Tuesday 2 January 2018

Kreature


Donderdag 28 Des 2017

Tannie Marlene Louw hou daarvan om mense te bederf.  Of dit nou my pa eergister is met Krismispoeding en brandewyntert of my ma met spesiale basaarpoeding.  Maar bederf sal jy bederf word.

Terwyl ek regmaak, ruik ek al die spek en eiers. Die tannie het spesiaal opgestaan.  Ses uur die oggend.  In haar vakansietyd.  Die stapper kan nie met `n leë maag die volgende skof aanpak nie…

Terwyl ek my voete versorg, my skoene aantrek en my kamaste vasmaak, is dit asof ek `n ekstra skaduwee het.  Die tannie check of ek alles regdoen.  Die ene besorgdheid. Ek voel eintlik klein by soveel liefde en versorging wat ek in hierdie huis ontvang het…

Oom Giel ken die wêreld.  Hy het grootgeword op die plaas Wadrif, kuslangs tussen Lambertsbaai en Elandsbaai.  In die tyd van ossewaens en donkiekarre was die strand wat ek vanoggend gaan stap, die hoofweg tussen die twee dorpe...

Oom Giel gaan met my vanoggend se skof deur.  Verduidelik waar die sagte en harde sand is.  Waarvoor ek moet oppas.

Ek voel goed vanoggend.  Sterk.  Lus vir die skof.  



Met soveel ondersteuning en raad kan `n mens nie anders nie.

My enigste bekommernis is net die klomp kos wat ek gisteraand en vanoggend geeët het.  Die laaste tyd eet ek maar min.  Ek hoop nie ek moet teveel gaan vandag nie...

Ek is veronderstel om vanaand anderkant Bobbejaankrans, so uur se stap verby Elandsbaai my tentjie op te slaan, maar Oom Giel en tannie Marlene wil van niks weet nie.  Hulle ken die eienaars van Elandsbaai Hotel.  Ek moenie bekommerd wees nie.  Hulle sal reël.
Ek stap met `n geruste hart die oggend daar weg.  Oom Giel-hulle het mos al gewys hulle kan reël…

Ek stap met Strandstraat af.  Regs van my is rotsbaaitjies en die see.  Links vakansiehuise.  Dis nog vroeg.  Sewe uur slaap die meeste mense nog.



Na al die moeilikheid met die selfoon van die vorige paar dae, het my pa `n nuwe een gekoop.  Ons kan nie so aansukkel nie.  Die klankopnames en kontak met die buitewêreld is net te belangrik om kanse te vat.

Ek moet nou net nie dieselfde fout maak as gister en vergeet om te eet terwyl ek stap nie.  Gister se eerste 16 tot 20 kilometer het ongeveer 6 ure geduur.  Dit is net so lank as wat ek die laaste tyd neem om die dertig in klaar te maak.  Die laaste 14 km het ek in twee ure afgelê.  Met net die energie van `n pakkie Oreo-koekies in my maag...
Dit moet nie weer gebeur nie...

Ek moet hou by my beplanning.  Tot dusver het dit goed gewerk.
So ingedagte het ek al weer `n lekker entjie gevorder.
Die gedeelte tussen Lambertsbaai en Muisbosskerm is nie `n lekker strand nie.  Skuins.  Dik sand.  Dit gaan my dood maak.  Ek volg oom Giel se raad en stap op die grondpaadjie 25m van die strand af.

Ek neem `n paar dagligfoto`s by `n verlate Muisbosskerm.  My kamera wou nie gisteraand lekker in die donker fokus nie.  Herinneringe aan `n spesiale tyd...

`n Reuse sterretjie sit voor my op die strand.

`n Ouerige omie kom van voor af op sy fiets aangery.  Kort broek, plakkies met `n Hawai-blomme hemp aan.  Tweede wêreldoorlog staaldak op die kop. `n Pispot vir `n fietsryhoed...

