Tuesday 12 December 2017

Lewende legendes van Port Nolloth

George Moyes lyk soos `n hedendaagse pirate.  Nie modern nie.  Daarvoor is hy te verslons.  Hedendaags. 


Ek het hom dadelik herken toe hy in die straat opgestap gekom het reguit na ons toe. Sy lang toiingrige grys hare, verflenterde klere en onuitblusbare gees en liefde vir die lewe maak hom anders hier op Port Nolloth.  Jy voel sy energie.  Sy passie vir die lewe.  Daardie selfde lewe wat hom al `n hele paar klappe gegee het.  Daarvan getuig die lang litteken skuins oor sy gesig waar die propeller hom getref het.  Hy is ook nie skaam om daaroor te praat nie.  Dit het `n moordende rit vanaf Doringbaai na Lutzville gekos waar sy gesig weer aan mekaar gesit is.  Vyf en veertig steke...  Maar die migraines het vreeslik gepla daarna.  Toe die dokter ondersoek instel kom hulle agter stukke glas van sy duikbril sit agter die steke vasgewerk.  George kan lag daaroor.  In die sewentig jaar wat hy nou al leef, het hy geleer om baie te verwerk.  Die lewe as diamantduiker is hard.  In die tagtiger jare, sy wilde jare, het Lynn, een van sy vriendinne die pad gevat toe hy uit was op see.  Sy is met 52 karaat diamante in sy kluis vort - London toe.  Daar het sy dit verkoop vir £80 000.  Hy haal sy skouers op.  Aardse goed... Dis die lewe.


“You look good for a guy who has just walked from Alexander Bay...” was sy eerste woorde.  Sjoe, maar die storie loop vinnig.  Die mense hier weet al van Jacobus.  Ons het nou net in Port Nolloth aangekom en die dorp se “legend” wag ons in.  Ons praat bietjie oor Jacobus se stap.  Toe raak hy skielik haastig.  Ek moet `n draai by hom kom gooi by die museum waar hy kurator is en ook by sy huis, waar hy `n klomp goed vir ons wil wys...  Vandag is Saterdag... ons maak `n afspraak vir Maandag.

Sy laaste woorde aan my was: “Tell your boy:  You can only get the strength from above to walk that far...”  Hy stap so `n entjie weg en doen `n paar danspassies op die maat van die musiek wat deur die wind van die hawe se kant af na ons aangedra word.  Ek kan nie wag vir Maandag nie...



Maandag was die museum waar George werk, toe. “Gone home – George”.  Die hoe hy werk.  As `n mens die legend van die dorp is en sewentig daarby, mag jy seker maar.  Sy dogter hanteer deesdae saam met hom die museum.  Gelukkig weet ek waar hy woon.  Dis in elk geval waar ek hom wou ontmoet, want hy het gesê ek moet sy “desalination plant” sien.  Voor sy “shack” op die strand het hy sy eie manier geprakseer om varswater uit seewater te kry.  Deur osmose. Met `n sonpaneel en seebamboes, sand en skulpe as filter.  Dit lewer ongeveer 100L per dag.  Oorgenoeg vir een mens.  Dit lyk in elk geval nie of ou George te veel water nodig het nie...

George is `n wonderlike mens en hy KAN stories vertel.  Die een na die ander.  Sonder ophou.  In my vind hy `n kameraad wat weet waarvan hy praat.  Stories oor genl. Maritz en Smuts van die Anglo-Boereoorlog, Robey Leibbrandt, Eerste Wêreldoorlog en skeepswrakke.  Maar die interessantste bly maar sy duikstories.  Hy het `n boek geskryf oor sy ondervindinge en die wêreld van die diamantduiker.

`n Jong mannetjie stap verby strand toe.  Hy ken vir oom George.  Daar is respek vir die ou man.
“Al iets gevind?” vra oom George.
“Nog nie oom.”
“Ek hoor hier is manne wat groot geskep het...”

Ek vra uit.  Blykbaar is hier `n man op die dorp wat vreeslik swaar gekry het.  Hy het te min diamante gevind en groot skuld gemaak – honderde duisende.  Uiteindelik kon hy sy boot nie meer onderhou nie en was hy vir drie jaar sonder werk.  Hy het gelewe van scrap metal en bedel by die Spar.  `n Paar manne nader hom toe en sê hulle dink hulle weet waar diamante is, maar hulle het nie `n boot nie.  Hulle sal die reperasies aan sy boot voorskiet.

So gesê, so gedaan en na `n tydjie is hulle Oranjeriviermond toe.  Dis nie maklik om hier in die see te myn nie.  As gevolg van die rivier kan die sand soms tot 6m bo die diamantdraende gruis lê.  Dit veroorsaak dat die pype soms verstop raak en soos `n dik wors onder die water lê wat niemand kan roer nie.  Dan moet dit eers diepsee toe gesleep word sodat die pyp kan afhang ondertoe.  Daar word die gruis en sand dan stukkie vir stukkie uit die pyp gekap of gesuig.  Frustrerend en tydrowend.  Na dit het hulle nog vir twee 2 uur sessies onder water gemyn... en die jackpot geslaan!  780 karaat diamante.  Goeie, groot diamante.  Die bedelaar het sy skuld betaal en weggestap met ongeveer R2 miljoen.  
Dit het nou onlangs gebeur...

Dinge kan gou verander hier in Port Nolloth. Goed of sleg...


Dit was tyd om die “cool” oom (soos die kinders gesê het) te groet.
“I like what you are doing, my brother” het die legend vir oulaas vir Jacobus gesê.  “Keep up the good work.”

Ek glo dat die Here ons paaie so gelei het dat ons by “Secret Place” laat uit kom het.  In Junie maand toe ek en Jacobus die roete per motor ondersoek het, het ons laatmiddag in Port Nolloth aangekom, met die idee om hier te kamp.  Maar hier is nie `n kampeerplek nie.  Ek het ook nie te veel geld gehad wat ek kon blaas nie, want `n hele Namibië-toer in die volgende twee weke van die vakansie  het nog voorgelê.


Ons was eintlik raadop.  Vir Marthie en Burt Smit van “Secret Place” was dit nie `n probleem nie.  Hulle help graag.  Toe hierdie kinders van die Here die rede vir ons besoek aan Port Nolloth gehoor het, was hulle vuur en vlam.  Ons moet definitief gedurende Jacobus se groot stap daar kom bly.    Wow!  En het ons nie lekker daar gebly nie...  Dit was fantasties.
Baie dankie Marthie en Bertie.  Julle is wonderlike mense.  Nie net vir dit wat julle vir ons gedoen het nie, maar ook vir die ongelooflike opheffingswerk wat julle doen in die gemeenskap.  Die manier waarop julle jul lig laat skyn in Port Nolloth is `n voorbeeld vir almal.  Mag die Here al julle projekte seën en julle help om in alles God se Blye Evangelie uit te dra.




1 comment:

  1. Hello Everybody,
    My name is Mrs Sharon Sim. I live in Singapore and i am a happy woman today? and i told my self that any lender that rescue my family from our poor situation, i will refer any person that is looking for loan to him, he gave me happiness to me and my family, i was in need of a loan of $250,000.00 to start my life all over as i am a single mother with 3 kids I met this honest and GOD fearing man loan lender that help me with a loan of $250,000.00 SG. Dollar, he is a GOD fearing man, if you are in need of loan and you will pay back the loan please contact him tell him that is Mrs Sharon, that refer you to him. contact Dr Purva Pius, Email urgentloan22@gmail.com call/whats-App Contact Number +918929509036 via email:Thank you.

    ReplyDelete