Saturday, 23 December 2017

Brace yourselves... An action-packed update from Jacobus

Why are you chasing him away

Die ouerig omie kom aangestorm.  So vinnig soos sy bene hom kan dra.  Met nog twee mans agterna.  Van ver af val hy oor sy woorde.  Hakkel hy van kwaadheid...
“Why are you chasing him away?”
Hy wys na my.
My weldoener is woedend.  Wie gee hulle die reg?
Ek bevind my in `n vreemde situasie.  Iets wat `n tydjie gaan vat om te verduidelik...
Maar wag.  Ek loop my verhaal vooruit.  Laat ek voor begin.


Maandag 18 Des 2017

Vanaf Hondeklipbaai tot die mond van die Spoegrivier by Mitchellsbaai, behoort aan West Coast Resources.  Myngebied.  Verbode terrein.  Ek het nie toestemming om daar te loop nie.  Ek moet dus padlangs binneland toe na die Namakwa Nasionale Park se hek en dan weer in die teenoorgestelde rigting terug see toe.  `n Hengse ompad van maklik dertig kilometer.

My pa besluit om my eerder by die Spoegriviermond af te laai.  Ek kan van daar af verder kuslangs loop.  Alhoewel `n mens in die Namakwa NP mag rondloop, het ons eers toestemming gekry by oom Piet Schreuder, veldwagter van die Namakwa om deur die park te trek.  Hy het glad nie `n probleem gehad nie, solank ek net nie wildkamp nie.  Ons het egter my stap so beplan dat my ouers by Varswater kamp, presies dertig kilometer van waar ek begin het.  Ek slaap dus in die park, maar met toestemming.

Terwyl ek van `n hoë sandduin af beweeg na die strand toe, besef ek vir die eerste keer dat die wind ophou waai het.  Vandat ek begin stap het, Vrydag 8 Desember, het die wind nog aan een stryk gewaai.  Reg van voor af.  Natuurlik met afwisselende sterkte, maar hy was heeltyd daar.  

Die getye speel ook vandag saam.  Hoogwater is eers teen drie-uur vanmiddag se kant.
Die kus hier rond is maar rotsagtig, wat die stap baie bemoeilik.  Dit is nie rotse waarop `n mens kan loop nie.  Regte klouter-rotse.  Daardie soort wat jy loop as jy van rotspoel na rotspoel soek.  Beenbreek rotse as jy nie oppas nie...  Ek kan nie daardie kans vat nie.  Die sandbaaitjies tussen-in is ook maar klein en yl verspreid.  Ek hou op die dowwe spoorpaadjie al langs die kus langs.  Van hieraf kan ek die rotse goed dophou vir Oystercatchers.

Ek het gisteraand een van die blase op my voet oopgestamp teen `n klip.  My ma het dit dadelik met bactroban salf  behandel.  Ek hoop nie dit gaan vir my probleme gee vorentoe nie...

Die paadjie is maar sanderig en kronkel heen en weer saam met die baaitjies.  En op en af saam met die duine.  Ek vorder maar stadig.  Maar ek stap lekker.  Die omgewing is pragtig en die gedreun van die see regs van my herinner my heeltyd hoe bevoorreg ek is om hier te kan wees.  In my Vader se tuin.

Die vars reuk van die see en bossies in die oggend was egter net van korte duur.  Lank voordat ek hulle gesien het, het die ligte windjie wat van vooraf begin waai het, die onmiskenbare reuk van `n robkolonie na my toe aangebring.  Of dit `n kolonie was, of net `n paar wat bietjie gerus het op die rotse weg van die vasteland, weet ek nie, maar hulle het hul bes gedoen om almal te laat weet hulle is daar...

Volgens die kaart is ek nou net verby Policeman`s Helmet.  Ek het `n vreemde rots gesien, maar nie veel daarvan gedink nie.  Dalk is die plek daarna vernoem.