Vandag is daar weer nie wind nie.  En nou mis ek dit...  Dit is nou behoorlik warm.  Nie lank nie of die sweet begin loop.  In my oë in...  As gevolg van die sweet kan ek eintlik ook nie meer deur my sonbril kyk nie.  Elke nou en dan vee ek oor my voorkop.  Ek is nie die tipe wat met `n sweetband wil loop nie.  Nou moet ek maar suffer.  



Ek loop plek-plek sandstrand en duine.  Afhangende wat die beste lyk.  Die sand is in elk geval orals ewe dik.  Die duine het darem nog `n paar bossies wat die sand vashou.
Oom Giel het my gewaarsku...  Nou voel ek dit.  Hierdie sand laat jou nogals werk vir jou kilometers.  Baie moeite.  Min spoed.  Die strand is skuins see se kant toe en die dik sand vorm sulke sandduintjies.  Nie baie hoog nie, maar nog steeds op en af.  Oom Giel het darem goeie nuus gehad.  Voor Elandsbaai kry `n mens `n lekker breë strand.  Goeie harde sand om op te loop.  Ek kan nie onthou of dit 5 of 10km is nie...  Ek hoop 10.  

My bene is nie seer nie en ek stap eintlik redelik gemaklik.  Net bietjie stram.

Ek het nou al twee en `n half uur gestap.  My Game-koeldrank het binne hierdie tyd van yskoud na vuurwarm verander.  Dit gee `n mens bietjie `n idee hoe warm dit is.  Ek gaan nou-nou vir die eerste keer rus.

Dis jammer die GPS het nie plekname op sy kaart nie.  Ek is nie heeltemal seker waar ek nou is nie.  Die GPS wys ook net hoeveel kilometers dit na my bestemming is, soos wat die kraai vlieg.  Dit sny deur die baaie en deur die punte `n reguit lyn.  Dit is `n ingewikkelde storie om uit te figure waar ek presies is.  Dalk moes ek eers die manual gelees het...



Elandsbaai het `n prominente punt wat in die see inloop.  Ek kon dit al van Lambertsbaai af sien.  Dit beteken dat dit my al koggel vir die afgelope vier ure wat ek stap.  En dat dit so sal aangaan vir die volgende tydjie wat ek nog moet stap.  Ek het omtrent nog  twee ure om te gaan.

Ek is veronderstel om vyf kilometer voor Elandsbaai mense te ontmoet wat saam met my wil stap.  Ek weet nie hoe hulle lyk nie.  Ook nie of dit `n man of vrou is nie. Ook nie waar hulle my gaan kry nie. Kan nog interessant raak...

Ek is nou al verby die vyf kilometer merk voor Elandsbaai waar ek hulle sou ontmoet.  Geen teken van enige stappers nie.  Ek bel my pa.

“Lindsay Curran se dogter het in kraam gegaan.  Hulle is oppad Kaap toe.  Stap nie meer saam nie”

Dis eintlik jammer.  Lindsay en `n klompie ander bekommerde inwoners van Elandsbaai het ons op Facebook gekontak en gevra of hulle kan saamstap.  Hulle wil ook met ons gesels oor die moeites wat hulle ondervind met omgewingsbewaring op hulle dorp.  Ons uitgenooi vir `n braai ook.

My pa sal wel `n plan B hê...

Die treinspoor wat naby die strand verbyloop, waarvan oom Giel gepraat het, lê hier voor my.  Volgens hom is dit van hier af nog vier kilometer dorp toe.  Die harde sand behoort ook nou enige tyd te begin.

`n Klein entjie verder wag oom Giel, tannie Marlene en Maricia langs die strand.  Hulle kom kyk net of ek nog OK is.  Hulle is oppad Elandsbaai Hotel toe om my verblyf te reël.  Sommer daar in die sand wys oom Giel vir my die gaatjies waar die groot sandluise woon wat in die nag die kelp en dooie robbe vreet.  Ek het altyd gedink sandluise is klein, maar hierdie goed is so groot soos die helfte van jou duim.

