Monday, 18 December 2017

Here we go again... Update from Jacobus



Die Engel

Donderdag 14 Des 2017


Ek kan nie verder nie...
Voor my is `n hoë doringdraad-heining.  Ek kan nie oor nie.  En ook nie om nie.  Dit loop aan die eenkant tot op die rotse en aan die anderkant kan ek die einde nie sien nie. 

Waarskynlik tot teen die grootpad tussen Kleinzee en Koiingnaas.  Vier kilometer ver... `n Ekstra vier kilometer.  My gps wys ek het nog net 7km oor. Nou is dit skielik elf.

Op dertig kilometer maak vier ekstra kilometers `n reuse verskil.  Dit kon net sowel twintig gewees het.  Die moordende laaste vyf – het nou nege geword...

Ek is verbaas oor my reaksie.  Hoe negatief ek is.  Ek het geweet sulke dinge gaan gebeur – onvoorsiende omstandighede.  Maar jy moet jouself geestelik daarop kan voorberei.
Ek het dit nie hier verwag nie.

Toe oom Tiaan Priem van West Coast Resources ons net voor die stap gebel het om toestemming te gee dat ons deur hierdie deel van die myngebied mag stap, was ons opgewonde - `n deurbraak vir ons.  Nog `n gedeelte waar ons navorsing kan doen.  Selfs toe Koning Vincent en oom Johan Steenkamp my gister langs die pad gekry het, het hulle niks van `n heining gepraat nie. Hulle het geweet ek moet hierdeur. Hoe het hulle gedink gaan ek hier verby kom?

Ek stap pad toe.  Negatief.  Hierdie ekstra stukkie werk met my kop.  Dis in die verkeerde rigting...

Ek is vanoggend weer redelik vroeg weg.  Altyd later as wat ek beplan het, omdat my voorbereiding so lank vat.  Ek pak my tas al die vorige aand.  Dit sluit my kaarte en die dagstukkies, wat oom Martin de Wit opgestel het, in.  Maar daar is sekere goed wat jy net in die oggend kan doen – pleisters aan die voete, toonsokkies aantrek, kamaste om die bene vasmaak en dan oor die skoene om die sand uit te hou en te help teen slangbyte - `n ritueel wat maklik `n uur vat.  Pynlik presies.  Oorhaastigheid met my voete kan probleme vorentoe veroorsaak.



Die eerste gedeelte was maklik. Plat.  Daarna het die skulphope gekom. Vir `n hele entjie ploeter jy voort met jou voete wat tot by jou enkels wegsak in miljoene uitgespoelde skulpe.  Dit tap jou energie.  Nie lank nie of my asem begin jaag.  Ek is fiks, maar hierdie is moordend...  Goeie oefening vir enige sportspan.  Vir `n hele ruk is dit net die gekraak van skulpe onder my voete en die gejaag van my asem wat ek hoor.  Die see se gedruis het na die agtergrond verskuif.




 Ek is verby Brazil, waar my ouers oorslaap. Heeltemal op hul eie langs `n uitgestrekte kus.  Die myne het die plaaslike mense toestemming gegee om hier te kom kamp.  `n Stukkie niemandsland, waar jy gratis jou tent kan opslaan.  Maar hier is geen fasiliteite nie.  Nie elektrisiteit, water of toilette nie.  Dit skrik ons nie af nie.  Na al die avonture wat ons as gesin al meegemaak het, is ons al gewoond daaraan.



So `n kilometer van my ouers af, om `n draai, begroet die vreemdste gesig my.  `n Hele samedromming van tente , karavane en kampers.  In `n lang ry om `n pragtige baaitjie.  `n Mini Hartenbos in die middel van nêrens. Elke gesin met sy eie dorpie van voertuie, tente, gazebo`s, windskuilings en toilet- en storttente.  Die uniekste toilet wat ek deur die opening van een van die tente gesien het, was `n groot outydse melkkan met `n toiletbril op...

Omdat dit nog redelik vroeg was, mistig en koud, was daar nêrens enige mense te sien nie.  Die nuus van hierdie gratis vakansieplek het duidelik uitgelek, want die motorregistrasienommers wys die mense het van oral oor die land hierheen gekom om te rus.  Hoekom hier?  Jy kan nie hier swem nie...  Dis te koud.  Lees?  Heeldag?  Ek ril sommer by die gedagte...