Ek volg nou die wildsbokke se voorbeeld en stap op die middelmannetjie van die tweespoorpaadjie.  Alhoewel dit nie altyd gelyk is nie, is die sand hier darem bietjie harder.  Die spore is groter as steenbokkies s`n en kleiner as die van gemsbokke of rooihartebeeste wat hier voorkom.  Seker vaalribbokke.  Ek het enetjie gisteraand op die horison by Varswater gesien.  Dit het so `n tydjie vir ons gekyk.  Oortjies gespits.  En toe net so vinnig verdwyn soos dit verskyn het.

`n Mens kan so maklik die mooi dingetjies in die natuur mis as jy nie oplet nie.  Nie oop is vir die dinge wat die Here vir jou wil wys nie.  Selfs in vakansietye in die natuur is ons so besig met onsself, ons plesier en ontspanning, dat ons selfs op die tye wat ons rus, nie oog het vir die spesiale dinge rondom ons nie...

Die dik sand gee my egter nie kans om te veel te filosofeer nie.  Dis erg.  Seker die dikste in die park.  My kuite brand al.  `n Uur en `n half deur dik, dik sand is nie `n grap nie.  Verskeie mense het vir my voor die stap gesê dat die eerste gedeelte van my stap swaar gaan wees. Dat my liggaam gewoond gaan raak daaraan en dat ek dan in `n ritme gaan kom.  Makliker gaan stap...

Ek is nog nie daar nie.  Dit is dalk as `n mens teerpad langs stap...

Ek was fiks toe ek begin het.  Dis nie die probleem nie.  Dit is hierdie moordende sand wat dreig om jou elke keer onder te kry.  Dis `n kopding.  Ek weet ek moet net hierdeur kom.  As ek net anderkant kan uitkom.  My spiere herstel vinnig.  `n Bietjie rus om water te drink en ek is weer reg om aan te gaan. 



Die ergste is egter wanneer jy verkeerd stap.  Hier is so baie paadjies wat mekaar kruis, dat ek nie altyd seker is watter een die beste is nie.  Ek het nou net die verkeerde een gevat en by `n kampeerplek aangekom.  Hier staan ongeveer sewe motors by mekaar.  Dis net tente waar jy kyk. Volgens my kaart moet dit dan seker Boulderbaai wees.  Die pad stop hier by die kampeerplek...  Nog net `n klein entjie tot  by die robkolonie.  Maar dit beteken ek het verkeerd gestap en moet eers `n hele entjie terug voor ek by die regte paadjie uitkom.  Maar hoe gaan ek weet watter een is die regte een.  Dit lyk of hulle almal binneland toe gaan...

Uiteindelik is ek weer by die kus.  Ek voel net meer gerus as ek die see langs my hoor.  Dan weet ek ek stap in die regte rigting en nie onnodige draaie nie.  Ek is nou net verby `n fonteintjie met varserige water.  Vars genoeg dat daar riete naby groei.  Hier lê `n klomp spore.  Veral bokspore, maar ook `n groterige hondespoor.  Waarskynlik `n jakkals.  Ook rooikatmis.  Dit is jammer dat ons nie `n spykamera hier kan opsit nie.  Dis waarskynlik die enigste plek waar die diere varswater kan kry in die omtrek.

Ek het die laaste stuk omtrent gehardloop.  Op `n stadium het ek gou gestop om water te drink en agtertoe gekyk.  By die fonteintjie waar ek nou net was, het `n swetterjoel motors opgedaag – seker `n toergroep.  As hulle voor my by die robkolonie sou aankom, sal daar nie `n enkele rob meer op land wees nie.  Almal sou al see-in gevlug het.  Ek kan die kolonie al ruik.  Dit kan nie te ver wees nie.  Ek moet voor hulle daar uitkom...


Die kolonie stink verskriklik erg.  Hier is heelwat kleintjies ook.  Pikswart.  Hulle lê op die rotse of kruip weg in die skeure en wag vir hulle mammas om terug te keer.  Mammas wat `n hele klompie weke in die see deurbring op soek na kos en hul kleintjies alleen agterlaat.  `n Paar gelukkiges drink gulsig.  Ander kla soos lammertjies. `n Hartseer, verlore geluid.  Uitgerekte Mêêê. `n Paar lê dood.  Sommiges selfs `n hele entjie die veld in soos hulle vir hulle ma`s gesoek het...  Net die sterkstes oorleef.  Baie van hierdie kleintjies se ouers sal ook nooit terugkeer nie.  Elke nou en dan langs die kus het ek op dooie robbe afgekom.  Volwasse robbe wat gesterf het van die honger.  Te swak om verder te soek.

