Nood
Dinsdag 26 Des 2017
Ek het nie eintlik mense hier verwag nie...
Toe ons in Julie vanjaar hier kom kyk het, kon `n mens nie eens hier ry nie. Net soutpanne en modderpaaie wat die vloedvlakte deurkruis. Maar in die somer lyk dit hier by die mond van die Olifantsrivier heeltemal anders.
Waar ek gedink het die mond sal beskermde gebied wees, staan tente en karavane. Iemand het probeer om met paaltjies die paaie na die mond toe, toe te maak. Maar dit stop nie die mense nie. Daar word net nuwe paaie om die paaltjies gemaak. Waar die toiletgeriewe in hierdie sensitiewe area is, kan `n mens net raai...
In `n gat langs die pad het iemand 34 motorbande uitgegrawe. Ons het dit getel.
Die borde wat opgesit is om die mense streng te waarsku om nie op die strande te ry nie, kon hulle ook maar gelos het. Die boetes van tot R2000.00 of ses maande tronkstraf skrik hulle ook nie af nie...
Ek wonder hoeveel van hierdie mense besef dat twee van die vreemdste skipbreuke in ons land se geskiedenis, juis hier plaasgevind het. Die Nederlandse skip “Meteren” was waarskynlik een van die eerste skepe wat hier vergaan het. Nie as gevolg van die weer of agterlosigheid nie, maar omdat daar niemand op haar was wat die boot kon stuur nie...Almal was doodsiek aan skeurbuik. Oorgelewer aan die wind en seestrome het dit eenvoudig in die rigting van die mond gedryf, op die rotse beland en gesink. Slegs nege van die bemanning het lewendig die land gehaal. In 1817 het die “Elisabeth”, `n Engelse skip, by die walvisstasie op Robbeneiland gelê om olievate te laai. `n Entjie daarvandaan het een van die tronkbewaarders, in die nag, vir elf tronkvoëls gewere en ammunisie gegee en hulle gehelp om te ontsnap. Die elf het met `n bootjie na die “Elisabeth” toe geroei en dit oorgeneem. Weke later het nuus die Kaap bereik dat `n skip gestrand het in die Olifantsriviermond. Die “Elisabeth”. Wat van die bandiete geword het, weet niemand nie...
Ek begin die tweede fase van my staptog met nuwe moed. Die drie dae rus het my goed gedoen. Die meeste pyne het verdof en die seer spiere voel weer reg vir oefening.
En ek weet dat Maricia, my niggie, oppad is uit die Kaap...
Voor ek begin, soek ek eers vir nurdles. Gelukkig kry ek niks.
Volgens ons beplanning sou ek die eerste 500km alleen stap. Die laaste bietjie minder as 500 sou Maricia my vergesel. Nie die hele tyd nie. Net gedeeltes. Maar dis net wat ek nodig het om die alleenheid bietjie te breek. Iemand om mee te gesels.
Ek kan nie wag nie...
Vandag voel nogal soos die dag toe ek die eerste keer afgelaai is by die Oranjeriviermond. My lyf moet weer bietjie gewoond raak. Alles voel vreemd. Hopelik kom ek gou in my ritme en is die dag nie soos daardie eerste dag nie...
In die verte kan ek die ystertrein sien. Die lange wat van Sishen na Saldanhabaai loop. Alhoewel dit seker kilometers van my af is, kan ek dit duidelik hoor loop op die spore. Dit is die dag na Kersfees. Almal is nog in `n feestelike stemming. Ons het oppad hierheen deur Lutzville `n paar gesien wat dalk nog te veel in `n feestelike stemming is... Soos die een wat slinger-slinger die bakkie gesalueer het, toe ons verby ry. Maar die trein wys my daar is mense wat moet werk vandag. Die wieletjie wag vir niemand nie. Geld ken nie feesdae nie...
