Tuesday 19 December 2017

Die Heilige Gees: Dinsdag 19 Desember

Lees: Gal 5:25: “As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel” (OV)

Daar is iets geheimsinnigs aan die Heilige Gees. In die Bybel leer ons op die oog af baie meer van God die Vader en die Seun.  Ons bely dat die Gees, saam met die Seun en die Vader een Drie-enige God is.  Ons weet egter dat as daar met die Gees gedweep word, dit gou kan verval in ‘n vae mistiek en ‘n self-regverdiging sonder Christus. Om daarom liewer nie oor die openbaring van God in die Gees te wil dink of praat sou egter ‘n groot fout wees.  In die teksvers word ons opgeroep om in die Gees te lewe en te wandel, maar Wie is die Gees?

Die Bybel gee vir ons ‘n verklaring vir die Gees se terughoudenheid. In Johannes 16:13 lees ons dat die Gees nie uit Homself spreek nie, maar gekom het om ons in die waarheid te lei.  Die Gees is daarom wel deeglik aan die werk: die Gees bly ons herinner aan alles wat Jesus gesê het (Joh 14:26), bly ons verbind aan Christus (1 Joh 4:13) en hou ons in gemeenskap (2 Kor 13:13).  Die Gees getuig verder in ons harte dat ons kinders van God is (Gal 4:6), stry in ons lede teen die sondige vlees (Gal 5:17), bewerk geloof in ons harte, lei ons in heiligmaking, tree vir ons in in ons gebede (Rom 8:26) en bring eenheid in die kerk. So is daar nog baie voorbeelde.

Wat egter al te maklik misgekyk word is die Gees se noue betrokkenheid by die skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld.  Alles wat leef kom van die Gees. In Ps 33:6 lees ons: “Deur die Woord van die Here is die hemele gemaak, en deur die Gees van sy mond hulle hele leër”. Net so verwys Ps 104:30 na die Gees wat uitgestuur word om lewe in die natuur te skep.  Job getuig verder dat die Gees van God hom geskape het en dat die asem van die Almagtige God hom lewend maak (Job 33:4, 27:3).  Mens en dier het dieselfde asem van die Gees, skryf Prediker, en alles keer na stof toe terug as die Gees na God terugkeer (Pred 3:19-20, 12:7; Job 34:14-15). Die Gees gee ook wysheid en vaardighede om die werk te kan doen wat God vir ons toeberei het (bv. Ex 35:31-32; 2 Sam 23:2; 1 Kon 7:14; Jes 28:26). Net deur die werk van die Gees kan God se onsigbare dinge vir almal in sy werke gesien word (Rom 1:20).

Die Gees beweeg – net soos die wind waai hy waar hy wil - en kan nie in ons mense se rigiede denkraamwerkies vasgepen word nie.  Christus is eers deur die Vader as eersteling aangeneem, maar nou is daar ‘n beweging van die Gees aan die gang om die volle oes in te bring. Die voleindiging is nou elke oomblik van ons bestaan al besig om werklikheid te word!  Die werk van die Gees loop elke dag al daarop vooruit.  Ons moet in beweging gebring word, van gedaante verander word (2 Kor 3:18), op pad na ‘n verheerlikte nuwe hemel en nuwe aarde.  Daar is geen tyd om te verloor nie. Christus het nie verniet gesterwe nie, sê Paulus (Gal 2:21).  Hierdie beweging kan net in die Gees gebeur en nooit in ons eie menslike krag nie (Gal 3:3).  Hierdie verlossing en vernuwing sluit die skepping in.

Alles wat leef kom van die Gees. Die Gees is voortdurend aan die beweeg. Om te lewe is om te beweeg.  Wie wil nie deur so ‘n Gees leef en in Hom wandel nie?

Sing: SB 14:1,2

Refleksie: Die Gees werk in jou en in die hele skepping. Die asem van alle lewe kom van die Gees af. Die Gees bly in beweging na die ewige doel toe. Hoe verander dit jou siening ten opsigte van God se skepping en die wêreld waarin jy leef?

1 comment:

  1. Hello Everybody,
    My name is Mrs Sharon Sim. I live in Singapore and i am a happy woman today? and i told my self that any lender that rescue my family from our poor situation, i will refer any person that is looking for loan to him, he gave me happiness to me and my family, i was in need of a loan of $250,000.00 to start my life all over as i am a single mother with 3 kids I met this honest and GOD fearing man loan lender that help me with a loan of $250,000.00 SG. Dollar, he is a GOD fearing man, if you are in need of loan and you will pay back the loan please contact him tell him that is Mrs Sharon, that refer you to him. contact Dr Purva Pius, Email urgentloan22@gmail.com call/whats-App Contact Number +918929509036 via email:Thank you.

    ReplyDelete