Saturday 16 December 2017

Die koning van Koiingnaas

15 Des 2017


Koiingnaas het sy eie koning.  Koning Vincent.  `n Indrukwekkende swart man met `n bosbaard.  Dis hy wat toestemming moet gee of `n mens in die myn-gebied mag ingaan.  Hy het die naam vir homself gegee.  Dit staan ook so op die naambordjie op sy lessenaar:  Koning.  Hy besluit wie mag in en wie mag nie.  En koning Vincent is taai…  Soos `n Zoeloekoning regeer hy hierdie wêreld.  Jy word nie sommer toegelaat nie.  

Toe ek Julie-maand hier by Koiingnaas opgedaag het, was dit een van my prioriteite…  Ek moet toestemming kry vir Jacobus.  Anders gaan hy al langs die pad teerpad moet loop in Desember.  Omtrent 60km vanaf Kleinzee.  Maar die Koning was uit en ons moes verder…
Maar John Kieser, van PlasticSA, het tot ons redding gekom. `n Week voor ons vertrek bel Tiaan Priem van West Coast Resources my… Die Koning het `n baas!  Tiaan gee toestemming dat ons `n deel van die myngrond strandlangs kan stap.  Die ander is te gevaarlik.



En nou is ons hier in Koiingnaas.  En Jacobus is op pad hierheen.  Hy moet vanaand hier êrens oorslaap.  Ons is al 60km verder by Varswater in die Namakwa Nasionale Park.
“Natuurlik” sê Alta van Die Anker Gastehuis,  Jacobus kan enige tyd sy tentjie in die agterplaas kom opslaan.  Hy moet net nie van die buite water drink nie.  Dis net vir besproeiing.  In die huis is gesonde water.

Alta hulle is nie besig nie.  Om die waarheid te sê, nie een van die ses of sewe kamers is beset nie.  Maar lyk my die naweek kom daar mense in...

Koiingnaas is ook een van De Beers se myndorpe wat `n nuwe lewe gegun is.  Maar hulle steek af teen Kleinzee.  Alhoewel `n hele klompie van die 130 huise al nuwe eienaars gekry het, hang hier `n depressiewe atmosfeer.  Dalk is dit omdat Koiingnaas nie teen die see lê nie.  Of dalk omdat jy eers verby West Coast Resources se reuse mynhope en kantore moet ry, voor jy in die dorp inkom.  `n Dorpie omring deur verbode terrein.  Die koning se grond.



As die mense met jou praat oor die verlede, dan blink hulle oê.  Koiingnaas was `n lekker dorp om in te woon.  “Die beste jare van hulle lewe.” Die water, elektrisiteit en verblyf was gratis. Kinders is met busse aangery na Kleinzee se skole.  Inwoners is aangery werk toe, winkel toe en sportvelde toe.  De Beers het sportgeleenthede gereël en allerhande ander vermaaklikhede.  Maar dis verby.

Vanaf 2007 tot 2009 het die dorp vinnig agteruitgegaan.  Mense het in strepe weggetrek.  Van die meer as duisend inwoners is nog net `n handjie vol oor.

Die mense van die omgewing voel De Beers het hulle “gerob”.  Groot geld gemaak uit hulle grond en net pad gegee en vir hulle aan hul lot oorgelaat.  Omtrent `n duisend werkers van Komaggas, `n dorpie meer binneland toe, het hier gewerk.  Nou sit hulle sonder.

Dit is dus nie verbasend dat baie van hierdie arm mense hulle wend tot onwettige mynbou aktiwiteite nie.  Baie van hierdie ou myne is nie toegegooi of afgekordon nie en toegang tot hulle is redelik maklik.  Baie van hierdie onwettige myners woon weke in die veld, ontduik die owerhede en doen hulle ding in die donker.  

Vir `n een karaat (250mg) diamant kan jy ongeveer R2000 tot R4000 kry.  Afhangende van die kwaliteit.

Maar dis harde werk.  Sweet en stof.  En skelm werk.  Die diamante lê nie sommer vir optel nie.  Maar daar is manne wat diamante kry.  Kol-kol en plek-plek.  En dit hou hulle aan die gang.  Die hoop vir beter dae.  Baie sukkel vir maande sonder om iets te vind...

Die ou myne is onveilig en soms gebeur daar ongelukke.  `n Paar jaar gelede het `n tragedie plaasgevind by die Bontekoe-myn tussen Koiingnaas en Hondeklipbaai.  Twaalf onwettige myners kon ontsnap, tien het onder die hope grond en klip agtergebly.  Hulle was nie die eerstes nie.  Sal seker ook nie die laastes wees nie.

Die mense van die omgewing is opstandig.  Vanaf die 1920`s het die mynmaatskappye met hulle reuse stukke grond, die plaaslike inwoners van die kus afgesny.  Hulle wil dit terug hê.

Daar is onrus in die koninkryk.

Koning Vincent het sy hande vol...

1 comment:

  1. Hello Everybody,
    My name is Mrs Sharon Sim. I live in Singapore and i am a happy woman today? and i told my self that any lender that rescue my family from our poor situation, i will refer any person that is looking for loan to him, he gave me happiness to me and my family, i was in need of a loan of $250,000.00 to start my life all over as i am a single mother with 3 kids I met this honest and GOD fearing man loan lender that help me with a loan of $250,000.00 SG. Dollar, he is a GOD fearing man, if you are in need of loan and you will pay back the loan please contact him tell him that is Mrs Sharon, that refer you to him. contact Dr Purva Pius, Email urgentloan22@gmail.com call/whats-App Contact Number +918929509036 via email:Thank you.

    ReplyDelete