Om by Strandfontein uit te kom is redelik voor die handliggend. Jy stap net kuslangs. Die paadjie wat ek volg lei my uiteindelik tot op die strand. Maar hier voor my is `n klomp rotse. Ek moet weer op teen die kranse om `n paadjie te vind wat my verder kan neem Ek hoop nie dis te ver nie, want ek is nie lus vir `n geklouter nie.
Ek kry `n ander paadjie wat my terugvat strand toe. Hierdie keer lê die strand van Strandfontein oop voor my. Hier is al heelwat mense. Sommiges stap `n entjie. Hand-aan-hand. Ander loop met hul kindertjies. Een speel al met `n vlieër in die wind. Die opvallendste is egter die mense wat so draf. Dit lyk of `n klomp mense gewetensprobleme ontwikkel het oor die hoeveelheid kos wat hulle op Kersdag geëet het. Ander het besluit dat hierdie vakansie die regte tyd is om fiks te word. Want die meeste van hierdie drawwers hardloop net so `n paar honderd treë en gaan staan dan eers hande op die knieë om te rus... Sweet. Hyg na asem. Totaal onfiks.
Dalk moet ek nie te hard op hulle wees nie. `n Mens moet êrens begin. En nou is altyd die regte tyd.
Ek stap by die hoefyster-kampeerterrein op. Die steil bult op. Volgens die kaart moet hierbo `n paadjie wees wat in Doringbaai uitkom. Ek kry dit na `n tydjie. `n Tweespoorpaadjie met `n bordjie. Twee stapmannetjies. Later nog `n bordjie: Namaqua West Coast. Ek weet nie of dit `n wandelpad is of `n staproete nie. Ek stap op `n grondpad in die “right general direction”. Dis al wat saak maak.
By `n fietsry-bordjie staan TRONNOX. Ek weet Tronnox is `n mynmaatskappy. Ek weet nie of ek op verbode grond is of dat die paadjie deur Tronnox geborg word nie, maar ek besluit om aan te hou tot hulle my stop. Dit lyk darem of die pad gereeld gery word.
Ek sien nou ek kon die hoefysterbult uitgesny het as ek reguit strandlangs aangestap het. Baie energie vermors, maar dis nou verby. Ek is nou hier. Help nie mens kla oor sulke goed nie. Die pad waarop ek loop, stap lekker en ek behoort goeie tyd te kan maak.
Op die paadjie kom ek op `n gesinnetjie af. `n Man, vrou en twee hoërskoolkinders. Van Bellville. Die tannie lyk bekend. Hulle wou weet wat ek doen en waarheen ek oppad is. Hulle gaan my volg op die Blog en Facebook. Nog so 9km dan is ek in Doringbaai en dan nog net so vyf tot by my bestemming. Dit is waar my niggie Maricia by my sal aansluit.
My pa-hulle is solank Lambertsbaai toe om my verblyf vir môre-aand daar te reël en my kos en kaarte daar af te gee. Ek ken nie die mense waar ek gaan oorbly nie. Iemand het dit vir ons gereël... Gelukkig is Maricia dan ook darem daar...
Ek vorder baie stadig nou. Hier is so baie mooi foto-geleenthede. Ek het nou vir `n tydjie op `n enkelspoorpaadjie naby aan die kranse gestap met hoë drop-offs see toe. Maar dis pragtig. Die mooiste stukkie kus wat ek nog gestap het. Ek het `n “selfie-stick” met my kamera en trekking poles gemaak om `n paar interessante fotos met my op te neem. Die kamera is maar swaar, maar ek dink dit het gewerk. Hoop die foto`s kom darem mooi uit...
Ek het na negentien dae se stap iets agtergekom van my kamera. Ek wens ek het dit van die begin af geweet. Die laaste een van my timer settings is “custom”. Dit beteken ek kan die timer stel vir hoe lank ek wil en hoeveel foto`s dit moet neem. Nou hoef ek nie meer my nek te breek om in posisie te kom as ek myself wil afneem nie!