Jy kan nie anders as om die kleintjies jammer te kry nie.  As hulle so klein is laat hulle `n mens nogal aan labradorpuppies dink.  Dieselfde groot oë ook.  

Ek stap met die hartverskeurende geklaag van honderde swart bondeltjies daar weg...

Anderkant Strandfontein hou die pad by `n groot uitgestrekte sandbaai op.  Dis net sandduine waar jy kyk.  Oëverblindend wit.  Dis lekker om strandlangs te stap.  Dankbaar dat ek nie deur die duine hoef voort te ploeter nie.  Maar dis van korte duur.  Anderkant die strand is daar nie `n paadjie nie.  Net `n riviermond.  Volgens die kaart die Bitterrivier.  Ek boendoe bash al met die rivier op. Erens moet `n pad die rivier kruis.

Plek-plek sak ek tot my enkels in die sand weg.

Uitasem kom ek by die grootpad uit.  Moeg beskryf nie hoe ek voel nie.  Nader aan dood.  Ek voel of ek kan opgooi.



Ek wil nie op die grootpad stap nie.  Hier is te veel motors wat jou spoed breek. Elke keer se stop en uit die pad gaan, breek jou momentum.

Ek voel my regter knie al `n paar dae, maar vandag is dit die ergste nog.  Ek weet nie of dit is van al die diksand wat ek die afgelope dae gestap het nie, maar dis bitter seer.  Ek kan nie my been reguit maak nie.  Soms voel dit jellierig, asof ek nie krag daarop kan sit nie.  Ek hoop nie dit gaan vorentoe baie probleme gee nie...

Stefan van der Watt en Juanita het nou net by my gestop.  Hulle is oppad Hondeklipbaai toe.  Stefan het seker gedink ek is `n uitlander, want sy eerste woorde aan my was: “I`m impressed.  From how far have you gecam?”

Om hom uit sy lyding te verlos het ek maar Afrikaans met hom gepraat.  Hy kon nie glo ek stap al van so ver nie.

`n Tydjie later sien ek `n rob wat op die strand lê.  Ek stap nader om die dooie rob af te neem.  Ek weet nie wie het die grootste geskrik nie, maar toe ek naby is, spring die rob skielik met `n gesnork op en kies koers see toe.

Behalwe robbe het ek vandag nog nie baie diere gesien nie.  Die seevoëls is definitief meer vandat ek uit die myngebied gekom het.  Ek het al heelwat oystercatchers, swartrugmeeue, vaalstrandkiewiete en `n witborsduiker gesien.  Ook `n paar trekduikers by die robkolonie.  In die duine het ek `n paar volstruise gekry.  Heel tevrede om daar in die dik sand te woon...
Eindelik bereik ek Varswater, waar my ouers saam met die Louws, huisvriende van ons, kamp.  My lyf is op.  Gelukkig is my ma daar om die nodige smeerwerk te doen...

Dinsdag 19 Des 2017

Ek is nie vandag lus vir stap nie.  Ek voel dit sommer met die eerste treë wat ek gegee het.  My liggaam is seer en my kop is klaar.  Die onsekerheid waar ek vanaand gaan slaap pla ook.  Ons het Juliemaand hierdie area verken en gisteraand op die kaart gekyk, maar in die vakansietyd lyk dinge anders.  Nou is hier mense wat daar in Julie nie was nie.  En die wind het ook nie so gewaai asof hy jou voete onder jou wil uitwaai nie.  Ek moet `n beskutte plekkie kry, weg van die mense.  Ek het ook  nie bespreek om by die kampplekke te slaap nie.  Ons bespreking is vir Varswater... My slaapplek sal iewers in die duine moet wees.
Die eensaamheid begin my ook nou vang.  Jy is heeltyd met jouself besig.  En dit is nie altyd goed nie.  Dit bly die hele tyd `n stryd met jouself om nie op te gee nie.  My lyf is al so seer en die skaafplekke op my heup voel of dit rou geskuur is.  As my moed min is, vra ek maar die Here om my te help.  Ek weet daar is baie wat vir my bid.  Ek probeer die pyn uit my gedagtes sny.  Drink pille.  Maar dit werk nie altyd nie.  Die begin en die einde van elke skof is die ergste...

