyd moes dit wonderlik gewees het om hier te woon.  Die 370 huise, hospitaal, olimpiese swembaddens, sportvelde, gholfbaan en drie skole getuig daarvan.  In 1989 was hier nog 651 kinders op skool.  Vandag is dit vyftig.  Kleinzee se inwonertal het geval van ongeveer 7000 na 400.  Die huise staan leeg...  Die mense van die omgewing sonder werk.  Heelwat het hulle gewend tot onwettige delwery in De Beers se gronde.

Maar eerder as om die dorp plat te slaan, het De Beers besluit om die dorp te verkoop.  Die voormalige werknemers kon dit vir `n appel en `n ei opraap.  R50 000.  R100 000.  Eiendomsagente het ook die geleentheid aangegryp en orals staan nou te koop bordjies.  Heelwat huise is al verkoop.  Die vroutjie by die winkel sê vir my: “Meneer gaan nie sommer `n huis onder R250 000 meer kry nie.  Sommiges gaan al vir `n Miljoen rand.”  Mense sien die potensiaal.  Gastehuise en kampeerplekke. Ook baie koffie-winkeltjies, maar almal is toe.  Die piektyd vir die vakansiegangers begin eers volgende week.  Ons koop maar `n paar stukke sjokoladekoek by die museum.




Ek soek die ou skoolgeboutjie waar Pieter de Villiers skool gegee het.  Die mense hier kan my nie help nie.  Niemand weet waarvan en van wie ek praat nie.  Die oudste skole hier is so 60 jaar oud.  Dit kan dalk die skool op Grootmis wees.  Dit lê langs die Buffelsrivier.  Twee kilometer Port Nolloth se kant toe.  Oorkant Grootmis se kerk.

Die meeste mense hier is inkommers.  Hier as gevolg van die myne of die nuwe geleenthede wat stadig maar seker besig is om te ontwikkel.  Hulle ken nie die geskiedenis nie.  Weet nie van die wonderlike pioniersgesinne en verhale van die omgewing nie.  Weet nie van die man wat alles begin het nie.  Pieter de Villiers wat `n diamant losgeskop het en so `n myndorp begin het nie…




Die paaie van Kleinzee is in `n verskriklike toestand en die groot mynhoop troon oor die dorp, maar oral is mense besig om te bou, te verf en te restoureer.  Gras word water gegee.  Blommetjies geplant.  Gemors opgetel.  Die grys huise begin kleur kry…

Kleinzee het oor begin.






3 comments:

  1. Interessante geskiedenis van Kleinzee.

    ReplyDelete
  2. More ons sal wat gee om daar te kom woon xxxx

    ReplyDelete
  3. Hello Everybody,
    My name is Mrs Sharon Sim. I live in Singapore and i am a happy woman today? and i told my self that any lender that rescue my family from our poor situation, i will refer any person that is looking for loan to him, he gave me happiness to me and my family, i was in need of a loan of $250,000.00 to start my life all over as i am a single mother with 3 kids I met this honest and GOD fearing man loan lender that help me with a loan of $250,000.00 SG. Dollar, he is a GOD fearing man, if you are in need of loan and you will pay back the loan please contact him tell him that is Mrs Sharon, that refer you to him. contact Dr Purva Pius, Email urgentloan22@gmail.com call/whats-App Contact Number +918929509036 via email:Thank you.

    ReplyDelete