Monday 11 December 2017

First update from Jacobus himself...

Is jy nie die ou van die TV nie?



Vrydag, 8 Desember 2017

Ek het net drie honderd meter gestap, toe word ek al voorgekeer deur `n man met die naam van Richard.  Wie is ek?  Wat maak ek hier en waarnatoe is ek oppad?  Ek het nog omgedraai om te kyk of my pa en ma my nog kon sien, maar die mis het hulle toegevou.  Ek is alleen…  Op myself aangewese.

Hierdie is myngebied en NIEMAND mag hier deur nie. Gelukkig laat hy my gaan, toe ek vir hom sê ek het toestemming.  Toe hy hoor ek slaap langs die kus, was hy egter bekommerd:  “Oppas net vir die strandwolwe…”  Die strandwolwe, soos hulle hier genoem word, is eintlik bruin hiënas wat hier teen die kus van uitgespoelde diere en rob-kleintjies lewe.  Hulle is groter as die gevlekte hiënas, maar alleenlopend en daarom meer sku vir mense.  Maar in die nag en veral as `n mens slaap, sal hulle  maklik aanval.  Ek het stilweg gehoop dat ek `n paar van hulle te siene kry langs die pad, maar dat hulle nie te veel moeilikheid sal gee nie.  Dis eintlik meer vir slange, veral pofadders waarvoor ek skrikkerig is.  Ek hou my oë oop...

Ek het eintlik verwag om `n verlate kus aan te tref, maar ek het nog nie ver gevorder nie of ek kom al op die eerste groot mynbou aktiwiteite af: klipwalle wat in die see ingebou is soos jetty`s, slykdamme, reuse trokke en bakkies met vlaggies.  Die ene bedrywigheid. Om my paadjie om al hierdie gewerskaf te kry was maar moeilik, selfs met `n kaart.  Ek het die keuse gehad om deur hulle te stap en weer `n klomp vrae te beantwoord of om terug te stap na waar Richard my gekry het en van daar af op `n klipwal te stap om al die mense.  Ek het vir laasgenoemde gekies.  Dit was hier waar ek die seemeeu eiers gekry het.  Die “idiot” wat ek is, probeer ek dit afneem.  Die arme pa en ma seemeeu was so verskrik dat hulle en `n paar maatjies my die hele tyd “gedivebomb” het.  Dit het gelyk of ek die riel dans, soos ek gekoes het vir die voëls.  Dit was nogal “scary”.  Hulle kom so naby jou kop verby dat jy die wind teen jou ore kan voel.  Ek het my foto geneem en padgegee.



Dit is opvallend hoe lelik die omgewing is.  Alles is grys en windverwaaid.  Omtrent niks groen nie.  Alles is omgedolwe. Onnatuurlik.  Asof jy op `n ander planeet is. `n Droë, troostelose planeet.  Net sand en klippe.  Ek het baie gedink aan oom Rene Raimond, `n oom uit ons gemeente wat klippe versamel.  Hy sou mal gegaan het hier.  Hier is so baie mooi klippe...  Ek het besluit om hulle net daar te los en selfs nie eens een saam te vat nie.  Net nou sien hulle ek het iets opgetel en dan gee hulle my iets om te drink om my maag te laat werk, net vir ingeval ek dalk `n klippie ingesluk het.  Die grap is dat ek nie eens `n diamant sal herken as ek dit sien nie!








Al teen die kus af word gemyn.  `n Mens kan die klein shacks, wat gebruik word vir windskuilings van ver af sien.  Die gedreun van die trekkers kan `n mens ook van ver af hoor, soms lank voor jy hulle sien.  Hier word diamantgruis in steroidbelaaide sementmenger-balies gewas.  Water word met reuse pype uit die see in- en uitgepomp.  Soms staan hierdie “sementmengers” en trekkers die hele strand vol, teenaan die see.  In die baai lê daar dan gewoonlik ook heelwat diamantbote.  Ongelukkig was dit te mistig om af te neem.  Dit was egter die mense wat my die meeste geïnteresseer het.  Die meeste van hulle lyk asof hulle uit Davey Jones se locker uit kom.  Reguit van een of ander seerowerskip.  Een van hulle, Marco, nog `n jong kleurling, het na my toe aangekom en gesê dat ek `n groot fout begaan het.  Hierdie is privaatgrond en ek mag nie hier wees nie.  Nadat ek vir hom verduidelik het dat ek toestemming het om hier te loop, wil hy by my weet of ek pot wil hê, want hy het lekker “outdoor” en dit sal my help om nog beter te stap!  Hy was baie verbaas dat ek toestemming gekry het.  Volgens hom is ek die eerste ou wat dit reggekry het.