Met sy vertrek sê oom Giel vir my dat hy vir my iets kouds by die hotel sal bestel.  Dit gaan van my afhang hoe koud dit gaan wees as ek daar aankom.  Vir oulaas nog `n bietjie motivering...  Ek het nog `n paar kilometers om te gaan.

Net voor Elandsbaai, terwyl ek ongeveer 25 meter van hom af is, het `n uitlander–idioot `n gholfballetjie op die strand neergesit en dit rakelings by my verby geslaan.  Ek was so verbaas en kwaad dat ek nie geweet het wat om vir hom te sê nie.  Ek het hom net aangegluur en aangestap.



By Elandsbaai Hotel het my pa-hulle en oom Giel-hulle al vir my gewag.  Met `n yskoue bier.  En `n reuse groot hamburger, wat ek omtrent nie kon opkry nie.  My kamer was geboek.  Elandsbaai Hotel sponsor.  Ek kan verniet oorbly.  Hulle sal ook reël vir `n kospakkie vir die oggend.  Ek moet dit net bietjie later vanaand gaan haal...

Terwyl ons eet vertel oom Giel weer verhale oor die omgewing.  In sy oupa se tyd het hier naby `n vliegtuig laag oor hulle plaashuis gevlieg.  Sy oupa het sommer geweet hier kom moeilikheid en die osse ingespan.  Nie lank daarna nie toe hoor hulle die ontploffing soos die vliegtuig in die berg vasgevlieg het.  Oom Giel se oupa is strandlangs na die ongelukstoneel, maar die ses insittendes was reeds oorlede.  

Hy het ook vertel van die Sybill wat hier gestrand het.  Die mense het van heinde en verre gekom om te kyk wat hulle van die strand af kan aas.  Een boer van die omgewing het `n hele vat pekelvleis (dit was die tyd voor yskaste) op sy wa gelaai en huis toe gery.  Vir dae het hulle heerlik geeët aan die vleis.  Totdat die vleis in die vat so gesak het, dat hulle die donkie se hoewe onderin die vat kon gesien het.  Toe eers besef hulle waaraan hulle so gesmul het...

Die storie wat hy die meeste geniet het om te vertel, was die boer en sy gesin wat die seemyn van die wêreldoorlog op die strand gevind het.  Soos die gewoonte daardie tyd was, het hulle vir die bouery aan die huis gaan sand skep op die strand en `n toegespoelde seemyn oopgegrawe.  Die yster bal met die baie stekels het hulle nie geken nie, maar dit sou twee lekker staalpotte maak as hulle die helftes van mekaar kon afkry.  So is hulle met die myn na hul plaas toe.  Met `n beitel en `n hamer het hulle die twee dele van mekaar probeer losmaak.  Toe dit nie werk nie sit hulle die myn op die vuur sodat die naat tussen die twee dele wyer kan word.  Die buskruit het aan die brandgeslaan en `n vuurvlam hoër as die dak se nok het by die myn uitgespuit.  Die mense het eers ophou hardloop toe hulle die duine gehaal het...


Die hotel het vir my `n backpackerskamer gegee.  Klein kamertjie met vier stapelbeddens in.  Maar ek kry dit gratis en kan nie kla nie.  Dis alles wat ek nodig het.  `n Bed en `n stort.  Dis net vrek warm.  Geen vensters vir ventilasie nie.  Ek hou maar die deur oop.



Deel van my navorsing is om te kyk of daar nurdles langs ons kus is.  Tot dusver het ek gelukkig nog niks gevind nie.  Ook nie regtig plastiek-hotspots nie...  Die wind waai verskriklik.  So erg dat ek my oë op skrefies moet hou, sodat die sand nie in my oë waai nie.  Voor `n vol karavaanpark soek ek in die sand.  Net langs die karavaan park blêr die musiek kliphard uit `n paar locals se motorspeakers.   Ek kan nie dink dat dit vir die vakansiegangers lekker kan wees  nie...