Dis sleg.  Daar is niemand om mee te praat nie...  Niemand naby jou nie.  Dis asof ek alleen op die wêreld is.  


So nou en dan is daar bietjie afleiding.  `n Paar slangetjies het al `n entjie voor my oor die pad geskarrel, maar as ek na hulle soek is hulle al weer skoonveld.  Hier is ook heelwat akkedissies.  Van die graafsnoetsoort, gewone akkedissies met rooi sye, koggelmanders en ook `n pragtige een met `n strepieslyf en `n rooistert, wat oom Herman Louw die perdekarretjie noem.  Ek was gelukkig om van een van hulle ook `n foto te kry.  In die duine was daar `n wit koggelmandertjie wat met `n hengse spoed voor my uitgehardloop het. 

Ongelukkig was hulle net te vinnig vir `n foto.

Hier lê baie spore oor die pad.  Veral muishondspoortjies.  Hier kom natuurlik `n hele paar soorte voor.  Ek sien ook heelwat muishond- en meerkatgate en mis.  Ek vermoed die rooimuishond is hier meer volop as die grysmuishond of die kommetjiegatmuishond, want ek hom tot dusver `n paar keer gesien.  Een het daar by Varswater ook kom aas.



Voor my op die strand hou `n swermpie drietoonstrandlopers (sanderlings) my gedagtes `n tydjie besig.  As die water terugtrek hardloop hulle agter die water aan en pik enige diertjies wat uitgespoel het op.  As die water opstoot draf hulle vinnig voor die water uit.  Om maar net weer agter die water aan te hardloop as dit terugtrek.  Besige voëltjies.  Fikse voëltjies...  Hulle werk vir hulle kos.

Ek was nog besig om `n gps-punt te kry van `n klomp bottels wat langs die strand lê, toe ek die hartverskeurende geskree van `n baba rob hoor.  Een swart bondeltjie op die uitgestrekte wit strand.  Niks of niemand naby nie.  Heeltemal alleen.  Onbeskermd.  Verlore.

Daar is altyd iemand of iets wat meer suffer as jy...

Ek het nader gestap.  In sy groot swart oë gekyk.
Ek kon nie help nie...

Die kus raak weer rotsagtig.  Dit dwing my om half skuins teen `n duin langs stap.  Hier is ander mensspore...  Dit troos my darem.  Die paadjie lei dus êrens heen.

Na `n tydjie is ek weer op die grootpad.  Aangesien die wind so sterk waai kan ek nie die motors agter my hoor aankom nie.  Gewoonlik toet die mense net so een of twee keer, maar hier was nou `n ou met `n Hondeklipbaaimagneet op sy motor wat tot reg agter my gery het en toe op sy toeter gelê het.  Ek het omtrent `n besering opgedoen soos ek geskrik het.  Vir hom was dit die grootste grap onder die son.  Ek was woedend.  Lus om my stapstok deur sy voorruit te gooi.  Hy is al laggende daar weg...

Die wind waai nou so hard, dat as ek net `n tydjie rus om water te drink, my spore voor my oë toewaai.  My ore pyn nou al `n hele tyd.  My bril word behoorlik “gesandblast” deur die stofstorm.  Gelukkig kom die sand nie in my oë nie.

Ek is omtrent nog so vier of vyf kilometer weg, maar ek kan darem al die vuurtoring sien.  Dis `n groot troos.  Daar rond moet ek slaap vanaand.

