Wednesday 27 December 2017

Alleen

Donderdag 21 Des 2017


Dit raak net erger.  Die eensaamheid.  Niemand om mee te praat nie…  Ek mis `n metgesel.  Iemand om die tyd mee om te kry…

My pa het my nou net afgelaai by Geelklip - `n hoë punt in die see in.  Dis waar hy my gister kom optel het.  Toe was ek so dankbaar…  Die einde van `n skof.  Ek kon uitsien na geselskap.  My ma se verjaarsdag… `n Lekker stort.  My ma wat my bene masseer.
Van waar ek staan kan ek ver agter my kyk.  Kuslangs.  Van waar ek gekom het.  Rotse, rotse, rotse.  Tot daar waar dit in die mis verdwyn.  En my pa se bakkie wat al kleiner word tussen die duine.  Ek kyk tot dit wegraak…

Voor my lê die uitgestrekte, eensame kus en wag…

Baaie.  Rotse.  Duine.

Kronkelpaadjies.  Dik sand.  Strande.

En die eensaamheid…

Ek het vanoggend gesukkel om op te staan.  Ek wou nie.  Kon nie myself motiveer nie.  Geweet wat vir my wag… Dis nie die rou skaafplekke op my heupe, die seer knie of die stywe spiere nie.  Nie die gesuffer deur dik sand... die gesandblast deur die wind nie.  Die pad wat kilometers ver voor jou uitgestrek lê nie.

Dis die geselligheid saam met mense wat jy nie wil los nie.  Wat jou nie uit jou slaapsak wil laat klim nie.

Dis daardie ALLEENHEID wat op jou wag...
Soos die bakkie wegry, oorval dit my.  Trek dit my keel toe.
Ek sou wat gegee het om saam met my pa terug te ry...
Ek stuur `n boodskap op die satelietfoon.
“Ek weet dis ver.  Kom kuier asseblief vanaand by my.”

Ek begin stap.  Kry nie dadelik `n antwoord nie.  My pa ry nou seker deur die dik sand terug Skulpbank toe waar hulle wildkamp.  Dis `n hele entjie se ry...

Nog baie verder as hulle vanaand by my wil kom kuier by die Soutriviermond waar ek slaap tussen die duine.  Dis slegte pad.  Verskriklike sinkplaat of dik sand.  Maklik vyftig kilometer soontoe en dan nog terug ook.

Ek hou die satelietfoon gereeld dop.  En dan eindelik kom die boodskap. “Sien jou vanaand.  Sal `n plan maak om by jou uit te kom.”

`n Tydjie later... “Ons kom tel jou by jou bestemming op.  Jy slaap by ons vanaand.”

Die beste nuus wat ek in `n lang tyd gehoor het.

Ek kan my kop weer optel.  Die wurg om my keel is weg.  Vars lug.  Nuwe energie.
Die Here het my weer nuwe krag gegee.

Ek sien die pragtige blommetuin hier rondom my.  Wild, maar so mooi soos geen tuinier dit kan bedink of versorg nie.  Verskillende vygies, met die mooiste blommetjies.  Dankbaar vir die mis wat die Here elke dag stuur.  Soggens of saans.  Soms albei.  Hulle leef van genade en sing God se eer elke dag. Die vet blare in skakerings van groen, geel en rooi. Blomme pienk, pers en wit.


Nog `n paar dae dan is dit Kersfees...

Gisteraand het dit gedonderweer en geweerlig oor die see.  Selfs `n bietjie gereën by ons.  Vandag is die paadjies natterig en vars.  Ek weet nie of dit is as gevolg van die reën nie, maar oral is spoortjies wat my paadjie kruis.  Steenbokkies, muishonde, nagmuisies en torretjies...  Soms loop die spoortjies ente saam met my op die paadjie.  Ek het vanoggend `n paar stap-metgeselle.

Die wind waai vandag van agter af.  Vir die eerste keer in omtrent twee weke.  Ek weet nie wat dit beteken nie.  Hoop nie dit reën nie...