`n Pragtige kransvalk vlieg oor en herinner my weer hoekom ek stap...
Voor Doringbaai is `n groot quarriegat. Baie op en af. Steil. Die ergste is dat jy nie weet of jy op die regte paadjie is nie. Hier is so baie wat in verskillende rigtings gaan. Dit tap jou energie. En die omgewing is afskuwelik. Uitgrawings oral. Geen lewe nie. Net sand en klippe.
Oor `n randjie sak die pad na nog `n deel van die uitgrawings. Hier staan `n paar tente in die middel van nêrens. Mense kamp hier wild op die voorstoep van Doringbaai. Ek wonder of dit wettig is...
Dis winderig op Doringbaai. Ek rus bietjie. Wil uitvind of my pa-hulle of Maricia-hulle al naby is. Die whatsapps wil om een of ander rede nie deurgaan nie. By die winkeltjie koop ek vir my tonic water. Dis omtrent al wat in die winkeltjie was. Gelukkig hou ek daarvan. Selfs al is dit warm proe dit koud.
Die foon bly sukkel. Die boodskappe wil nie deurgaan nie en ek kan ook nie bel nie. Ek het nie meer airtime nie. Ek is bekommerd dat ek nie vir my pa kan laat weet wanneer ek by my bestemming aankom nie. En waar ek presies is nie. Niks kom deur nie en niks gaan uit nie. Ek stap die duur winkeltjie in en vra vir die minste airtime wat hulle het. R5.00. Ek het nou seker al `n uur gesukkel...
Net buite die dorp kom `n klompie whatsapps deur.
Ek het nog so 4,5km se stap oor vir die dag. My pa-hulle is nog in Lambertsbaai. Dertig kilometer as jy Transnet se pad mag ry. Maar daarvoor het jy deesdae `n permit nodig. Dis nie meer soos die ou dae wat jy kan tolgeld betaal en deurry nie. My pa het seker by agt mense gevra vir toestemming of `n permit. Niemand wil help nie. Een van die mense het gesê hy kan R100 betaal en aansoek doen. Toe my pa vra wat is sy kanse om gekeur te word, was die antwoord 0%! Wat help dit jy betaal dan?! Selfs toe hy vra of hy die pad mag ry as daar iets met my gebeur was die antwoord “Nee”. My pa is nie te bekommerd hieroor nie. As daar regtig moeilikheid is sal hy met polisie begeleiding injaag...
Ons het ook deur mnr. Lachlan Macdonald, die Omgewingsbewaringsman van die omgewing, iets probeer reël. Al raad wat hy gehad het was om die mense by die tolhek te “bribe”. Dis algemene praktyk hierrond lyk dit my. Jy betaal omkoopgeld - dan laat hulle jou deur.
My pa sal dit nie doen nie...
Dit beteken hy moet `n hengse ompad ry om nog tot hier te kom. Ek gaan seker `n tydjie vir hulle op die strand moet wag.
Dis nou al redelik hoogwater. Dit beteken ek kan nou nie meer op harde sand stap nie en sagte sand is nou vir eers my voorland. Die strand loop ook teen `n helling wat die stap nog verder bemoeilik. Gelukkig is dit nou nie meer te ver nie. Die onstellende van hierdie gedeelte is die nege dooie robbe wat ek nou al hier gevind het. Mense ry ook hier op die strand. Op een plek sommer bo-oor `n rob. Ek hoop die rob was al dood voor die tyd... Ek het immers al `n paar robbe langs die kus gekry wat bietjie op die strand kom lê het om te rus.
By die koördinate aangekom waar ek en my pa besluit het ons moet slaap, het ek `n valleitjie tussen die duine gesoek en vir my `n skuiling gebou. Ek is reg om nog lank te wag. My pa het my laat weet oom Herman-hulle eet eers iets in Klawer. Hulle sal oor twee ure hier wees.
Ek lees maar `n bietjie.