Van hier af was die roete bitter sleg.  Vir hele paar honderd meter was die strand besaai met groot ronde rivierklippe – regte enkelbrekers.  Op `n stadium het ek `n man voor my gesien wat vriendelik gelyk het.  Ek het nader gestap om te groet, maar toe ek nader kom het hy so “scary” gelyk dat ek maar verby gehou het.

Eers na `n uur het ek vir die eerste keer op sand geloop.  Tot hiertoe was dit net omgedolwe grond, kliprandjies en ronde klippe.  Toe ek omkyk kon ek nog steeds die gebou naby die mond sien, waar ek weggetrek het.  Nie juis baie bemoedigend nie...  maar gelukkig is ek toe op sand.  Dinge kan net beter gaan van hier af.

Orals langs die kus is mense.  Hier is nêrens `n stil plekkie gewees waar ek `n tydjie kon rus sonder om te veel aandag te trek nie.  Drie swart mans wou weet wat ek alles in my tas het.  Dit was bietjie skrikkerig.  Op die ou end het hulle net vuurhoutjies gesoek.  Hulle dink natuurlik ek is van my kop af om so ver te wil stap.

Anderkant `n baaitjie, waarin `n enkele diamantboot gedobber het, net na ek oor `n duin is, wag vier mans vir my in.  Een van hulle se van is Van Rooyen.  Een van hulle is `n sekuriteitswag.  Moeilikheid.  Na ek myself voorgestel het as Jacobus, sê die een man: “Ha! Jy`s mos die outjie wat op TV was!  Die van der Linden-outjie!”  Ons het bietjie gesels.  Na `n tydjie sê hy vir my: “Maar jou pa was mos ook op TV?”  Hy het dit dus definitief gekyk en selfs my van onthou.  Voel bietjie “weird” om deur vreemde mense herken te word.  Na ons klaar gepraat het, loop ek toe maar weer.  Nie lank daarna nie kom hulle aangejaag in `n bakkie.  Hulle wil eers `n foto saam met my hê.  Dit was baie cool.  Dit was omtrent `n hele “photoshoot”.  Eers ons almal saam en toe elkeen afsonderlik saam met my.
Maar hier is so baie mense wat uitvra, dat dit voel of ek nooit by vandag se eindbestemming gaan uitkom nie.



Net toe ek te goed begin voel oor myself, stop `n bakkie met sekuriteitsmense langs my.  Selfs toe ek die toestemmingsbrief en klaringsuitslag op my selfoon vir hulle wys, wou hulle my nie glo nie.  Ek kan maar aanstap op daardie pad, terwyl hulle solank gaan uitvind wat aan die gang is.  Hulle weet niks van `n stapper deur hulle gebied nie.  Hulle sal my hier kom uithaal as ek nie hier mag wees  nie.

Wat nou?  Ek probeer my pa in die hande kry op die satelietfoon, maar hy antwoord nie.  Netnou word ek buite die myngebied uitgesit?  Hoe gaan ek verduidelik waar ek is.  Ons het spesifieke koördinate afgespreek waar ek sou slaap.  Gelukkig het ek `n gps.  Ek besluit egter om weg te bly van die paaie en strande, waar die sekuriteit my in die hande kan kry.  Ek hou deur die duine.  As sekuriteit my wil uit sit, moet hulle my maar kom soek.  Moeite doen.  Ek gaan dit nie vir hulle maklik maak nie.  Ons het toestemming.  Dis nie ons skuld dat hulle kommunikasie so swak is nie...  Hopelik vind hy my nie weer nie.  Hier tussen die duine sal ek waarskynlik ook nie myners teëkom wat my posisie kan verraai nie.  Ek moet net versigtig wees vir pofadders...




Tussen die duine is baie meer spore van wild.  Twee steenbokkies het vinnig oor `n duin verdwyn toe ek aankom.  Terwyl ek hier gesit en my middagete geniet het, het `n troppie gemsbokke niksvermoedend `n entjie van my af verbygestap, gestaan en my stomverbaas aangekyk.  Sonder enige vrees.  So het ons `n tydjie vir mekaar gekyk, voor hulle omgedraai en agter die duin verdwyn het.