Ek vorder met sandpaadjies verby Blougat en Skurfbaai tot by Ruitersvlei se mond.  Van ver af kan `n mens die dorpie karavane, tente en gazebo`s sien.  `n Groot saamtrek van mense. `n Saamkuier oor Desembers wat seker al vir geslagte aangaan.  Ek is `n indringer...  




Mense kyk my net van onder hulle afdakkies aan.  Praat nie met my nie.  Hoop dat ek ook nie met hulle gaan kom praat nie.  Toe ek naby een army tent verbystap vra `n vrou darem vir my waarheen ek oppad is?  Meer nuuskierig as belangstellend...

Dit was ongelukkig nogal `n tendens hier teen die kus af.  Omdat jy teen hierdie ongeveer 90km wilde kus enige plek en gratis kan kamp en die meeste mense hier al vir dekades na die selfde gaatjie of baatjie kom, is die kampeerders hier baie besitlik op hul plekkie en privaatheid en  word alle “buitestaanders” as `n bedreiging gesien.  Baie het selfs al klipstrukture oor die jare vir hulle opgerig om die wind af te keer.  Soms staan die mense in groot groepe bymekaar.  Ander kere net een tent tussen die duine.  Ver van almal af.  Die ding met hierdie wildkamp is dat jy nie kan bespreek nie en elke jaar maar weer moet hoop jy kry jou plek...  Ek wil nie dink wat kan gebeur as jy per ongeluk op `n ander ou se plek gaan staan nie.

Ek was nogal geskok oor die mense se reaksie as ek aangestap kom.  Strandlangs.  Nie na hulle toe nie, maar op my roete...  Een van die wat onder die afdak of gazebo sit sien na `n tydjie vir my op die strand aangestap kom en wys vir die ander...  En dan verdwyn hulle soos een man in die tente in!  

Asof jy melaats is.

Te bang ek vra iets... 

Dit laat jou nog meer alleen voel...

Ek besluit om elke uur te rus.  My energie is min en ek voel bietjie naar.  My rug trek ook bietjie spaste.

Ek kry net nie lekker gestap nie.  Weet nie of my lyf moeg is en of my kop moeg is nie.  Dis nou nie meer lekker nie.  As ek tien treë gegee het dood ek van die warmte en as ek stop kry ek koud.  Weet nie of dit met die naarheid te doen het nie.  Ek wil nou net die volgende paar dae verby kry sodat ek kan rus.

Saterdag, Sondag en Kersfees.

AF...

Maar eers moet ek die volgende paar dae klaarmaak...
Ek dink terug aan die beskuit wat ek vanoggend geeët het.  Tannie Elsje Fabricius van Cup-a-Tea het dit vir my saamgestuur.  Met `n boodskap:
“Mag die Here jou dra as jou voete nie meer wil nie.”

Verby Bruinklip, Hoekbaai, Kefferbaai, Tietiesbaai en Malkopbaai...


Dis moeilik om te besluit watter roete ek moet loop.  Die groter grondpad wat `n paar honderd meter binneland toe is, is baie op en af.  Strandlangs is weer baie los sand.  Ek besluit op laasgenoemde en ploeter maar voort.  Sonder om te dink...

Duine.  Dik sand.  Kuite wat brand.  Asem wat jaag.

Hou net aan...

Van ver af sien ek die huisie op die strand.  Hierdie ou moes seker iemand belangriks geken het om dit reg te kry.  Op die trekkerband wat half begrawe is, staan: “Worsie se kamp”.
`n Paadjie loop langs die huisie verby grondpad toe.  Gelukkig.

Die paadjie lei verby Richwill Diamond mines. `n Omheinde stukkie op die strand.  Privaat.  Geen toegang. `n Paar huise op die strand.

Hier is `n paar hekke oor die pad wat toegemaak moet word.  Dis plaasgrond waarop ek nou loop.  Vakansiegangers mag die paaie gebruik weens die goedgunstigheid van die boere.  Al wat die boere vra is dat die hekke toegehou moet word.

Op die bordjie staan: “Never leave open”
Een of ander aap het daarop gekrap: “You should say please”.
Ek verstaan nie mense nie...

Volgens die GPS nog 12km.

Mense van Kuilsrivier het nou net by my gestop en gevra hoe die pad vorentoe lyk.  Hulle het gevra of ek `n lift soek... `n Groot versoeking.