En dan skielik het ek een in my hand... `n Nurdle! Ag nee!  Ek neem `n foto.
Elandsbaai het nurdle-besoedeling...  Ek het gehoop om dit eers nader aan die Kaap te vind.  So van Yzerfontein se kant af.

Ek vat die eerste nurdle wat ek gevind het saam kamer toe... `n Soewenier.



Toe ek by ontvangs gaan vra oor my kospakkie wat beloof is, weet hulle van niks.  Niemand nie.  Ek verduidelik die situasie en hulle beloof om dadelik plan te maak.  Op `n stadium het dit egter gelyk of die hele weskus by die bar in die hotel bymekaar gekom het.  Die hotelpersoneel het so rondgehol dat hulle heeltemal van my vergeet het...  

Na ek gestort het, het ek bietjie met die ander mense in die backpackers gepraat.  Hulle het gehoor van die stapper.  Hulle kon nie uitgepraat raak oor hoe awesome en incredible dit is is nie.  Ek het die woorde seker tweehonderd keer gehoor.  Interessant dat daar so baie van hierdie tipe mense is wat  daarna hunker om dit ook te doen.  Kop skoon te maak...  Maar nooit daarby uitkom nie.  Op die ou end raak `n mens te vasgevang in die webdrade van die samelewing...  Het `n mens later te veel verantwoordelikhede en te min tyd.
Ek het toe nooit die beloofde kospakkie gekry nie.




Vrydag 29 Des 2017

Die eerste ding wat ek vanoggend gedoen het was om die kamerdeur oop te maak.  Net om die warmte uit te kry.  Vir die eerste keer in dae lê daar weer mis oor die see.  Daar is ook geen teken van wind nie.

Vanooggend is weer `n moeilike dag.  Ek moes drie keer badkamer toe gaan vanoggend.  Ek het nie energie nie.  Voel moeg.  Dors.  Nie lus vir stap nie.  Ongemotiveerd.  Dit is weer die vierde dag...  Maandag was mos Kersfees - `n rusdag.  Ek sukkel altyd met die vierde dag.  Dis net sielkundig.  Ek weet...  Maar dit bly `n hekkie waar ek moet oor.

Dis nog maar half sewe maar hier is klaar surfers in die water.  Ook ouens op die rotse wat aas soek.  Seker maar vir vanmiddag se visvang.  Die gety is nou te laag...



Ek het definitief `n maag probleem.  Hoop nie dit gaan te veel probleme met die stap veroorsaak nie.  Gelukkig is daar baie bossies agter Bobbejaankrans.  En min mense.
Ek stap verby die twee kreeffabrieke wat halflyf in die see staan.  In die verlede is die bootjies met hyskrane laat sak in die water en weer opgehys as die kreefvangers teruggekeer het.  Deesdae het hulle hul eie slipway.  Dit lyk omtrent of die branders in die fabrieke inslaan.  Van hier af word lewendige krewe na lande soos Frankryk uitgevoer.  Hulle kwotas is aansienlik verminder, maar die kreefuitvoer gaan steeds voort.  Selfs al is die Weskus kreef op die rooi data lys.  En dit is ook nie of die plaaslike mense hierrond ophou vang of minder vang of selfs net hou aan die mates en kwotas nie.  Oom Giel het juis vertel dat `n mens maklik `n sak van 50 ondermaat kreefstertjies in die hande kan kry vir omtrent R150.00.  Die grotes gaan fabriek toe en die kleintjies word sommer so uit die hand verkoop aan die wat belangstel.  Selfs na al die waarskuwings dat kreef gaan uitsterf en die mense hierrond sonder werk gaan sit, stop hulle nie.  Dink net aan nou...



Hier langs die Weskus gebeur daar baie onheilige goed reg onder die polisie se neuse...

