Monday 1 January 2018

Woes en leeg: Maandag 1 Januarie 2018

Lees: Gen 1:2 “En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters” (OV)

Was jy al diep in ‘n woestyn in die middel van ‘n snikhete dag? Jare gelede het ek deur ‘n deel van die Negev woestyn gestap. Daar was nog hier en daar tekens van lewe in die klowe, maar as jy uitstyg en rondom jou kyk het die landskap woes en leeg gelyk. Op die oog af was hierdie woesteny nie baie bewoonbaar nie. 

Alhoewel hierdie beeld die ryke lewe wat daar wel in die woestyn kan wees, verbloem, is dit tog behulpsaam om te probeer verduidelik wat in hierdie teks staan.  God het die hemel en aarde geskep, maar dit was eers nog leeg en chaoties. Lewe was nog nie moontlik nie, die aarde moes eers gevul en georden word alvorens dit bewoonbaar sou word. Die duisternis wat daar was getuig ook van onbewoonbaarheid. Die wêreldvloed (ook vertaal met “diep waters” (VB)) is geassosieer met ‘n sterk vyandige mag wat teruggekom het met die sondvloed (Gen 7:10), maar wel ten alle tye deur God beheer word (Ps 77:17).  

Woes en leeg. Tohu wabohu in Hebreeus.  Hierdie mooi rymende klanke word egter later in die Bybel gebruik om die effek van God se oordeel oor sy volk te beskryf (Jer 4:23).   Soos die woestyn op ‘n snikhete middag was die aarde in Gen 1:2 nog nie ‘n plek vir mens en dier om te woon nie, en by tye keer dit ongelukkig weer deur mense se eie toedoen terug na hierdie onbewoonbare staat.

Job getuig daarvan hoe God chaotiese kragte bedwing het om die aarde bewoonbaar te maak (Job 26:7-8, 12). So gou egter as wat God sy Gees, of die asem van lewe wegneem, sterf mens en dier en keer terug na stof (Ps 104:29). 

Die bewoonbaarheid van die aarde is van enorme belang vir God. Die Gees van God het oor die aarde gesweef, soos ‘n arend met groot sorg oor haar kleintjies sweef (Deut 32:11).  

Bedroef ons dan nie die Gees as ons deur ons optrede die wêreld onbewoonbaar maak vir mens en dier?

Sing: Ps 104:5-6

Refleksie: Wanneer word iets woes en leeg? Hoe dra ons as mense daartoe by met ons verkeerde besluite en dade?

No comments:

Post a Comment