Ek mag nie ingee nie.  Skud net my kop.

Voor ek hulle name kon vra is hulle al weer weg.

Kopgewys is ek nie op `n lekker plek vandag nie.  Word gou moeg.  Dinge is gou te veel...  Ek probeer myself heeltyd aanmoedig.  Selfs al stap ek 8 ure vandag.  Ek gaan klaarmaak.  Hopelik is môre `n beter dag.

Ek bid dat dit nie 8 ure sal duur nie...

Wat baie help is die feit dat ek kort-kort sein het.  Verskeie boodskappies het deurgekom en ek kon ook lekker met my goeie vriend Kevin Brand gesels.  Alhoewel dit nie die negatiewe gevoel weggevat het nie, help dit darem om aan te hou.


Hier is verskeie voëltjies wat so nou en dan `n mens se aandag trek.  Bokmakieries, bontrokkies, bleeksingvalke en Europese byvreters.  Ek het `n steenbokkie ook al gesien vanoggend.  


Ek besluit na `n uur om nie te rus nie, maar dit te spaar vir na twee ure.  Dan kan ek langer rus.  My lyf voel nog redelik goed.  

Elke nou en dan pak `n klompie swart brommers my toe.  “Hitch a ride” vir `n tydjie en verdwyn dan weer net om na `n tydjie later weer op my te kom sit.  Nie lekker nie, maar dit kos te veel energie om hulle weg te jaag.  Ek het stapstokke in my hande.  Voel of hulle al vasgegroei het.  Net nou steek ek my oog uit...

Die skaafplekke op my heupe begin weer pla.  Gelukkig is ek nie ver van `n langerige breek af nie.  Kan my net goed doen.

Elke nou en dan het ek sein op my selfoon.  Die satelietfoon sukkel maar.  Ek sit weer en lees `n paar boodskappe.  Interessant hoe die mense juis vandag, wat ek so met my kop sukkel, vir my laat weet hoe wonderlik dit is dat ek so positief bly.  Dit help darem.
Mense praat met hulself as gevolg van verskillende redes.  Sommiges doen as hulle hulself geniet, soos een outjie by die Gereformeerde Laerskool.  Ander omdat hulle mal is...  Ek dink nie ek val vandag in enige van die twee katogorieë nie, maar ek het wel vandag verskriklik baie met myself gepraat.  

Die alleenheid?  Swaarkry?  Aanmoediging?  Fight om aan te hou?

Ek is nou net verby `n karavaan wat kilometers ver van enigiemand anders is.  Die kaal man by die karavaan was waarskynlik net so verbaas om my te sien as ek vir hom.  Nie dat hy juis te skaam was daaroor nie...  Ek probeer die prentjie uit my gedagtes wis...

`n Monkey beetle-ding het my nou net op die kuit gesteek.  Dit jeuk verskriklik erg.  Ek moet dit maar dophou.  Ek is allergies vir bysteke...  Weet nie wat se effek dit kan hê nie.



Die wind van agter af is lekker, maar dit waai verskriklik hard.  Amper soos `n donderweerwind.  Die sand in die paadjie is fyn en dit voel of ek die hele tyd in `n stofstorm stap.  Ek kan die enkele motors wat per uur verby kom nou beter hoor, maar ek weet nie hoe goed hulle vir my kan sien nie.  Die wolke agter my begin saampak.  Lyk of donderweer oppad is.  Dinge kan nog interessant raak.

In die verte begin dit reën.  En dit is oppad na my toe. 

Die eerste donderweer en blitse het nou geslaan.  Die wind waai nou so sterk van agter af dat my bene gesandblast word.  Dis net stof om my.
  
Ek het besluit om die rain cover oor my tas te trek.  Dis die eerste keer wat ek die ding uithaal en sien nou eers dat dit “shocking” geel is.  Ek dink nie die covers is baie effektief teen die reën nie.  Dit lek maar nog altyd, maar die helder geel gaan darem maak dat die motoriste my beter gaan kan raaksien.