So tussen die duine deur het ek uiteindelik by die koördinate van my slaapplek aangekom.  Reg in `n myn.  Teen hierdie tyd was ek al redelik sat, want die los sand van die duine het my bene behoorlik gekou.  Veral die laaste twee kilometer was baie erg en aan die einde van dertig breek dit `n mens nogal.  Ek kon seker `n bietjie aangestap het om weg te kom van alles, maar ek het so fantastiese wegkruipplekkie tussen al die mense gekry, dat ek besluit het om net hier te slaap.  Hier in `n twee meter diep uitgegraafde gat, letterlik teenaan die mynbou aktiwiteite het ek my tentjie opgeslaan, sonder dat hulle van my weet.  Ek was dankbaar dat die Here dit so gelei het, want die sekuriteitsding het nie net my bene nie, maar ook my kop moeg gemaak.  Na 8 ure en 8 minute vanaf Alexanberbaai, verby Kaap Voltas, Agaatstrand, Peacockbaai en Homewood Harbour het ek eindelik bietjie rus gekry...  Hier in `n gat naby Boulderbaai.  Terwyl die trokke so naby my verby ry dat die grond dreun onder my voete.




Selfs binne die gat het die wind al sterker begin waai.  Ek is redelik dors, maar my waterrantsoen vir die dag is deur die strawwe oefening deur die duine al opgebruik.  Ek besluit om eerder my papwater nou te drink en provitas en droë wors vir ontbyt te eet.  My aandete van smash en soya mince het ook baie meer water gebruik as wat ek gedink het – 750ml!  As gevolg van die wind het ek seker 20 vuurhoutjies gebruik om die stofie aan te steek.  As die stofie eers aan die gang is gaan dit gelukkig vinnig.  Te vinnig om die waarheid te sê.  Ek was nog besig om kos te maak toe ek krampe begin kry.  Natuurlik het ek alles net so gelos en eers die seer spier probeer strek.  In die proses het die Smash verbrand en het ek `n kwart van my kos verloor.  Die verbrande smash het ek so `n entjie voor die tent gegooi.  Ek het gehoop iets kom kuier vanaand vir my, dan kan ek dit goed sien.

Ek het `n boodskap met die satelietfoon gekry dat my pa die sekuriteitsprobleem uitgesorteer het en dat ek hulle nie meer hoef te dodge nie.  Dit beteken dat ek gelukkig nie meer hoef duine te loop nie, want die goed het my opgemaak.  Duin 45 in Namibië is na al hierdie oefening, niks meer nie.


Saterdag, 9 Desember 2017



Die oorspronklike plan was om 4h00 se kant op te staan en 5h00 te begin stap.  Maar dinge het nie so uitgewerk nie.  Die wind het heelnag verskriklik gewaai.  Elke nou en dan het die tent se kant teen my gesig geklap en my wakker gemaak.  Die tent het die heelnag geskud en tekere gegaan.  Gelukkig het my stormtentpenne baie goed gewerk.  Ek dink die spanning van die dag het ook `n effek op my gehad en my onrustig laat slaap.  Hoe baie ek geslaap het weet ek nie, maar dit was definitief nie baie nie.  Dis nog pikdonker buite en die malmokkies het alles natgemaak.  As gevolg hiervan het die tent moeilik opgeslaan, maar die goeie ding was dat ek darem water van my tent kon afkry, veral omdat my water so min is.  Ek het toe nie pap geeët nie.  Alhoewel ek ongeveer 2L water oorgehad het, was ek tog bietjie bekommerd of dit genoeg sou wees vir die dag, veral ook omdat ek redelik dors was toe ek opgestaan het.

Ek is op die ou end eers 6h44 daar weg.  Ek het bietjie weird gevoel.  Bewerig.  Swak.  Ek het `n  jungle oats bar en droë wors geeët vanoggend, maar weet nie of dit genoeg was nie.  Ek het nog hope kos in my rugsak en sal maar gereeld eet terwyl ek stap.  Dalk keer my kragte terug.  Dalk is dit net fatigue van die duine en die min slaap.



Ek het besluit om vandag padlangs te hou.  Ten eerste is die pad net 20m van my af en ten tweede is die rotse hierlangs so rotsagtig dat ek nie daar kan loop nie.  Die sandduine of mynhope hier is in elk geval tot op die rotse.  My pa het `n boodskap gestuur dat ek hom moet laat weet as ek nog 10km het om te stap.  Dan sal hy en die sekuriteitsman wat my gesoek het, vir my kom optel.  Dit sal dus makliker wees as ek padlangs hou. 