Volgens die kaart is ek veronderstel om die grootste deel van die pad na Bobbejaankrans op sandstrand te stap, maar tot dusver was dit nog net rotse.  Ek soek maar vir my `n paadjie so na as moontlik aan die strand en kies koers na Rocherpan.  Bietjie minder as dertig kilometer van hier.  Vandag gaan `n lang stap wees.  Omdat ek in die hotel vyf kilometers korter as my beplande stap van gister oorgeslaap het, moet ek vandag inhaal...  Met `n omgekrapte maag.

Dit help nie om te kla nie...  Dit gaan geen verskil maak nie.

`n Swerm wildemakoue is nou net hier hoog oor my.  Verder sweef `n geelbekwou gereeld hier naby my verby.  En `n rooiborsjakkalsvoël.  Die grysbossies en vygieplantjies rondom my raak egter al redelik eentonig.  Hier is darem bok- en muisspoortjies wat so nou en dan my paadjie kruis.  Witborskraaie is natuurlik ook oral teenwoordig.



Gewoonlik stel ek my horlosie en werk daarvolgens hoe ek gaan rus.  Afhangende hoe ek voel die dag, verdeel ek my stap daarmee in fases.  Soms vergeet ek om GO te druk en begin ek stap.  En stap tot ek moeg is, want ek wag vir die stophorlosie wat nie wil afgaan nie...  Dit het nou weer gebeur.  Sonder dat ek dit agtergekom het stap ek nou al drie ure aaneen.  Ek is moeg, maar het darem lekker kilometers ingekry.

Die son is op so `n hoogte dat hy van voor af reg in jou oë skyn.  Toe ek my sonbril van my hoed wou afhaal, sien ek dat dit gebreek is.  Op die randjie by een van die glase.  Morsaf.  Ek kan dit glad nie verstaan nie.  Tussen die laaste keer en nou, was dit nog die hele tyd op my hoed.  Ek het dit net so van my kop afgehaal toe ek gisteraand gaan slaap het en net so weer opgesit toe ek vanoggend weer begin het.  My tweede sonbril wat gegaan het.



Ek het nou net `n eienaardige geluid gehoor.  Ek kyk orals om my.  In die veld.  Op die lamppale...  Toe sien ek hier kom `n bloukraanvoêl oor my aangevlieg.  Later nog een.  Oppad na die afgesnyde koringlandjie so `n entjie weg.  Ek het nie gedink ek gaan hulle hier sien nie.

`n Blouvalkie op `n paal soek vir muise.  Vlieg op as ek te naby kom en sweef oor dieselfde koringland.  Stop.  Hang in die lug met vlerke na bo gevou.  Klap-klap.  Klap-klap.  Op dieselfde plek.  Vlieg dan weer verder en herhaal die hele ritueel.

Die drie toonspoor langs my, wys my dat hier erdvarke ook is.  Hierdie een het sommer `n hele entjie in die paadjie geloop in dieselfde rigting waarheen ek oppad is.  Hier is egter nêrens graafplekke of gate nie.

Ek is opgewonde.  Hier is baie lewe en tekens van lewe op hierdie skof vandag.  Ek mag saam met God se skepsels geniet van die pragtige dag wat Hy vir ons gegee het.  My maagpyn is ook sommer weg.  En ek stap teen `n lekker tempo.  Ek voel goed, selfs al is die skof vandag heelwat langer.  Die wind het weer opgesteek.  Nie sterk nie.  Maar genoeg om die mis weer terug te waai.  Dis `n vreemde wind.  `n Wind wat nie kan besluit wat hy wil doen en waarvandaan hy wil kom nie.  Soms is dit van voor.  Soms van die kant.  En soms sommer van agter.



Na `n paar kilometer is my maag skielik weer nie lekker nie.  Ek besluit om na die groot Transnet grondpad toe te loop so `n entjie van my af.  Alhoewel dit makliker gaan stap is dit wel verder, want die pad maak `n snaakse draai binneland toe vorentoe.  Ek werk uit dat ek vandag omtrent veertig kilometer sal moet stap om by my bestemming uit te kom.  