Alhoewel dit seker vir die storie interessanter gaan wees as ek hier in die middel van die vlakte in `n donderstorm beland, is ek tog dankbaar om te sien hoe die bui oor die see trek.  Die lug is pikdonker bo my en dit reën katte en honde oor die see. Nog nie `n druppel het hier by my geval nie.  

Dit donderweer en blits nou hier by my.  Ek is maar skrikkerig.  Die karoobossies bied nie juis enige beskerming nie.  En ook nie enige kompetisie oor wie die langste is op hierdie uitgestrekte plat kusvlakte nie...

Die Here is my genadig.

Driehonderd meter voor my bestemming van die dag, ry my pa by my verby. “Amper daar”
Die Here het my vandag gedra tot hier, tannie Elsje.  Nie my voete of my kop wou vandag nie. Maar ek is hier.

Môre is nog `n dag....

Vrydag 22 Des 2017

Ons is die oggend half ses op.  Dis nog `n uur se ry na waar my pa my weer moet aflaai vandag.  En ek moet op die laaste half agt weer begin stap.  Ons het die vorige dag al alles ingepak.  Gereed om binne `n kort tydjie te vertrek.  Dis nog net die een tent wat staan – waarin ons almal soos sardientjies op die vloer geslaap het. Binne `n uur is alles gelaai en vat ons die pad na die Soutrivier.  

Die dag begin met `n sanderige sinkplaatpad, maar die wind waai darem weer van agter af.
Ons het nou net saam as gesin gebid.  Alhoewel my liggaam al redelik moeg is na omtrent 450km se stap, voel my kop vandag weer reg.  Gemotiveerd.

Vandag is die laaste van die skof.  Daarna kan ek darem drie dae rus.  Langs die Olifantsrivier...

Ek moet net nie te gerus raak nie.  My oë op die pad hou.  Ek het gister as gevolg van die koue geen slange langs die pad gekry nie, net `n dooie een, maar dit beteken nie dat hulle nie hier is nie.  Ek het juis tydens my oefenlopie in Junie hier rond `n vreemde ervaring met `n slang gehad.  Terwyl ek deur die sandpaadjie geloop het, het `n klein dik slangetjie skielik uit die sand na my bene toe gespring.  Nie langer as `n halwe liniaal nie.  Maar aggressief! Hierdie Namakwa Nagadder is die kleinste adder in die wêreld en word maksimum net 24cm lank.  Dit kom net voor in die sanderige kusvlakte van Namakwaland, waar sy habitat bedreig word deur die diamant- en sandmyne.  Sy gif is matig en sitotoksies.  Soos `n pofadder s`n.  Die slang se kleinheid skrik die dingetjie nie af nie.  Oop bek word daar na my gespring.  Aanmekaar.  Ek moes behoorlik bontstaan.  Vir die akkedissies en paddatjies waarvan dit lewe moet hierdie addertjie `n behoorlike terror wees.


My kuit trek `n bietjie.  Ek hoop nie dit is die begin van moeilikheid nie.  Dalk nog van gister se moeilike stap.  Of dalk omdat ek dit vanoggend nie goed genoeg opgewarm het nie.  Die dag het met bulte begin...

Na `n tydjie kry ek spore in die pad wat in dieselfde rigting gaan as wat ek moet gaan.  `n Ry mensspore voor my uit so ver as wat ek kan sien.  Dit raak sommer klein daar voor teen die bult uit.

Inspirerend.

Bemoedigend.

Ek het baie gedink aan daardie pragtige verhaal oor “Footsteps in the Sand”.  Die een waar die Here jou dra as jy swaarkry.  Soos tannie Elsje se pragtige woorde van gister.
En Hy het my gister gedra.
Toe ek so alleen gevoel het.

Nou is dit asof die Here vir my wil sê Hy kan sien my kop is beter.  Ek moet nie bekommerd wees nie.  Hy is al solank vooruit.  Hy het solank al die pad gaan reg maak vorentoe...
En so volg ek geduldig en gewillig op die spore waarnatoe die Here my lei.

Ek is verby Namakwa Sands se reusagtige sandhoop.  `n Klompie myners het by my gestop en gevra waarvandaan ek kom en waarheen ek oppad is.  Een van hulle het my van die TV herken.