Eindelik bel my pa. Hulle is amper hier. Ek moet my location stuur op my foon en pad toe kom. Dis nog `n hele entjie se stap na die grondpad toe. Deur digbegroeide duine. Omdat ek bang is hulle ry verby hardloop ek deur die bossies en sand. Op en af oor die duine. Twee vaalribbokke spring verskrik weg agter die bosse waar hulle geskuil het. My hart gaan staan in my keel...
Nog van ver af sien ek my pa verby ry. Daar is niks wat ek kan doen nie... Dan draai hulle gelukkig om en kom terug. Ek wag vir hulle. Maricia hulle is nog nie daar nie. Sal nog so `n tydjie vat. My pa en Salomien stap saam met my strand toe. Gelukkig het ek geleer van `n vorige ondervinding waar ons gestrand was langs die see hoe moeilik dit is om jou tent tussen die duine te vind en het ek my skuiling se posisie gemerk op die gps. Nou was dit nie so moeilik om die goedverskuilde plekkie te vind nie. Ek wys vir hulle die vaalribbokskedel wat ek gevind het. Trots gaan sit ek in die skuiling wat ek van my stapstokke gebou het. Veilig teen die brandende son en sandblasting wind.
`n Uur later daag Maricia se gesin op. Hulle gaan vir die volgende twee nagte by my pa-hulle in die Boersmangrotte slaap, terwyl Maricia haar vuurdoop kry saam met my.
Ons tente was vinnig opgeslaan. Daarna het ons op `n duin gaan sit en gesels. Nogals lank. Die wind het net liggies gewaai. Daar was natuurlik baie om oor te praat: my ondervindinge, raad en die pad vorentoe. Ook nuus van my vriende uit die Kaap en Pretoria.
Dit was lekker om vir `n slag dinge saam met iemand te doen. Te toets vir nurdles, kos te maak. Te gesels. Selfs die tandeborsel met seewater was spesiaal. Al het dit aaklig gesmaak.
Toe ons die potte in die see gaan was het, het ons soos klein kindertjies vir die branders weggehardloop om nie nat te word nie.
Toe ek heelwat later badkamer toe gaan in die duine, hoor ek `n motorenjin brul. Ek loop versigtig nader en sien hoe `n bakkie in die sand vassit. Tussen die duine. Wat soek die mense hier? In die middel van nêrens. Gelukkig is daar reeds `n ander bakkie wat hulle uitsleep en hoef ek nie my teenwoordigheid te verraai nie. Sonder `n woord draai ek om. Terug na ons veilige skuilplek.
Van waar ons tente gestaan het, kon ons Doringbaai se ligtoring duidelik in die verte sien skyn. `n Helder baken in die donkerte hier rondom ons. Vanaand is daar nie mis nie. Die sekelmaantjie van die afgelope paar dae is besig om voller te word. Die melkweg met sy miljoene sterre duidelik teen die donker nag. Ek voel soos altyd God se nabyheid. Voel veilig by Hom. Die sterre soos sy oë op my.
Maar dit was lekker om my niggie hier by my te hê. Ons kom al van kleintyd af baie goed klaar. Sy is die toughste meisie wat ek ken. Dis hoekom ek vir haar gevra het om saam met my te stap.
Môre gaan `n goeie dag wees. Ek het iemand om saam met my te stap...
Woensdag 27 Des 2017
Ek bel my pa. Maricia is op. Klaar. My dapper niggie kan nie meer nie. Die afgelope klompie kilometer deur die dik sand was net te veel. Hoe lank sy nou al so voortgesukkel het sonder om my te sê, weet ek nie. Maar as Maricia opgee dan is dit ernstig. Sy is geestelik van die sterkste mense wat ek ken...
Dit het begin met haar heupe. In die potjie. Daar waar jy nie met salfies en massering kan bykom nie. Sy het anders begin loop en so haar knieë ooreis. Die spiere en liggamente agter haar knieë het begin pyn. Haar kuite. Later was dit so seer dat sy nie eens meer haar voete gevoel het nie. Haar bene vorentoe kon beweeg nie.