Ek stap lekker vinnig nou.  Ek voel dit in my bene.  In die afgelope uur het ek so 7km/h gestap.  Ek wil die skof nou klaarmaak.  Voor my maag te veel moeilikheid gee...

`n Grysmuishond hardloop tot in die pad.  Kyk nuuskierig na my en verdwyn vinnig tussen die bossies.  Terwyl ek verbystap probeer ek kyk of ek hom nog kan sien, maar hy is skoonveld.  Ek weet hy loer vir my van iewers af...

Voor my in die oopte van  van `n lang oop pad, staan my pa se bakkie.  By die hek van die Natuurreservaat.  Nog `n skof is verby.  My bene het die ekstra lang skof gemaak.
My maag het gehou...

Ek is dankbaar.



Ons ry na Dwarskersbos toe, waar my ouers vir die volgende paar dae tuisgaan by die Sandcuiel Gastehuis.  Die plekkie is bietjie beknop vir ons vyf, maar ons is dankbaar ons het `n dak oor ons kop in hierdie deel van die kus.  Ons het vreeslik gesukkel om verblyf hierlangs te kry.  Gelukkig het die eienaar, Frederika van der Sandt, toegestem dat ons sommer `n matras op die grond gooi, waarop ek kan slaap.  Salomien en Maricia slaap op `n oopslaanbank.  Ons het `n balkonnetjie met `n braaiplek en kan die see sien van hier af.  Wat anders wil `n mens nou hê?

Die aand braai ons steak.  Ek het krag nodig vir môre se stretch.


Saterdag 30 Des 2017


Vanoggend begin met digte mis.  Dis koud.  Ek en Maricia is nou net by die hek van Rocherpan afgelaai.  Maricia se bene voel weer sterker en ons wil probeer of sy `n deel van die skof saam met my kan stap vir geselskap.

Hier lê verskriklik baie ystervarkpenne langs die pad.  Sommer sulke bossies.  Eerstens beteken dit dat hier baie ystervarke is, maar die ontstellende is dat hier ook heelwat van hulle doodgery word...  Dit gebeur seker maar snags.  Dan is die swart en wit diere seker nie baie sigbaar nie.  En verblind natuurlik.  Ek wonder of `n mens `n pap wiel sal kry as jy oor een ry?



Hier is nou al `n hele klompie drawwers by ons verby.  Met die interessantste kleredrag.  Natuurlik alles helder kleure.  Ek wonder of daar `n modetydskrif vir drafklere is...
Maricia begin stadiger stap.  Ek kan sien iets is nie reg nie.  Ek moet dringend badkamer toe gaan, maar `n mens kan hierrond nie meer `n groot bos gaan soek nie.  Hier is te veel mense.  Ons is amper in Dwarskersbos.  Ek laat weet vir my ma ek kom gou gastehuis toe...

Maricia het na ongeveer 10km probleme met haar voet ontwikkel.  Sy weet nie of sy so kan aangaan nie.  Nadat ons almal saam vir nurdles op die strand gesoek het, het ons besluit dat Maricia eerder moet bly. Ek gaan goed aan op my eie.  Ek voel sterk en fiks.  Die alleenheid pla ook nie meer so erg nie...

Nou kan ek weer my eie pas bepaal en ek stoot hom...  

Ek en my pa het voor die tyd vir mekaar gesê ons moet onthou dit is nie `n sprint nie.  Eerder `n maraton. `n Hele klompie na mekaar.  Ek moet myself pace.  Nie jaag nie.  Maar ek voel goed.  Hier is nog baie om te doen na die stap.  Hoe gouer ek klaarmaak hoe meer tyd is daar vir ander goed.

Dit begin in elk geval nou hoogwater raak en as ek nie die volgende tien kilometer in los sand wil stap nie, sal ek my storie moet ken.  En ek stap...