Ek wou op `n stadium my sonbril skoonmaak, maar hoe ek ook al vryf ek kry dit nie heeltemal skoon nie.  Toe ek beter kyk sien ek dat die wind stukkies blou van die bril af gesandblast het.  Sekere van my toerusting kry maar swaar...

Die mense is vandag darem vriendeliker.  Dalk is dit omdat ek vandag verder van die kampplekke af wegstap as gister.  Hulle praat nog nie, maar hulle waai darem.

Die wind het weer opgesteek.  Dit was vir `n tyd redelik warm, maar nou raak dit koud.  Daar is weer donker wolke oor die see.  Dit lyk of ek weer onweer kan verwag.

By Brand se baai het ek vir my vriend Kevin Brand eers `n “pose” foto gaan neem by die bordjie om te wys ek dink darem aan al die Brands van Bellville.  Oom Pieter- en oom Johann-hulle.

`n Swart Hilux-bakkie met drie vrouens het langs my gestop en gevra of ek die outjie is wat van Groenrivier af Kaap toe stap.  Die nuus trek vinnig...  al is die feite nie heeltemal korrek nie.  Hulle sê hulle kan my `n lift aanbied, maar ek stap asof ek op `n mission is.

Ek is...

Ek wil die skof klaarmaak.

Floors se gat en daarna Geustyn se gat met al die kampeerders, seker myners, volg mekaar op.  Ek stap verby Jakkalshok, Voëklip en Stompneus.  Die pad voel ekstra lank.
Skulpbaai, Waterbakke, Hanguier en Pikkersbaai.  Oral staan kampeerders.  Ingerig om lank te staan.  Watertenke is selfs aangery en puttoilette gegrawe.


Die screenprotector wat die gekraakte skerm van my ou selfoon bymekaar hou, het afgekom.  Ek weet nie hoe lank die skerm nou gaan hou nie...  Dit val al reeds uitmekaar uit.  Dit is die foon wat ek as diktafoon gebruik en al die voicemails opneem wat my pa later terugluister om my storie neer te skryf.  Ons sal `n plan moet maak die naweek.  Al moet ons die hele skerm vas sellotape.

Die weer steek al hoe meer op.  Die wind begin ook harder waai.

Twee kelkiewyne vlieg voor my van die pad af op en kies moeisaam teen die wind hul rigting.

Die pad is baie op en af en my kuite is al seer.  Maar dit stop my nie om elke nou en dan te buk om eers `n mooi klippie op te tel nie.  Wat ek van klippe af weet is gevaarlik, maar ek is seker oom Rene Raimond sal dankbaar wees...

Ek begin nou swaar kry.  `n Bakkie kom van voor af en stop.  Dis dieselfde vrou van Ruitersvlei wat my gister gegroet en gevra het waarheen ek gaan.  Sy wil net vir my sê ek is amper daar...  Nog net so `n entjie voor Gert du Toit se baai.

`n Mens sien die karavane en tente van Gert du Toit se baai al van ver af.  Almal in een lang string langs die kus uitgepak.  Soos `n reuse karavaanpark.  


Ons bakkie staan by die afdraai en wag vir my.  Ek moet eers hier in.  Twee van die kinders wat saam met my vir Bellville Hoërskool se Eerste hokkiespan gespeel het kamp hieronder – Francois de Kock en Stefan Heyns.  Ongelukkig was hulle nie nou daar nie.  Ons het wel die Walterse en Karlie, `n meisie vir wie my ma by Hebron Christenskool skool gegee het en haar ouers, daar gekry.  Ons was egter haastig om aan te gaan.  Het nie gebly vir iets om te drink nie.  Die pad is nog lank...

Ongelukkig wou West Coast Resources nie vir ons toestemming gee om langs die kus te stap tot by die Olifantsriviermond nie.  Ek het aan die noordekant van die rivier so ver gestap as wat ek kon.  Die grondpad gaan van hier af binneland toe. Lutzville toe. 
Dis sinneloos om dit te stap. Daarmee vorder ek nie Kaap toe nie.

My pa tel my op.

Tyd om te rus...

Kan nie wag nie.