Die wind waai sterk reg van voor af en die mis maak dit ysig koud.  Ek besluit om eers te kyk of ek my kan warm stap voor ek my puffy jacket aantrek.  Ek was bang dit gaan nou weer te warm wees.

`n Entjie van my tent af het ek `n jakkals teëgekom.  Dit was seker hy wat die pap voor my tent geeët het gisteraand. 

Ek is bietjie bekommerd oor my knie wat skielik begin probleme gee.  Dalk is dit ook van die duine stap, want ek het nog nooit regtig probleme daarmee gehad as ek gestap het nie.  Die ander ding is dat my heupe rooi-blou is van die rugsak se hipbelt.  Sal maar op Port Nolloth kyk wat ek daaromtrent kan doen.

Teen hierdie tyd het ek al by 8 geleenthede Black Oystercatchers gesien.  Op een plek was daar selfs nege Oystercatchers bymekaar en by `n ander geleentheid ses.  Hier was ook robbe in die water.

Die kus hier is verskriklik duinerig en ek is dankbaar dat ek besluit het om padlangs te hou.  Ek sou dit nooit hier gemaak het nie.  Die sand is so los dat ek niks sou gevorder het nie.  Al die verskillende paaie en die kodename vir die paaie is baie verwarrend en ek was `n paar keer onseker of ek nog op die regte een is.  Soms loop die pad al langs die kus en ander keer vat dit `n mens `n hele entjie die binneland in.  As jy dan weer by `n baai kom is jy heel verdwaal.  Is dit nou Dassiebaai of Gifkop se myne?

Hier is ook baie wild.  Die jakkalsspore lê die hele wêreld vol en ek het ook `n paar waterdikkoppe gesien.

Teen 8h55 is ek nog negentien kilometer van my bestemming af.  Die wind waai nou verskriklik erg.  Reg van voor af. Soms voel dit vir my of ek sweef en druk die wind my heen en weer oor die pad. Gelukkig help die stapstokke baie en voel dit of mens vierwielaangedrewe is.



As gevolg van die terrein en rotsagtige kus kon ek ongelukkig nog nie juis my plastieknavorsing doen nie.

Net na 14h00 het my pa en Jantjies my gekry.  Ek was dankbaar toe die skof verby was.  Die Here was goed vir my.  Alhoewel die wind vandag baie erg was, was dit darem baie beter as om deur die duine te sukkel.

Rietfonteinpan, Wreck Point, Dinghyklip, die Holgatrivier en Skulpiesbaai-Noord lê agter my.  Sestig kilometer is verby.

Baie dankie aan almal wat vir my gebid en boodskappe gestuur het.  Ek kry elke nou en dan sein.  Hou asb. aan daarmee.  My nr is 061 008 0935.

Groete tot 'n volgende keer
Jacobus

6 comments:

  1. Indrukwekkend! Ek voel sommer of ek saam met Jacobus gesukkel het as ek lees van al die moeilikheid en "challenges" wat hy gehad het. Wow! Ek sal van nou af elke dag die blog dophou en kyk hoe hy vorder.

    ReplyDelete
  2. WoW.....klink alles baie indrukwekkend.

    ReplyDelete
  3. Sjoe nou het ek darem lekker gelees aan al jou wedervaringe!! Well done hoor! Ons is trots op jou, man van die TV;)

    ReplyDelete
  4. Baie sterkte Jacobus! Ons stap saam met jou hier in Pretoria.

    ReplyDelete
  5. Hello Everybody,
    My name is Mrs Sharon Sim. I live in Singapore and i am a happy woman today? and i told my self that any lender that rescue my family from our poor situation, i will refer any person that is looking for loan to him, he gave me happiness to me and my family, i was in need of a loan of $250,000.00 to start my life all over as i am a single mother with 3 kids I met this honest and GOD fearing man loan lender that help me with a loan of $250,000.00 SG. Dollar, he is a GOD fearing man, if you are in need of loan and you will pay back the loan please contact him tell him that is Mrs Sharon, that refer you to him. contact Dr Purva Pius, Email urgentloan22@gmail.com call/whats-App Contact Number +918929509036 via email:Thank you.

    ReplyDelete