Thursday 11 January 2018

3 mm en 5 mensies* : Donderdag 11 Januarie

Lees: Ps 19

Soms ervaar mens tye wanneer die natuur, die woord en aanbidding saamkom in een groot lofsang aan God.  Dit gebeur veel meer as wat ons dink, maar mens moet leer om sulke oomblikke van Godsopenbaring raak te sien. Die skaapherder Dawid het dit raakgesien in Ps 19. Sulke tye gebeur nog steeds. Ek sal van een vertel.

Dit was Sondag 15 Oktober 2017. Die Wes-Kaap sug onder een van die ergste droogtes in meer as ‘n 100 jaar.  Die Sondagkoerant se hoofopskrif langs die pad lees dat die Kaapse waterplan besig is om te flop. Die week daarvoor was daar juis ‘n artikel van ‘n kundige wat aanvoer dat alle menslike planne gefaal het en dit nou maar net Kapenaars self is wie ‘n ramp kan afweer.  

Op pad kerk toe hang daar grys wolke in die hemelruim.  ‘n Stofreentjie begin uitsak. Die erediens begin. ‘n Besondere diens waar twee samewonendes, wie eersdaags gaan trou, saam met hulle drie kinders onderskeidelik belydenis van geloof, volwasse doop en kinderdoop ontvang.  ‘n Godswonder dat mense bely dat  hulle verlossing slegs in Christus te vinde is, die teken en seël van die verbond mag ontvang en in ‘n gemeenskap met ander gelowiges geplaas word. Die teks waaroor gepreek word is Ps 119  - ‘n gedig op die volmaaktheid van die wet (vgl Ps 19:8-12). 

Tydens die voorlesing van die wet het ‘n milde reëntjie hoorbaar op die kerk se ou asbesdak begin uitsak. Hoor, die hemele verkondig die werk van God! Beide reën en Woord bring lewe! (vgl Ps 19:8). Op daardie grys oggend word hierdie simboliek duidelik in - vir die wêreld - ‘n onbeduidende kerkie êrens in Bellville. 

Tydens die gebed na die gemeente se samesang in antwoord op die wetsvoorlesing, het dit nog harder begin reën. Ons mag in ‘n intieme, lewendige verhouding staan met die God wat water gee! Hy gee water om lewe hier en nou moontlik te maak, en ook water wat lei tot die ewige lewe.

Tydens die bediening van die doop was dit doodstil buite.  Die hemelruim hou asem op oor hierdie ongelooflike wonder wat besig is om te gebeur. Die almagtige God wat ons in die skepping mag sien en hoor, het Homself met nog vyf mensies persoonlik verbind en vir vier mog die teken en seël van die verbond bedien word! Die seën word uitgespreek. Gaan die wêreld in en leef nou as hoopvolle, afhanklike kinders onder God se seën! 

Dit het 3mm gereën daardie oggend het iemand later laat weet. Dit het egter gevoel of die sluise van die hemel oopgedraai is.  5 mensies, uit ‘n oormag van ongeloof, het hul Verlosser leer ken. Die wonder is groot. Die droogte is nog nie gebreek nie.  Maar ons is gerus en hoopvol. Here, U is my rots en my Verlosser! (vgl Ps 19: 14).

Die son waaroor Dawid so diep mediteer in Ps 19 mag dan wel onhoorbaar God se eer verkondig, op daardie Sondagoggend het die natuur en die Woord duidelike taal gespreek. God van wonders, met U spring ons oor ‘n muur (Ps 18:30).

Sing: Ps 19:2,5,7

Refleksie: Skepping, die goddelike Woord en aanbidding gaan saam.  Begin vandag al oefen om dit raak te sien.  Kyk hoe die skepping van God se eer vertel. Mediteer oor die volmaaktheid van God se wet. Breek uit in lof vir God se getrouheid en besef die noodsaak van jou verlossing.

*Opgedra aan John en Selena Arends

1 comment: