Thursday 21 December 2017

Koninklike klere: Donderdag 21 Desember


Teks: Ps 104:1-2: “Loof die HERE o my siel! HERE my God, U is baie groot! Met majesteit en heerlikheid is U bekleed – wat Uself omhul met lig soos met ‘n kleed, wat die hemel uitspan soos ‘n tentdoek” (OV)

Somtyds kan die indruk geskep word dat God en die natuur sterk van mekaar geskei moet word. Die natuur word dan gou as iets minderwaardig ten opsigte van God en mens gesien. Hierdie Psalm praat egter baie duidelik ‘n ander taal; dit is ‘n lofsang op God se skepping en voortdurende sorg vir die hele skepping.

Die Verbondsgod, Jahwe, die God van Israel, word hier geloof as Koning, as heerser oor die skepping, oor alles wat bestaan.  Die woorde “groot” en “majesteit” dui op sterk koninklike taal en kom uit die antieke Hebreeuse begrip om iets te omsirkel of te bedek oor ‘n groot gebied.  Figuurlik word in ons teks gesê dat God omhul is met lig soos wat ‘n Koning sy mantel dra wat oor die enorme gebied van die hele skepping uitgespan is.

Die koninkryk van God gaan nie net oor mense nie, maar oor die hele skepping. God se koningskap en sy regering is baie nou met die hele skepping verbonde (sien ook Ps 103:19). Jesus self het ons tog leer bid: “Laat U koninkryk kom…soos in die hemel net so ook op die aarde”? (Mat 6:9-10). 

Die lofsang is gerig op die Koning, nie op die skepping self nie. Ons kan nie by die skepsel bly nie, maar moet die Skepper en Onderhouder die nodige eer bring.  Saam met die psalmis mag ons onsself verlustig oor God se koninklike grootsheid, prag en heerskappy oor die skepping. God die Koning mag geken word aan sy werke in die hele skepping en in die onderhouding en regering van die hele wêreld. Jy moet werklik blind wees om nie God in die natuur raak te sien nie, het Spurgeon ooit geskryf. Om te dink dat wat ons sien in die hemele nog maar net die lig van ons Koning se mantel is! Die son, maan en sterre is nog maar net Sy kleed! Inderdaad, U is baie groot, Here! (vers 1).  

Christene kan maklik veels te stil en selfbehep word: Is ek wel gered? Gaan ek hemel toe? Is my geloof wel genoegsaam? Sulke vrae maak ons al te gou selfsugtig en inwaarts gerig.  Ons is dan op onsself gerig en die diens aan God word verlaag tot ‘n vorm van sielkunde. Die skepping word dan maar net iets wat as dekor dien op ons pad na die hemel toe. 

Christene kan ook gou nuuskierig word na die Koning sonder sy kleed. Hoe dwaas is dit om God nou al in sy naakte majesteit te wil sien! (Calvyn). Vol met mistieke fantasie is ons dan gerig op ‘n “ontoeganklike lig” (1 Tim 6:16) en sluit ons onsself af vir God se openbaring aan ons in die skepping.

Sien ons nog God in die skepping? Maak ons nog tyd daarvoor? Sterker nog, glo ons nog dat dit werklik noodsaaklik is? Niks minder as God se eer is op die spel! Die observering en bestudering van God se skepping kan gewoon nie anders as om lof aan die Koning voort te bring nie.

Laat ons nie ophou om ons oë met alle waardigheid op ons Koning gevestig te hou nie. Daarvoor is die skepping is ‘n uitstekende plek om dit te bly doen.

Sing: Ps 104:1,2

Refleksie: Waarop is jou oë gerig? Sien jy nog die Koning in sy goeie Skepping?

1 comment:

  1. Hello Everybody,
    My name is Mrs Sharon Sim. I live in Singapore and i am a happy woman today? and i told my self that any lender that rescue my family from our poor situation, i will refer any person that is looking for loan to him, he gave me happiness to me and my family, i was in need of a loan of $250,000.00 to start my life all over as i am a single mother with 3 kids I met this honest and GOD fearing man loan lender that help me with a loan of $250,000.00 SG. Dollar, he is a GOD fearing man, if you are in need of loan and you will pay back the loan please contact him tell him that is Mrs Sharon, that refer you to him. contact Dr Purva Pius, Email urgentloan22@gmail.com call/whats-App Contact Number +918929509036 via email:Thank you.

    ReplyDelete