Ek het gesien sy begin stadiger stap, maar ek het gedink sy is moeg. Om haar te spaar het ek pad toe beweeg en vir `n tydjie daar gestap. Selfs deur hekke en drade geklim om op Donkiebaai Privaat Natuurreservaat se gronde te stap. Om Kanon en sy rotsagtige strand. Dit het beter gegaan op die gelyk grond. Sy het beter gelyk...
Maar `n tydjie daarna moes ons weer strand toe. Ons stap `n lang stuk deur die veld om mense te vermy. Die bordjie by die hek waar ons nou net deurgeklim het, het nie verniet gesê “Private Road. No Entry. Trespassers will be prosecuted” nie. Ons loop oor `n strandgedeelte met baie mosselskulpe. En krewe. Dooie heel krewe. So baie soos ek nog nooit gesien het nie. En `n blaasopie. Was hier onlangs `n rooi gety? Het `n stroom hulle almal hier uitgespoel? Of het hulle uitgeloop soos al by Elandsbaai gebeur het? En hoekom net hier?
Ons stap aan. Die strand verander weer. Ons het `n keuse. Dik sand toe... Of die skuins harde sandoppervlak by die water. Moordend op jou hele “chassis”.
Ons kies die dik sand. Die pyn vreet weer aan Maricia. Ek sien dit aan haar manier van loop. Sy raak agter. Ons stap al stadiger.
Rus gaan nie help nie.
Sy kan nie verder nie.
Maar wat nou?
Ons is hier op `n verlate strand, ver van enige paaie af. Ek kyk op my kaart. Ek weet omtrent waar ons is... Om die beskawing te bereik moet ek omtrent 10 kilometers met haar deur duine ploeter of deur die diksand strandlangs na Deurspring se vakansiehuise.
Ons sal `n keuse moet maak. En gou ook. Hier is nog net twee plekke bymekaar waar my pa met die motor by ons kan uitkom. Daarna sal Maricia moet klaarmaak. Nog omtrent tien tot vyftien kilometer stap tot by Lambertsbaai.
Ons stap `n entjie aan en kom by `n kampeerplekkie teen die strand af. Mense. Hulle kyk ons verwonderd aan. Niemand steek `n hand uit of kom praat met ons nie...
Ons is indringers. Hulle het duur betaal vir hulle privaatheid...
Hier is verskillende paaie binneland toe. Maar dis nog steeds kilometers grootpad toe.
En ek kan sien sy kan nie meer nie...
Maricia wil my nie terughou nie. Dis `n moeilike besluit. Maar die regte een.
Haar lyf wil nie meer nie...
My pa-hulle is enigiets tussen 80 en 100 km hiervandaan. En `n groot deel is bitter slegte grondpad...
Ek bel hom.
“Ons kom. Stuur my jou location.”
Na `n tydjie: “ Sorg dat Maricia OK is. Sal laat weet wanneer ons oppad is.”
`n Tydjie later: “Ons is oppad. Maak seker sy is veilig. Stap aan. Jy het nog ver om te gaan.”
Ek wil nie regtig nie, maar die GPS wys dat ek nog 5 ure se stap oor het vir die dag. Deur dik sand. Maricia het genoeg water en kos. Ook haar tent en slaapsak as sy dit sou nodig kry. Die kus lyk verlate. Hier iewers is darem “mense”. Sy behoort OK te wees.
Teen die tyd dat ek teësinnig wegstap, is my pa-hulle omtrent `n halfuur weg. Dis darem nie te lank nie...
`n Entjie verder is `n gesinnetjie besig om `n tent op te slaan in `n privaat karavaanpark. Ek weet nie of die man en vrou stry gekry het met die opslanery nie, maar toe ek nader kom vra die man vir my waarnatoe ek gaan en of ek nie asseblief sy vrou ook wil saamvat nie...