By Delwerskamp is ek gou badkamer toe, toe iemand my roep.  Oom Cor en tannie Anja van Renssen.  Mense wat ons baie goed ken.  My oom se broer.  Oudlidmate van ons gemeente.  Die Here het weer geweet wat ek nodig het.  Mense om mee te gesels.  Omtrent vir `n driekwartier lank.  Lekker koeldrank en spekulaaskoek gekry ook nog.  Dankie oom en tannie.  Julle weet nie wat dit vir my beteken het nie.

Van Delwerskamp is ek met `n privaatpaadjie na die Groenriviermond toe.  Verby `n privaat kampplek waar `n ereveldwagter gebly het.  Ons het bietjie gesels, maar ek was haastig.  Ek wou nou klaarmaak en slaapplek soek.

Gelukkig is die Groenriviermond toe.  Net een lang stuk wit strand tot by die braaiplek vir dagbesoekers aan die oorkant.  Hier is ek met `n langerige hout trappie op.  Moordend op my knieë...

Iemand roep my.  Twee hoërskoolseuns.  Een wit en een swart.  Die wit outjie begin in geradbraakte Engels met my praat.  Maar die swart outjie maak hom vinnig stil.  “Praat Afrikaans man!”  Hulle wil weet of ek die ou is wat die swart voëls tel.  Ek het nie gevra hoe hulle weet nie.  Was te moeg al.  Hulle is van Pretoria en kom vang bietjie vis.  Hulle het `n klomp vrae gevra.  Sommer net nuuskierig, maar dit vat darem bietjie die alleenheid weg.

Terwyl ek verby die Groenriviermond-kampeerplek stap roep iemand my.  Pierre Lourens.  Hy was oppad badkamer toe, toe hy my sien. Wil weet waarvandaan ek kom en waarnatoe ek oppad is.  Waar slaap ek vanaand?  Toe hy hoor ek moet êrens ` n gaatjie soek om my tent op te slaan, wou hy niks verder weet nie.  Hulle het `n klompie staanplekke bespreek en gebruik net een.  Ek kan by nr.7 gaan staan as ek belowe om vanaand `n draai by hulle te kom gooi.  Hy wou ook na matriek vanaf Alexanderbaai tot by Kosibaai gestap het, maar sy ma wou hom nie toelaat nie.  Vanaand moet ek kom stories vertel.

Dankbaar sit ek my rugsak binne die klipkraal van staanplek nommer sewe neer.  Ek slaan nog nie my tent op nie.  Dalk het ek hom verkeerd verstaan.  Hoekom bespreek `n mens `n paar plekke en gaan staan net by een?  Daar is dan ander mense by die staanplekke wat hy beduie het...


Ek wil nie op iemand se staanplek my tent opslaan en dan weggejaag word nie.
  
Ek gaan sit in die skaduwee teen die muurtjie en lees hoe Riaan Manser deur Angola swoeg.

Nie lank nie of `n kortgat Defender stop by nr.7...

Sien.  Ek het verkeerd verstaan...  Drie mans klim uit en wil weet of dit my staanplek is, want hulle het gedink hulle moet hier slaap vanaand.  Toe hulle my storie hoor is hulle vriendelik genoeg om my daar te laat slaap.  Maar eers gaan hulle vuurmaak.  Ek tel my rugsak op om dit uit die pad te kry van die mense...

Dis toe wat die ouerige omie aangestorm kom, met Pierre en nog een (later gehoor sy naam is Jaco) agterna.

“Why are you chasing him away?”

Die oom is woedend.  Hy kan nie verstaan nie.  Hierdie plek is deur hulle bespreek en nou jaag vreemdes my weg. Hy is reg om hulle te lyf te gaan.  Dit het heel wat verduideliking gekos voor die oom tot bedaring gekom het.  Cliff-hulle het ook slaapplek gesoek.  Dit was die laaste nag van hulle toer en hulle het nie bespreek nie.  Toe hulle sien nr.7 is oop, het hulle daarheen gery.  Groot was hulle verbasing toe ek skielik uit die donker skaduwee te voorskyn gekom het.  Op die ou end het ons lekker gesels. 