Vanaf Dwarskersbos het ek die vreemdste krappe op die strand gekry.  Hier lê ook heelwat dooie garnale op die hoogwater merk, maar dit is nie vreemd nie.  Die hoeveelheid dooie krappe is.  En die soort ken ek ook glad nie.  In die vlakwater kry ek `n paar lewendiges.  Ek stop `n tydjie om hulle dop te hou.  Elke nou en dan gaan staan die krap en druk homself van die sand af op met twee lang spriete wat voor by sy kop uitsteek.  Ek neem `n foto.  Dit lyk amper pre-histories.  My pa moet die foto maar I-spot toe stuur vir identifikasie.  Ek wonder waarvoor daardie vreemde lang tasters voor aan die kop is.  Is dit dalk `n moeraskrap wat met laagwater deur die rivier in die see ingesleep is?  God se skepping bly maar vol verassings.  Dit is wat so wonderlik is van ons land.  Ons ongelooflike biodiversiteit.  En ons weet nog so min...  God se werk is so ryk.


Dit sal interessant wees om te weet wat die temperatuur nou is.  Dis vreeslik koud.  Ek stap en ek word nie warm nie.  

Die mis is verskriklik dik.  Ek is nog maar net `n paar kilometer van Laaiplek af, maar ek kan nog glad nie die huise sien nie.  Dis asof ek toegevou is in nat, grys kombers.  Afgesny van die wêreld.  Dowwe geluide.  Selfs die see klink stiller.  So nou en dan vlieg `n swartrugmeeu voor my op en verdwyn agter die misgordyn.  `n Paar vaalstrandlopertjies hardloop resies voor my uit.  Staan stil.  Kyk om.  Asof hulle my aanmoedig om te kom...
“Ek kom.  Ek doen my bes.” sê ek vir hulle.



Die mis maak kamerawerk ook moeilik.  Die druppeltjies gaan sit op die lens en as gevolg van die grysheid van alles wil dit op niks fokus nie.

Ek het nou net `n dooie walvis, of haai of dolfyn afgeneem wat op die strand gelê het.  Nie baie groot nie.  Seker so `n meter en `n half.  Met die vreemdste tandjies.  Ek het nie `n idee wat dit kan wees nie...  Nog nooit in enige van ons boeke by die huis gesien nie.  Ek neem `n foto.  Dit sukkel.  Maar eindelik kry ek een reg.




Dis opvallend hoe die strand hier verskil van die strande verder noord.  Vanaf Alexanderbaai tot by Rocherpan was die strande wit en die sandkorrels grof.  Hier by Laaiplek stap ek op `n grys strand met fyn korrels.  Amper soos modder.  Dis seker maar die sediment van die rivier wat met laagwater in die see uitspoel en deur die strome op die strande neergelaat word.  

Volgens die GPS is ek nou 230m van die eerste huise van Laaiplek af en ek kan nog steeds nie die dorp sien nie.  So dik is die mis.




Ek het nog ongeveer 10km om te doen, maar my pa staan voor my op die strand.  Saam met nog `n groepie mense.  Oom Ewald van Wyk, Marine Ranger van die Bergrivier Vleiland, wil my graag ontmoet.  Ons gesels `n bietjie, maar ek is haastig om klaar te maak.  Voor my spiere te koud raak in die mis.  My pa en ma ry solank Eygelaars toe.  `n Hardeware winkel in Laaiplek.  Ek moet stap.  Dis deel van my roete. Ek moet `n plan maak met die rubberdoppies onder my stapstokke.  Die wat saam met die stokke kom het lankal die gees gegee.  Na die eerste veertig kilometer.  Tot dusver het ek dit nie regtig nodig gehad nie.  Het ek nie regtig teer gestap nie.  Maar ek gaan dit nou al hoe meer nodig kry Kaap se kant toe. Ek kry dadelik wat ek soek.  Ons koop tien.  Vir 50c per doppie koop ons toe sommer nog tien.  Net om seker te maak.  Ek is reg vir die teer...