Al trekpleister waaraan ek kan dink is... Kreef.

En lyk my almal het hul honde saamgevat.  Dis omtrent `n geraas. 
Oorspronklik het ek gedink dis net hierdie een baaitjie wat dalk gewild is en daarom so baie mense trek, maar groot was my verbasing toe die volgende paar baaitjies almal so lyk.  Orals is mense.  Maklik tien groepe per baaitjie.  Ek kry nie eens kans om my nood te verlig nie...

Wat baie hartseer is, is die manier hoe hierdie mense die duine verniel.  Dit lyk nie of die landswette hier geld nie.  Elke ou maak soos hy wil.  Die duine is stukkend gery.  Spore lê die hele wêreld vol. `n Speelplek vir mense wat nie omgee nie... `n Uitdaging vir manne met groot motors wat wil wys wat hulle kan doen.  En quad bikes natuurlik.  Gelukkig is my pa nie naby nie.  Hy sou `n fit gevang het.



Erens vorentoe is iets dood.  Ek ruik dit al van ver af.  Seker `n walvis of `n rob.  Ek het nou al op `n paar ou walvisgeraamtes afgekom en dooie robbe lyk my is volop langs die kus, want ek het, net in vandag se stap sover, al drie dooies gekry.  Dis opvallend hoe min seevoëls daar langs hierdie kus is.  Selfs nie meeue of duikers nie.  Hier is wel skoorsteenveërs en witborskraaie wat die goggatjies in die uitgespoelde kelp vreet.

In die sand tel ek `n stuk kakebeen met `n groot groot oogtand op.  Ek wil dit vir my pa wys.  Dit lyk te groot vir `n rob s`n.  Dalk `n Bruin Hiëna.  Hulle kom mos hier voor...

Vir `n paar ure het ek nou al geen mens gesien nie.  Die kus lê verlate voor my.  Rotse, afgewissel deur klein sandbaaitjies.  Soms stroke met groot ronde klippe.  Op `n stadium hoor ek `n gedreun vorentoe.  Hoop nie dis `n myn nie.  Dan moet ek weer `n klomp vrae beantwoord.

Groot was my verbasing toe `n opgeboude 4x4 skielik om `n duin te voorskyn kom.  Ek wonder hoe het hulle toestemming gekry.  Waarskynlik verdwaal en net gelukkig om nog nie deur sekuriteit opgetel te wees nie.  Op die bonnet staan in groot letters: “Jeeping for Jesus”.  Hulle stop.  `n Man met `n groot bos hare groet.  Hy lyk nogal soos oom Danie Hefers van SABC2 Fokus.  Sy hare is net langer. Praat ook bietjie soos hy.  Hulle het my al voorheen sien stap en kan nie glo dat ek so vinnig vorder nie.  Die man beduie vir my dat my naaste volgende dorp Hondeklipbaai is.  Ek weet.  Maar ek mag nie tot daar deur die myngebied stap nie.  Ek moet om.  Binneland toe skiet.  Verby Koiingnaas en dan padlangs tot by Hondeklipbaai.

`n Hele tydjie later kom ek skielik op `n myn af.  Drie mans sit `n entjie daarvandaan op die rotse.  Gelukkig sien ek hulle betyds en besluit om veld langs om die myn te sneak.  Ek weet ek mag hier wees, maar weet nie of hulle weet nie.  Ek is nie lus vir tydmors nie.

Die kus hierrond is baie rotsagtig.  Ek kan nie daar loop nie en word geforseer om in die sagte sand tweespoorpaadjies te loop net agter die rotse.  Die paadjies is lanklaas gery.  Dis uitputtend om so te stap.  Duin op en duin af, terwyl jou skoene wegsak in die sand.  Ek is dankbaar vir die selfgemaakte kamaste wat ek aan het en die sand uit my skoene hou.

Ek het nog nie een Oystercatcher gekry in die hele strook van maklik 10km wat ek al gestap het nie.  Ek weet nie of dit is as gevolg van die mynaktiwiteite of die mense se geryery op die strand nie.  Oystercatchers broei in die somer op die strande en as die mense die eiers stukkend ry, is daar nie `n volgende geslag nie.  Dit is `n hartseer saak.  Die kus lyk dood.
Ek weet nie wat vandag aan die gang is nie.  Dis nie dat daar fout is met my bene nie, maar dit voel of ek net nie aan die gang kan kom nie.  Alles gaan stadig verby – die tyd en die kilometers.  Dit voel of ek al lankal klaar moes gewees het.  Maar ek is nog nie eens halfpad nie...

Ek het geweet my kop gaan die grootste uitdaging wees...

Sterk staan Kosie...

En toe kom ek op die heining af.

Ek sit my sak neer. Net vir `n tydjie.  Ek is omgekrap.  Koning Vincent kon my maar gewaarsku het.

Ek stuur vir my pa `n boodskap op die statelietfoon.  Hy probeer my moed inpraat.  Ek tel my rugsak op en begin pad toe stap.  Al langs die draad op. Vier ekstra kilometers.  Die grootste gedeelte van die pad verder het in `n blur verbygegaan.  Uiteindelik het ek oor `n lae heininkie geklim en op die teerpad gestaan. 



Dankbaar. 

Vergeet van die vier ekstra kilometers.  Nou is ek weer terug op my oorspronklike dertig vir die dag.  `n Meerkatskedel langs die pad het gesorg dat my gemoed verbeter.  Ek tel dit op en sit dit versigtig in my rugsak.  `n Herinnering aan `n moeilike dag se stap.  Langs die draad wei vyf volstruise wat my groot oog aankyk.  `n Swartkorhaanmannetjie langs die pad vlieg verskrik op, sweef `n entjie en plof anderkant die draad neer.  By twee geleenthede kry ek rooipensskilpadjies tussen die bossies langs die pad  Die Here weet wat ek nodig het.  `n Bietjie afleiding.  Verwondering oor God se pragtige skepping. 

Die laaste vyf kilometer vandag was toe nie so erg nie...

My pa ry verby.  “Amper daar!”

Hy het my kom haal.  Ons ry terug Brazil toe.  Ek slaap vanaand by my ouers.


Vrydag 15 Des 2017

Die wind waai al weer kliphard van voor af.  My pa het my nou net afgelaai by die plek waar hy my langs die pad gekry het.  Ek klim oor Swartduine se hek nr. 5 en kies koers met `n goeie grondpaadjie see toe.  Ek het die vorige nag `n goeie nagrus ingekry en voel vanoggend vars en sterk.  Met nuwe moed.




Na `n kilometer of twee begin my enkel weer pla.  Ek het hom gister nie gevoel nie en het gehoop dit is iets van die verlede.  Maar hier is dit al weer...  Gelukkig is die tweespoor-paadjie waarop ek loop `n goeie een.  Ek kan weer nie heeltemaal by die kus uitkom nie.  Dis nog steeds baie rotsagtig.  Om myself te spaar het ek besluit om die paadjie agter die duine te kies.  Ek is eintlik spyt daaroor, want hierdie gedeelte staan bekend as die Shipwreck Coast en ek was opgewonde om `n paar skeepswrakke langs die pad te sien.  Hopelik kan ek binnekort weer langs die strand stap.



Die omgewing raak egter al sanderiger.  Voor my strek eindelose duine tot by die horison.  Die lekker tweespoorpaadjie het intussen ook verander in `n dik sandspoor.  Elke tree tap jou energie.  Hier is ook nie veel afwisseling nie.  Net `n paar donker bossies en die spierwit sand wat die son se strale weerkaats.  Dankie tog vir my sonbril.

Vandag gaan `n lang dag wees...  Dit voel of ek nie vorentoe kom nie.  Behalwe vir die dik sand wat `n mens terughou zig-zag die paadjie deur die duine en voel dit of jy twee keer so ver stap.  Niemand ry ooit hier nie.  Selfs `n trekker sal vas sit.

`n Steenbokkie wat oor die pad hardloop gee nuwe moed.  Ek kyk dit agterna, terwyl dit ligvoets oor die duin verdwyn.

Maar na `n tydjie raak die duinepad net te veel.  Ek kom nie vorentoe nie en ploeter net aan.  Dis besig om my te breek.  Ek sal vinnig `n ander plan moet maak...

Ek besluit om Oos te hou.  Teerpad se kant toe.  Ek weet nie presies hoe ver dit is nie, maar ten minste is daar hoop aan die anderkant van die tonnel.  Vorentoe kan die duine nog vir dae so aangaan...  En ek kan tog nie by die kus uitkom om my navorsing te doen nie.  Tot dusver het ek nog geen plastiekbesoedeling gesien nie en die laaste Oystercatcher wat ek gesien het was `n paar dae gelede.

Met nuwe moed kies ek koers hoofpad toe. 



Vyftig meter voor ek by die teerpad uitkom, ry my pa se bakkie voor my verby in die rigting van Koiingnaas.  Ek stop.  Ek wou eintlik so graag met hulle gepraat het.  Net `n aanmoediging sou great gewees het... Ek kyk hulle agterna tot hulle in die hittegolwe op die pad in die verte begin bewe.  Ons het die vorige aand afgespreek dat hulle sou kyk of hulle êrens in Koiingnaas toestemming vir my kan kry om my tent op te slaan.
Intussen stap ek maar aan.

Dis nog `n hele entjie Koiingnaas toe.  Maar daar is darem weer afwisseling.  Op die horison sien ek `n paar volstruise. 

Voor my, op die gruisskouer van die pad, sien ek beweging, `n Meerkat.  Dit verdwyn tussen die bossies.  Met my oë op die plek waar ek dit laaste gesien het, stap ek stadig nader.  Ek gaan sit naby die gate in die grond en wag.  My kamera gereed.  Ek eet ook ietsie.  Die wind waai gelukkig na my toe.  Die meerkatjies sal my nie ruik nie.  Na `n rukkie verskyn `n neusie, toe `n koppie.  Later staan dit op sy agterpootjies in die gat.  Groot oog.  Die koppie draai heen en weer.  Ek lyk nie soos `n mens nie.  My sittende houding, hoed en rugsak kamoefleer my gestalte.  Ek is net iets onbekends.  Nie `n gevaar nie.  Alhoewel die meerkatjie onrustig rondkyk is sy fokus nie op my nie.  Ek kon `n paar oulike fotos neem.
So maklik kan `n mens te gemaklik raak.  Wil jy sommer net bly sit.  Aan die slaap raak...
Maar ek moet aangaan.  As my spiere eers koud is, is dit `n gesukkel.





My pa laat weet my ek kan by Die Ankers gastehuis in die agtertuin my tent opslaan.  Hulle het my kos vir die volgende dag daar binne by Lizzie gelos.  Ek moet nie die buite water drink nie.  Hulle het water vir my binne.  Hulle het ook die roete wat ek moet stap vir my gestuur, sodat ek nie onnodig in die dorp ronddwaal nie.


Ek kan nie wag om by die plek uit te kom nie.  My bene pyn nou al `n hele tydjie.  Ek is bekommerd oor die ligte shinsplints wat ek in my linkerbeen voel.  Hopelik raak dit nie erger nie en is dit net tydelik as gevolg van die moordende tog deur die duine.  Ek trek my spesiale kouse aan.  Ek kan al die groot mynhoop, wat teenaan die dorp lê, sien.  Die diep gate en slote in die grond langs die pad wys dat die myn nie te ver kan wees nie.

Oom Johan Steenkamp stop langs my.  Hy het gesien hoe moeilik ek stap en kry my jammer.  Wil ek nie maar `n lift hê dorp toe nie.  Hy het my ouers daar gesien. 
Dis nog drie kilometer.

Ek kan nie.  Dit voel soos cheating.  Ek moet my skof klaar stap.

Die mynhoop wil net nie nader kom nie.

Net voor Koiingnaas loop twee sekretarisvoëls in die veld en gee my weer nuwe moed en iets om aan te dink.  Dis baie keer die ergste.  Alleen wees met jouself...

Ek het later gewens ek was alleen...  Elke nou en dan het `n torretjie, wat lyk soos `n monkey beetle op my kom sit.  So groot soos `n 10c.  Ek weet nie of hulle `n mens byt of dat dit hulle pootjies is nie, maar dis vrek seer.

Teen hierdie tyd voel dit al of my shins aan die brand is.  En die pad kry net nie end nie.
Waar die booms vroeër was, daar waar `n mens indraai na Koiingnaas toe, is die pyn in my enkel en shins al so ondraaglik dat ek nie weet hoe ek by die gastehuis gaan uitkom nie.  Om nie eens te praat van môre of die dae daarna nie.

Ek strompel voort.  Dis eers na `n tydjie dat ek agterkom my een stapstok is kleiner as die ander een.  Dit moes êrens gesak het.


Eindelik kom ek by my bestemming aan.  Rus.

By Die Ankers gastehuis is dit egter stil.  Alles is gesluit.  Hier is nie `n Lizzie soos my pa gesê het nie.  Sy is seker weg vir middagete.  Teen die muur is `n bordjie met die woorde: “Alta en `n telefoonnommer”  Ek besluit om te bel.  Niemand antwoord nie.  In die agterplaas kry ek die tuinman.  Hy weet van my en beduie waar ek my tent kan opslaan.  Die tuinman se een oog is heeltemal wit en die ander een lyk skeel.  Weet nie hoe hy sy werk kan doen nie...  Hy belowe om gou vir tannie Alta te bel.  Intussen slaan ek solank my tentjie in die agtertuin op.  Tannie Alta bel my terug en laat weet my sy sal vier uur daar wees.  Dis eers oor `n tydjie.  Ek gaan sit op `n bankie in die agtertuin om bietjie verder te lees in my boek “Around Africa on my bicycle”.  Riaan Manser kry ook maar swaar.  Dieselfde kopstryd wat ek het, het hy ook gehad op sy fietstog om Afrika.  Dit laat my beter voel.

Die tuinman hoes asof hy TB het.  Dis `n goeie ding, want dit beteken hy lewe nog.  Hy lê hier rond asof hy dood is...

Drie uur is tannie Alta daar.  Sy wil niks weet van `n geslapery in `n tent in die agterplaas nie.  Ek kan gratis in die gastehuis slaap.  My eie kamer en stort.  En koeldrank.  Ek weet nie hoe om dankie te sê nie...



Dis asof al die moegheid, moedeloosheid en pyne van die dag saam met die water van my lyf afgerol het.  Ek stap soos `n nuwe mens uit die badkamer uit.  En gaan kyk bietjie TV op die boonste verdieping.  Na `n tydjie roep tannie Alta my.  Sy het kos gemaak.  Lasagne.  Dit staan reg vir my in die kombuis...

Die Here het `n engel gestuur...

Tannie Alta het net vir my oopgesluit, kos gemaak en weer gegaan.  En my hele gemoed verander...  Dit voel vreemd.  Ek is alleen in die groot huis.

Omdat ek gestort het, het my pleisters afgekom.  Nou is my ma nie hier om dit vir my te doen nie...  Om dit alleen te doen was `n hele gesukkel.  Veral omdat ek nie `n skêr gehad het nie.  Ek moes versigtig wees dat ek nie my tone met `n mes afsny nie.
Ek het vroeg gaan slaap.  Reg vir die volgende dag.


Saterdag 16 Desember

Ek staan op - `n Nuwe mens.  Reg vir nog `n skof.  Die Here het my weer krag gegee om aan te gaan.  My lyf voel sterk.  Bietjie styf... maar die belangrikste is my kop.  Ek het nuwe moed.  Voel sommer goed vanoggend.  Net gou hierdie een kafdraf.  Dan kan ek rus tot Maandag toe.

Ek vertrek 6h00.  Die wind waai al sterk en ek het besluit om vrede te maak daarmee.  Ek kan dit tog nie verander nie.  Dis redelik bewolk en ek kan nie besluit of dit die Malmokkies is nie.  Dit was nou vir `n paar dae afwesig.  Die vrag op my rug is aansienlik swaarder. Die goed wat my ouers vir my by die gastehuis gelos het, soos die tent en my boek, moet ek vandag ook saamdra.

Ek is dankbaar dat die gastehuis `n yskassie gehad het.  Ek het gisteraand game aangemaak en dit oornag in die vriesgedeelte gesit.  Nou is dit lekker slush puppy.  Ek kan nie wag om dit te drink nie.

By die stopstraat aan die einde van die dorp staan `n troppie springbokke om my vaarwel te sê en `n goeie reis toe te wens.  Alexanderbaai het sy gemsbokke wat in die dorp wei en Koiingnaas sy springbokke.