 Ek stuur gou `n boodskap op die satelietfoon na my pa om hom gerus te stel.

Terwyl ons bietjie op die rotse rondloop naby die kampplek, vra oom Cliff my uit oor die stap.  Oom Dion, die ander een van die drie, sê vir my: “I see you are starting with your bucket list quite early”.

Cliff se seun, Dillon studeer Omgewingsbewaring by Stellenbosch.  Ek en hy het gou vriende geraak.  Nadat ons vuurgemaak het met my topografiese kaart vir die dag, Oom Cliff hulle het nie meer blits gehad nie, het Dillon vir my `n “mean” (soos hy sê) jaffel gemaak.  Oom Cliff het my toe uitgenooi om  in hulle kiste te kom kyk wat ek wil eet.  Hulle ry die volgende dag terug huis toe.  Ek kan alles kry.  Ek het darem genoeg kos by my  gehad.  Ek was meer honger vir geselskap. 



Pierre het my daar by die vuur kom weghaal.  Sy mense kan  nie meer wag nie...  
Ek was nog besig om te vertel toe `n bord kos onder my neus ingeskuif word.  Pierre was vroeër `n chef en ken van kosmaak.  Ek het lanklaas so lekker geeët.  Dalk was dit net omdat ek so honger was...  Brood is gebak op die vuur, skaaptjoppie, wors, braaimielie. `n Koningsmaaltyd.  Jaco se vrou het na die ete nog vir my cappucino gemaak voor ek gaan slaap het.  Ek is omtrent bederf.

Toe ek wou gaan vra Pierre my hoe laat ek die volgende dag vertrek.  Hy wil `n stuk saamstap.  

Dit sal `n welkome verandering wees...

Die Here het weer gesorg.

Woensdag 20 Des 2017

My ma se verjaarsdag...

Ek is vroeg op.  Opgewonde oor Pierre wat gaan saam stap.  Al is dit net vir die eerste tien kilometer, maak dit `n hengse verskil aan my gemoed.  Heelwat vroeër as wat ons afgespreek het, sit ek al in hul klipmuurskerm en maak vir ons koffie.  

Agter daardie muurtjie kon Pierre my nie sien nie.  Toe hy uitkom en sien my tent is weg en daar is geen teken van my nie, was hy baie teleurgesteld.  Hy het gedink ek het sonder hom geloop.  Min het hy geweet hoe baie sy saamstap vir my beteken het...


Ons het in die kort tydjie sommer goeie vriende geraak.  Pierre het uit sy eie uit belowe om daar te wees as ek die 13de Januarie klaarmaak.  Ek hoop hy kan dit maak.

Die tien kilometer saam met Pierre het verbygevlieg.  Rotse, sand en skulpe.  Verby die Namaqua 2 se wrak by Islandpoint.  Die kus raak weer baie rotsagtig en ek hou maar weer op die klein paadjies naby aan die see.  Elke nou en dan sak ek af strand toe as daar sand is om op te loop, maar dis maar selde.

My regter knie bly maar probleme gee.


In een van die paadjies sien ek hom skielik... Pofadder.  Een van die gevaarlikste slange in Afrika.  Nie omdat hy so vinnig is nie, maar juis as gevolg van die teenoorgestelde... Dit gee nie pad as jy aankom nie en is so goed gekamoefleer dat jy letterlik op hom trap voor jy hom raaksien.  Ek het juis `n paar weke gelede vir die kinders van die Gereformeerde Laerskool Bellville op hul veldskool meer van hierdie slang geleer.  Alhoewel daar wel mense is wat sterf aan pofadderbyte, is hul gif sitotoksies.  Dit beteken dit breek die weefsel af en jy kan jou ledemate verloor.  Die byt is blykbaar verskriklik seer en `n mens gaan maklik in skok in.  Dit is die slang waarvoor ek die bangste is.  Maar ek moet darem eers `n paar fotos kry om vir die mense te wys...