Saterdag, Sondag, Maandag 23-25 Des 2017

Die wit bakkie kom stadig van voor af aangery.  My pa ry stadiger en stop.  Die ander bakkie ook.  Die gryskop-omie stel homself voor.  Wayne Wickens.
“Waantoe is julle oppad?

My pa beduie.  Ons weet eintlik nie.  Ons soek die pad na die Olifants se mond toe...
“Dis myngebied” sê oom Wayne. “Julle sal nie daar kan in nie.”

Ons weet.  Die teleurstelling duidelik op ons gesigte.  Ons het maar net gehoop ons kan iemand oortuig...

My pa verduidelik oor my stap.

“Volg my”.  Oom Wayne wil meer weet.

In Julie vanjaar het ek en my pa die roete wat ek sou stap per motor verken.  Deel daarvan was om te probeer toestemming kry om in die verbode areas te stap.  Areas soos die gedeelte langs die Olifantsrivier waar TransHex diamante myn.

Sonder `n behoorlike plan, het ons by Koekenaap afgedraai op die Robeiland-pad in die rigting van De Punt, waar die myn is.  Ons besluit om eers daar met die hoof van sekuriteit te praat.  As dit nie werk nie, gaan ons die mense by hul hoofkantoor in Parow sien ...

Dis op hierdie grondpad wat oom Wayne ons ontmoet het in Julie - die kennismaking hier bo.  En waarnatoe hy ons nou vat weet net hy alleen.  Ons draai af. `n Hek word oopgemaak en ons ry met `n paadjie in die rigting van die rivier.  Tot daar waar `n krans die rivier ontmoet.  Oom Wayne se Boesmansgrot-kampeerterrein.  Hier het hy verskeie huisies in die grotkompleks ingebou. Kompleet met aparte storte, toilette en kombuisie.  `n Projek in wording...

Dis hier waar ons eers moet verduidelik.  Oom Wayne, een van die boere hoër op teen die rivier, ken hierdie wêreld soos die palm van sy hand.  En dis nie al wat hy ken nie.  Hy beskou homself as `n amateur “amper alles”.  Hy het geen opleiding ontvang nie, maar dis verstommend wat die oom alles weet van argeologie tot geologie.  `n Baie interessante oom.  En een met baie oorredingsvermoë.


Toe hy hoor van my stap en die rede daarvoor, is hy vuur en vlam.  Hy sal gou vir Pierre Kotse, hoof van die sekuriteit van die area, bel en reël dat ons `n draai by die mond kan gooi.  Pierre wou nog teëstribbel, maar oom Wayne hou net aan.

“Dis mak mense.  Jy kan hulle maar laat deurgaan”

So het dit dan gebeur dat ons die mond besoek het.

Maar eers moes ons gaan kyk na al die goed wat oom Wayne gemaak het.

Min het ons toe geweet dat ons vir Kersfees hier sou oorslaap...

Ons het telefoonnommers uitgeruil en is met die belofte dat oom Wayne vir ons gratis verblyf sal sorg in `n huisie wat hy in die myngebied teen die Olifantsrivier het, is ons daar weg.

Nou is dit amper ses maande later.  Oom Wayne is `n man van sy woord.  Hy bel ons juis toe ons al ons voorraad vir die naweek in Lutzville gekoop het.  Wanneer kom ons?  Die reëlings het bietjie verander.

My pa sê ons is nou daar en ons ry.

Die huisie wat oom Wayne oorspronklik vir ons beplan het, se geriewe is bitter min.  Hy voel te sleg om ons daar te laat bly.  Ons kan gratis by die Boesmansgrot-kampterrein bly.  Daar is niemand daar nie en ons kan sommer die kamp vir hom oppas, terwyl hy vir `n paar dae Dwarskerbos toe gaan vir die feesdae.


My ma is opgewonde.  Toilette.  Vyfster-verblyf!

Vir my ma en Salomien is dit nie altyd maklik as ons op een van ons trips gaan nie.  Hulle suffering is darem nou verby...