Die gevoel van bekommernis oor Maricia gaan nie weg nie. Die stupid foon van my sukkel ook. Dit wil nie meer whatsapp nie. Ek probeer bel. En weer. En weer. Dis net `n gekraak oor die foon. Ek kan nie uitmaak wat my pa sê nie.
Ek kry `n whatsapp...
“Ons kan nie by haar uitkom nie. Ons is reg oor die plek, maar hier is `n hoë heining. Die hekke verder terug is almal met dik kettings gesluit.”
Moet ek omdraai? Ek het intussen al meer as vier kilometers afgelê. Deur dik sand.
Ek is bekommerd.
Ek probeer weer bel. Kom nie deur nie. Net `n gekraak.
Ek kry weer `n boodskap: “Gert Engelbrecht, eienaar van Sewenputs Natuurreservaat, weier om ons op sy gronde toe te laat. Ons kan nie by Maricia uitkom nie.”
Ek is woedend.
“Het pa vir die oom gesê dis `n noodsituasie. Sy kan nie stap nie.”
My Pa: “Ons het! Hy gee nie om nie. Hy het ons met `n string vloekwoorde weggejaag en weggery.”
Later: “Ons bel Lambertsbaai se polisie. En oom Giel. Moenie worry nie. Maak klaar. Ons sal dit uitsorteer.”
Oom Giel Louw is die oom waar ek op Lambertsbaai slaap. Tannie Elizma de Kock, `n hokkie-vriend van my se ma, het dit vir my gereël. Op die nippertjie. Sy het gehoor ek en Maricia moet hier êrens tussen die duine slaap en het begin bel...
Maar wat bedoel my pa met “moenie worry nie?. Hoe kan ek nie worry nie?? Dis my niggie wat daar langs die strand sit. Dit help nie ek draai om nie. Ek is nou al `n paar uur se stap weg. My pa sal `n plan maak. Al moet hy die seeredding intrek...
Ek stap. Maar kan nie die bekommernis afskud nie. Ek stap al vinniger. Amper 7km per uur deur die los sand. Ek sien Lambertsbaai `n hele entjie voor my en probeer bel. Vir Maricia.
“Waar`s jy?”
“Nog steeds op die strand”.
Dis drie ure later!
As ek by Lambertsbaai kom kan ek dalk iets met oom Giel reël...
Net buite Lambertsbaai kry ek die boodskap: “Ons het Maricia”.
Dankie tog.
Die “reddingspan”, my pa, oom Herman (Maricia se pa) en oom Hanu Conradie (my oom uit Kakamas) het die buurplaas, “Deurspring Natuurreservaat” gekontak. Oom Jack Mellet, die opsigter, was binne oomblikke daar om hulle in te laat en het hulle vergesel tot by die naaste punt aan Seweputs NR. Tot by die grensheining. Vandaar het my pa en oom Herman kuslangs gestap tot by Maricia en haar teruggebring.
Die Here het weer gesorg. Dankie oom Jack!
Terwyl ek deur Lambertsbaai na Strandstraat toe stap waar oom Giel woon, wonder ek oor Gert Engelbrecht van Seweputs NR. Watse soort mens is hy dat hy nie mense in nood wil help nie? `n Meisie van negentien jaar... Wat het hom sover gedryf? Of is hy maar net so `n slegte mens? As hy my pa-hulle om een of ander rede nie vertrou het nie, kon hy mos saamgery het om seker te maak my pa-hulle rig geen skade aan nie.
Dis nie die eerste keer op hierdie tog dat ek by myself dink: “Ek verstaan nie mense nie.”
Maar Maricia is veilig. Dis al wat tel.
En ek moet oom Giel se huis kry. Ek het nie `n idee waar dit is nie. Ek sal langs die oom verby stap en nie weet dis hy nie... Nog nooit gesien nie.