Ek kry `n oulike boodskap van tannie Annette Luijk.  Hulle was vandag in Knysna en het `n klompie musiek CD`s vir die langpad gekoop.  Maar nie na een van hulle geluister nie.  Tannie Annette moes die blog voorlees.  Haar stem hees gelees...

Dis lekker sulke boodskappe.  Ek wonder nogal wat doen my vriende alles.

Ek stap na Laaiplek hawe toe, verby Port Owen en van daar na die Carinus-brug wat by Velddrif oor die Bergrivier gaan.  Die eindstreep van die Bergrivier-marathon.  Die einde van my skof vandag.  My pa se bakkie staan anderkant die brug tussen al die vissermanne wat in `n ry langs die rivier geparkeer staan.  Hy kyk seker weer voëls.  Hy soek juis na die Chestnutbanded plover.



Oom Ewald het my pa gewhatsapp.  Hy is nou net by my verby.  Ons moet ietsie kom drink by Tayana`s, `n restaurant op die oewer van die rivier.  Hy wil nog gesels.  Ek ook.  Lyk na `n interessante omie met `n interessante werk.

Toe ons weer groet gee hy vir ons twee toeriste-pakkies.  `n Sakkie Cerebos sout. `n Paar stukkies bokkoms.  `n Sepie.  En ook `n pakkie pienk ouderlingspilletjies vir die “honger”.  En `n klompie handige kaarte en broshures.  Baie oulik.


Oom Ewald het nie `n maklike werk nie.  Hy moet wet en orde handhaaf onder `n groep mense wat graag die grense skuif: vissermanne en toeriste.  Sy grootste probleem is mense wat deur sensitiewe areas ry of net steek in die rivier.  By een geleentheid het hy `n 400m lange net uit die rivier uitgehaal.   Soms moet hy bakkies konfiskeer van mense wat hulle nie aan die reëls hou nie.  Dis `n belangrike werk, maar nie almal hou daarvan nie.  Sy motor se bande is juis onlangs stukkend gesteek.  Iemand in die dorp het gelukkig daarvan gehoor en vir hom bande geskenk. 

Ons groet.  Maar weet dit sal nie die laaste keer wees wat ons mekaar sien nie.  Oom Ewald het allerhande planne waarby hy my wil betrek.  Van staptogte langs die Bergrivier tot hulp met natuurbewaring en die neem van monsters hoër op teen die rivier.

Voor ons huis toe ry, gooi ons `n paar draaie in Bokkomlaan.  Ons gunsteling straatjie in die dorp.


Sondag 31 Des 2017

Die laaste dag van die jaar.

Oom George Loots het `n boodskap gestuur:  “Gelukkig het jou ouers jou stap oor twee jaar beplan”.

Nege uur die oggend begin die diens by die NG kerk Velddrif.  “Vissers van Mense”.  My pa kry weer geleentheid om die gemeente toe te spreek.  Hy vertel vir die mense van ons verantwoordelikheid om ons Vader se skepping op te pas.  Dat God se eer begrawe lê onder plastiek en papier.  Die mense knik hul koppe.  Hulle weet waarvan ons praat.  Oppad hierheen het ons deur Laaiplek gery.  Die veldjies tussen die huise lyk soos rommelhope.  Niemand tel dit op nie en niemand gee om nie.



My pa spreek die mense aan.  Ons behoort hartseer te wees dat ons Vader se tuin so lyk.  Hy het dit met groot sorg geskep en voorberei.  Gemaak tot sy eer.  Ons mag nie op ons hande sit en wag tot die Here Jesus eendag terugkeer en alles herstel nie.  Uit liefde vir ons Vader behoort ons die plek op te ruim.  Selfs al was dit nie ek wat so gemors het nie...

Laat ons nuwejaarsvoorneme vir 2018 wees dat ons anders wil wees.  Wys deur die manier wat ons omgee vir God se skepping dat ons God se kinders is.

Dit is immers die doel van my stap.  Ons kan nie almal renosters oppas nie.  Kom ons versorg net die skepping daar waar God ons geplaas het.





No comments:

Post a Comment