Tuesday 19 December 2017

Koringkorrelbaai en die Spoegriviergrotte

18 Desember 2017

`n Paar kilometer van waar ons kamp, is Koringkorrelbaai.  Blykbaar het `n klompie locals daar koringsop gegeëet terwyl hulle besig was om kreef uit te haal.  Een van die manne het blykbaar oorboord geval en amper verdrink.  Toe hy gered is, het hy sy middagete opgebring en het die koringkorrels van sy sop op die water gedryf.  Vandaar die naam Koringkorrelbaai.  



Maar dit is nie waarvoor hierdie pragtige baaitjie die koerante gehaal het nie.  Nee, hierdie was die plek waar Robey Leibbrandt  aan wal gekom het om Generaal Smuts te vermoor en `n staatsgreep met die hulp van Duitsers en die Ossewa Brandwag uit te voer.  Robey was van Duitse afkoms en het as SA bokskampioen ons land in die 1934 Empire Games verteenwoordig.  In 1936, net voor die Tweede Wêreldoorlog, is hy as deel van die SA Olimpiese span na Duitsland toe om daar deel te neem.  Hy was so beïndruk met Nazi-Duitsland en gefassineerd deur Hitler dat hy in 1938 na Duitsland teruggekeer het om daar te studeer.  Die oorlog het in 1939 uitgebreek en hy het by die Duitse leer aangesluit, waar hy sy paratrooper wings verwerf het.  Leibrandt, onder die skuilnaam Walter Kempf,  is deur genl. Caniris opdrag gegee om na Suid-Afrika terug te keer en Suid-Afrika oor te neem – Operasie Weissdorn.

Die oorspronklike plan was om vir Leibrand met die seiljag Kyloe in die omgewing van Lambertsbaai af te laai, maar Leibrandt het die planne verander en besluit om eerder met die reddingsbootjie van die Kyloe na die yl bewoonde Namakwalandse kus te vaar.  Die bootjie het egter omgeslaan en hy het tot Korringkorrelbaai geswem. Soos wat Robey gevorder het deur die land het hy oral ondersteuning gekry teen die Engelsgesinde regering.  Veral in die Vrystaat en die ou Transvaal was baie mense, met die Anglo-Boereoorlog nog vars in hul geheue, gretig om te help.  Baie het die Bloed-eed gesweer en is opgelei om tydbomme te maak, banke te beroof en plofstof uit stoorplekke te steel.
Nadat `n beloning van R1000 “dead or Alive” uitgevaardig is vir sy gevangeneming, het die polisie eindelik `n deurbraak gemaak na `n lang soektog en is Robey gevange geneem en as gevolg van hoogverraad ter dood veroordeel.  Genl. Smuts het egter Robey se pa geken as `n dapper boere-vegter in die ABO en sy vonnis is verander na lewenslange tronkstraf.  Nadat die Nasionale Party egter aan bewind gekom het in 1948 is Robey vrygelaat.  Hy is in 1966 oorlede.

`n Ander besienswaardigheid in die Namakwa Nasionale Park is definitief die Spoegriviergrotte.  Die vreemde naam vir die rivier is te danke aan die katspoegie water wat by die oorsprong oor `n klein waterval loop.  Om by die grotte uit te kom het `n mens definitief `n 4x4 nodig.  En jy moet jou bande afblaas.  Hierdie is `n propperse dik en los sandpad.  Verkieslik moet `n mens hom maar vroegoggend en laat agtermiddag ry, wanneer die sand digter is.  Oom Willie van Rooyen van Koiingnaas het my al van die Spoegriviergrotte vertel, toe ons daar deur is.  Hy was jare terug, lank voor die park geproklameer is, `n diamantduiker en hulle het hier in hierdie geweste “geoperate”.  Met `n gewone plaasbakkie het hulle die boot deur die diksand gesleep tot by die mond van die rivier.  Dan het hulle in die grotte geslaap en hul duiktoerusting hier gestoor.



Die Argeologiese opgrawings wat in 1987 in die grot gedoen is, het bewys dat hier al 1900 jaar gelede mense gewoon het.  Die 1m dik skulphope wat deur die jagter-versamelaars en veeherders hier agtergelaat is dateer al uit 100 nC.  Wat hierdie grotte ekstra spesiaal maak is die skaapbene wat hier gevind is wat tussen 100 en 700 nC dateer.  Dit is die rede waarom daar in 1994 `n verdere 6m2 ondersoek is.  Hierdie keer is daar bewyse gevind dat die grotte al in 1500 vC gebruik is.  Behalwe die bewyse van al die kos, soos skulpvis, kreef, rob- en seevoëlbeendere wat die eerste inwoners hier geëet het, is stukkies tou en net, van gras gemaak, en verskeie maalstene om rooi oker mee te maak, ook gevind.  Tydens die 1994 opgrawings is nog ouer skaapbeendere gevind (volgens die slim manne van Oxford meer as 2100 jaar oud), wat bewys het dat skaapboerdery al `n lang pad stap hier in Suid-Afrika.




Ek voel altyd maar klein en onbelangrik as ek sulke “ou” plekke soos die Spoegriviergrotte besoek.  Hier het duidende jare gelede mense gewoon soos ek en jy.  Mense met gesinne, families en vriende.  Mense wat honger en oorvloed geken het.  Mense met gevoelens, bekommernisse, vreugdes en hartseer.  Mense wat ambisies gehad het.  Mense wat gevoel het hulle is belangrik.  Hier in die grotte is seker baie planne beraam, gepraat, gelag en gehuil.  Kinders is hier gebore en mense het hier doodgegaan.

Twee duisend jaar later kom ons hier aan en vind `n paar bene, skulpe, klippe en `n paar stukkies tou...  Nie juis `n enorme “footprint” nie of hoe?

Dit laat `n mens nogals dink nê?

Hoe gaan ons “skulphoop” eendag lyk as ons nageslagte dit oor `n paar dekades opgrawe?



1 comment:

  1. Hello Everybody,
    My name is Mrs Sharon Sim. I live in Singapore and i am a happy woman today? and i told my self that any lender that rescue my family from our poor situation, i will refer any person that is looking for loan to him, he gave me happiness to me and my family, i was in need of a loan of $250,000.00 to start my life all over as i am a single mother with 3 kids I met this honest and GOD fearing man loan lender that help me with a loan of $250,000.00 SG. Dollar, he is a GOD fearing man, if you are in need of loan and you will pay back the loan please contact him tell him that is Mrs Sharon, that refer you to him. contact Dr Purva Pius, Email urgentloan22@gmail.com call/whats-App Contact Number +918929509036 via email:Thank you.

    ReplyDelete