Ek loop vir `n tydjie agter my neus aan in Lambertsbaai. Nie heeltemal seker waarnatoe om te stap nie. Ek moet definitief `n ander foon kry. Dit reload nou ook heeltyd. Ek kry nie gebel of gewhatsapp nie.
Skielik kan ek weer bel.
My pa beduie: Stap tot by die hoë toring van die fabriek by Bird Island. Vandaar af stap jy see toe. Kaap se kant toe. Die pad wat jy daar kry is Strandstraat. Soek vir `n huis met `n gazebo met groen skadunet oor.
Ek stap. Kry die fabriek. Sien die Malgasse draai oor Bird Island. Ek kan sommer sien hier is duisende. Toe ons laas in 2011 hier was, was hier so min, ons het omtrent `n rand per Malgas betaal...
Ek kry die huis met die skadunet oor die gazebo. Die man kyk my vreemd aan... Die mense weet nie van my nie... “Skuus oom. Ek is seker by die verkeerde plek”. “Ek dink so” sê die oom met `n laggie.
Ek stap aan. Voor my in die pad staan twee mans. Hulle glimlagte groter as die banier wat hulle vashou.
“Finish – Tour de West”
Weskus gasvryheid. Eindelik...
`n Halfuur later daag my pa-hulle met Maricia by oom Giel, tannie Marlene en hul seun Johan op. Toe kuier ons eers lekker onder die gazebo. Natuurlik moes juffrou Augustyn, een van my gunsteling-onderwyseresse wat op Lambertsbaai vakansie hou, ook kom kuier. Hulle is oom Giel-hulle se bure in Bellville.
“Waar`s Jacobus? Waar`s my kind?”, was haar eerste woorde toe sy en haar man daar opdaag. Sy is nog nie eens behoorlik uit die motor nie, toe vra sy al. Die kort juffroutjie omhels my. Dit was wonderlik na hierdie uitdagende dag.
Maar daar wag nog `n verassing op ons...
Oom Giel en tannie Marlene wil ons bederf en het by Muisbosskerm bespreek. Tertius Turner , eienaar van die gewilde en beroemde eetplek, was dadelik vuur en vlam toe hy van “Footsteps to Good Hope” hoor. Die stappers kan gratis kom eet. Hulle sponsor.
Onbeskryflik. Dis al wat ek kan sê. Die atmosfeer. Die kabeljou en tunasteaks. Die rollmops (suur haring). Gebakte stokvis. Calamari. En natuurlik die potbrood. Dit was tannie Marlene se belangrikste dis. Saam met boontjiebredie en soetpatat. Sy hou nie juis van seekos nie. Allergies vir vis...
Worsie Visser se liedjie “Ou Edward se skerm” speel oor die speakers.
“As die suidoos jou daar uit waai.
Ons roep daai plekkie mos Lambertsbaai.
Die koue seewater wat daar aan die Weskus is.
Daar vang ons snoeke en lekker hotnotsvis.
En met die Olifantsrivier hier in ons land, sal sy wyn jou gat so lekker stamp.
En in die Muisbosskerm daar sing ons saam.
Dis hier waar tradisie nog regop staan...”
Oom Giel en tannie Marlene het hierrond grootgeword en albei in Leopoldville se klein plaasskooltjie skool gegaan. Twee klasse: Sub A tot standerd twee en standerd drie tot standerd vyf. Hulle ken baie verhale van die kontrei en oom Giel is `n bobaas verteller. Die ondeundheid straal uit sy oë. Die kinders van Vredelust is bevoorreg om so `n onderwyser te hê.
So sorg die Here.
Na `n swaar dag, fisies en geestelik, bring Hy weer rustigheid in ons harte en gee Hy ons weer nuwe krag. Bring Hy wonderlike mense, 'n Mellet,
die Louws en die Turners, op ons pad.
Baie dankie aan die Turners van Muisbosskerm. Ons sal julle gasvryheid altyd onthou.
Dit was baie spesiaal.