Dit lyk of vandag `n redelike op en af pad gaan wees.  Sover ek kan sien is dit net bulte tot by die horison.  Darem grondpad tot in Hondeklipbaai.  Nie duine nie.

Na `n tydjie stop twee ereveldwagters van Namakwa Nasionale Park in hul bakkie by my.  Dudley en Alta Wessels.  Hulle het bietjie uitgevra oor my roete en gevra of ek al van Grant Christie gehoor het.  Ons het juis kontak met hom gehad toe ons navorsing gedoen het oor die stap.  Hy is `n ingenieur wat moeg geraak het vir die rat race.  Hy het reg om Suid-Afrika se kus gestap. Hy het dit 6 Million Steps genoem.  `n Ongelooflike reis. As ek reg is het hy kuier-kuier gestap en `n hele paar maande gestap tot in die Kaap.  Ek het nie daardie luxury nie.  Ek het net veertig dae.  Hy het ons sterk afgeraai om 30km per dag te stap en ook om dit te doen met die ligste vrag moontlik.  Ander avonturiers wat ons gekontak het, het almal dieselfde gesê – 20-25km per dag.  Ligte vrag.  Ek het egter geen ander keuse nie. 




Na twee ure kom ek agter dat ek so in gedagte was dat ek nie baie gevorder het nie.  Wat dalk `n goeie ding is, want my bene voel beter.  Dis maar goed my ma weet nie waaroor ek alles gedink het nie.  Sy sou die piep gekry het – ek is al klaar besig om my volgende trip te beplan...  maar dis nog eers `n geheim.

Dit wys hoe goed my gemoed is...


Skielik het twee rooi hartebeeste voor my in die pad verskyn.  Ek weet nie waar hulle vandaan gekom het nie, maar hulle sukkel om oor die draad te klim.  Hulle draf kort-kort voor my uit.  Lekker interessante geselskap.  Ek voel soos `n skaapherder wat my vee dorp toe jaag – tot in Hondeklipbaai.  Ek wonder wat sal die mense sê as ek so daar aankom...



Gewoonlik as ek in die grondpad af stap en motoriste sien my,  ry hulle stadiger en aan die anderkant van die pad sodat die stof nie te erg is nie en die klippe my nie tref nie.  Twee polisie vans is nou net `n meter of twee van my verby sonder om selfs spoed te verminder of te waai.  Ek dink nie ons besef watter geweldige motivering dit vir `n stapper of fietsryer is as `n motoris vir hom toet of waai nie.  Soos `n vriendelike “hallo” of sterkte. 

Naby Hondeklipbaai, stop `n polisieman langs my.  Hy wil weet of ek OK is en of ek slaapplek het vir die nag.  Ek dink darem nie hy sou een van die selle aangebied het nie.  Daarvoor was hy te vriendelik...

By die ingang van die dorp het ek in die skaduwee van `n klompie borde en tekens gaan lê.  My pa is nog nie hier nie.  Hy moet my vanaf Varswater kom haal.  Ongeveer `n uur en `n half se slegte grondpad tot hier.  Ek gee nie om om te wag nie.  My naweek het aangebreek.  Ek kan nou bietjie rus.



Dankie Here dat u vir my so baie dinge van myself geleer het.  Dankie dat u vir my beskerm het en my nuwe moed gegee het om aan te gaan. 

Dankie dat u vir tannie Alta wou gebruik het.

My engel.







1 comment:

  1. Hello Everybody,
    My name is Mrs Sharon Sim. I live in Singapore and i am a happy woman today? and i told my self that any lender that rescue my family from our poor situation, i will refer any person that is looking for loan to him, he gave me happiness to me and my family, i was in need of a loan of $250,000.00 to start my life all over as i am a single mother with 3 kids I met this honest and GOD fearing man loan lender that help me with a loan of $250,000.00 SG. Dollar, he is a GOD fearing man, if you are in need of loan and you will pay back the loan please contact him tell him that is Mrs Sharon, that refer you to him. contact Dr Purva Pius, Email urgentloan22@gmail.com call/whats-App Contact Number +918929509036 via email:Thank you.

    ReplyDelete