Die deel van die kus is minder verlate as die gedeelte wat deel vorm van die Namakwa Nasionale Park.  Elke nou en dan vind jy `n klein dorpie van tente en karavane.  Ingerig om sonder enige geriewe te oorleef.  Die meeste van hulle kreefduikers.

Ek wonder of hulle by die kwotas en kreefdae hou...

Alhoewel daar oral bordjies is dat mense nie op die strande mag ry nie, steur sommige van die vakansiegangers hulle nie juis daaraan nie.  Op sommige plekke is die strande en duine erg verniel.  Die spore van quad bikes lê ook tot diep in die duine.  Deesdae geld die reël mos in Suid-Afrika dat alles wettig is tot jy gevang word...

Op verskillende plekke langs die kus word seebamboes bymekaargemaak en fyngemaal.  Hulle ry seker ook op die strande om dit op te tel...  Dit is seker ook nie baie bevorderlik vir voortbestaan van die African Black Oystercatcher, wat juis sy eiers tussen die seebamboes lê nie.

Behalwe `n klompie dooie robbe, was die diere lewe vandag ook maar skaars. `n Paar bleeksingvalke, geelkanaries en bontrokkies.  Op een plek het ek vyftien Oystercatchers bymekaar getel.
  
Die spesiaalste oomblik, behalwe die pofadder natuurlik, was die swartvleivalk (black harrier), wat `n paar keer laag oor die strandveld gesweef het.  Dit bly maar een van ons mooiste voëls vir my.

My tas maak my nou al so seer dat ek dit nie meer op my heupe kan dra nie.  Ek dra dit al vir `n paar kilometer net op my skouers.  Gelukkig is vandag se skof amper klaar.

Net na half drie kry my pa my by Geelklip.  Nog dertig is verby. 

`n Derde van my tog is verby...

By Skulpbank waar my ouers se tentjie verlate tussen die duine staan, moet ons eers `n windskerm bou teen die wind wat van die see af blaas.  Toe parkeer ons die bakkie sodat dit die wind afkeer.  Dis tyd om te stort.  `n Mens moet mos skoon wees op jou ma se verjaarsdag...



Na `n lekker varktjoppie en wors, kyk ons uit oor die see.  `n Wolk het voor die ondergaande son in beweeg. `n Toneel wat geen skilder kan vaslê nie...


Beeldend van God se stralende goedheid in my lewe...

2 comments:

  1. Dit is nie meer nuus dat DR Ryk van wealthylovespell@gmail.com 'n man is wat deur God gestuur is om die eensame, onderdrukte, verlate en gebroke harte te help nie. Ek het onlangs kommentaar gesien hoe hierdie man help om verlore liefde in 'n baie kort tydjie te herstel en ek is lankal depressief, want ek het my man na 'n ander verloor. Ek het kontak gemaak met hom en ek het gesê ek sal resultate in 2 dae kry, maar ek het dit eintlik nie glo nie, soos ek dit van ander gehoor het wat ek gekontak het en tog niks anders as tot my grootste verrassing nie, het alles gebeur soos belowe en ek kon Moenie hierdie vreugde hou nie, maar het daartoe gelei dat hierdie blog gepraat het oor die goedheid wat deur dr. wealthy aan my gewys is. As jy verlore of verward is, bekommer jou nie meer nie en kontak Dr Ryk op wealthylovespell@gmail.com of jy Whatsapp hom. + 2348105150446 Hy is God gestuur.?

    ReplyDelete
  2. Hello Everybody,
    My name is Mrs Sharon Sim. I live in Singapore and i am a happy woman today? and i told my self that any lender that rescue my family from our poor situation, i will refer any person that is looking for loan to him, he gave me happiness to me and my family, i was in need of a loan of $250,000.00 to start my life all over as i am a single mother with 3 kids I met this honest and GOD fearing man loan lender that help me with a loan of $250,000.00 SG. Dollar, he is a GOD fearing man, if you are in need of loan and you will pay back the loan please contact him tell him that is Mrs Sharon, that refer you to him. contact Dr Purva Pius, Email urgentloan22@gmail.com call/whats-App Contact Number +918929509036 via email:Thank you.

    ReplyDelete