Oom Wayne kry ons by die grotte en verduidelik hoe alles werk.  Hy is pas terug van een van sy staptogte langs die kus.  Behalwe dat hy boer, werk vir TransHex en dele van sy grond verhuur, bied hy ook staproetes aan.  Die Swart Tobie (Black Oystercatcher)- staproete.  Die voëltjie waaroor ek navorsing doen tydens my stap!


Die Here het vir ons `n wonderlike plek gegee waar ons net kan ontspan en van sy handewerk kan geniet.  Die rivier vloei 100m van die grot en huisies af.  Ons kan net daar sit, bietjie vis probeer vang en lees.  Hier is heelwat voëls.  In die koppies is slangverklikkers, klipstreepkoppies en kransswaels.  By die rivier vlieg verskillende soorte swaeltjies, groot sterretjies, slanghalsvoëls en Afrikaanse paddavreters.  Ons hoor visarende. Dassies bak teen die kranse en `n klein grysmuishond kom loer so nou en dan of daar iets is om te aas.  In die oggende speel die otters voor ons in die water.  `n Mannetjie, wyfie en drie kleintjies.


Ons geniet en rus...

Ons maak `n punt daarvan om Kersdag spesiaal te maak.  Ons mis dit om saam met familie en vriende kerk toe te gaan.  Om daarna saam te kuier en om `n tafel te sit en te geniet van die oorvloed wat die Here altyd gee.
  
Dis `n anderste Kersfees. Net ons.  Ons en die ander skepsels van God langs die rivier.
Nie minder spesiaal nie.  Christus het ook vir hierdie deel van ons land gekom...

Ons berei `n tafel voor in die grot en geniet van die oorvloed wat die Here ook vir ons hier en in die afgelope weke gegee het.


En ons is dankbaar.

Ons vier fees.

Want God se enigste Seun het na hierdie wêreld gekom.  Om ons te verlos.  Die enigste redder vir hierdie aarde.  

Net Hy ALLEEN.

4 comments:

  1. Ons het alles eerstehands gehoor toe ons kom kuier het by Boesmansgrotte, maar om dit nou weer te lees is spesiaal. Vasbyt seun.

    ReplyDelete
  2. Sjoe... dis omtrent 'n lewensreis, liggaamlik, maar veral geestelik. Ook vir julle as gesin is.'n Besondere geleentheid wat die Here julle gee! Mag die Hy julle bly verryk en behoed. Groete vd die Klapwijke langs die Touwrivier.

    ReplyDelete
  3. Dit is nie meer nuus dat DR Ryk van wealthylovespell@gmail.com 'n man is wat deur God gestuur is om die eensame, onderdrukte, verlate en gebroke harte te help nie. Ek het onlangs kommentaar gesien hoe hierdie man help om verlore liefde in 'n baie kort tydjie te herstel en ek is lankal depressief, want ek het my man na 'n ander verloor. Ek het kontak gemaak met hom en ek het gesê ek sal resultate in 2 dae kry, maar ek het dit eintlik nie glo nie, soos ek dit van ander gehoor het wat ek gekontak het en tog niks anders as tot my grootste verrassing nie, het alles gebeur soos belowe en ek kon Moenie hierdie vreugde hou nie, maar het daartoe gelei dat hierdie blog gepraat het oor die goedheid wat deur dr. wealthy aan my gewys is. As jy verlore of verward is, bekommer jou nie meer nie en kontak Dr Ryk op wealthylovespell@gmail.com of jy Whatsapp hom. + 2348105150446 Hy is God gestuur.?

    ReplyDelete
  4. Hello Everybody,
    My name is Mrs Sharon Sim. I live in Singapore and i am a happy woman today? and i told my self that any lender that rescue my family from our poor situation, i will refer any person that is looking for loan to him, he gave me happiness to me and my family, i was in need of a loan of $250,000.00 to start my life all over as i am a single mother with 3 kids I met this honest and GOD fearing man loan lender that help me with a loan of $250,000.00 SG. Dollar, he is a GOD fearing man, if you are in need of loan and you will pay back the loan please contact him tell him that is Mrs Sharon, that refer you to him. contact Dr Purva Pius, Email urgentloan22@gmail.com call/whats-App Contact Number +918929509036 via email:Thank you.

    ReplyDelete