Thursday 4 January 2018

Morele verval en ekologiese vernietiging: Donderdag 4 Januarie


Lees: Hosea 4:3 “Daarom treur die land, en alles wat daarop woon, kwyn weg: die wilde diere van die veld en die voëls van die hemel, ja, ook die visse van die see kom om.”

Die moderne mens (ook Christene) dink al te veel dat die morele en natuurlike wêreld twee aparte kategorieë is.  Aan die een kant is daar ‘n lewe van vertroue, liefde en kennis van God en aan die ander kant die natuur. Die verbintenis tussen hierdie twee het net êrens verdwyn. Ons teks gee egter ‘n geheel ander beeld.  Moraliteit en die natuur is verbonde. Menslike boosheid en sonde het ekologiese konsekwensies. 

Hosea profeteer in ‘n tyd van stygende ekonomiese voorspoed in Israel.  Hierdie welvaart het egter nie gepaard gegaan met ‘n groter trou aan en liefde vir Jahweh, die God van die verbond nie, maar eerder met goddeloosheid, groot ongelykhede in welvaart en die misbruik van mag. In verse 1-3 lees ons dat Jahweh ‘n klag maak teen Israel dat hulle die verbond verbreek het en dat daarom ‘n vloek oor die land sal kom.  Mense het God nie meer vertrou nie, daar was geen liefdevolle vriendelikheid en ook geen erkenning van God se gesag en gehoorsaamheid aan sy wil nie (vers 2).  Mense het gelieg en gesteel, owerspel gepleeg en mekaar vervloek en vermoor (vers 2).

Die vloek wat dan kom oor die verbreking van die verbond is nie beperk tot mense nie, maar het konsekwensies vir die land en diere (vers 3, sien ook Deut 28:15-44). Dit is nie net Hosea wat so praat nie. Verskeie ander profete koppel ook ‘n treurende aarde met die boosheid van mense wie daar woon (bv. Jes 24:4-5; Jer 12:4; Joël 1:18; Amos 5:16).  As mense nie meer in ‘n intieme verbondsverhouding tot God staan nie (klaarblyklik soveel makliker ten tye van ekonomiese voorspoed en die besit van mag) dan treur die aarde.

Die vernietiging van die natuur is nie maar net onkunde en dwaasheid nie, maar word willens en wetens deur die mens se arrogansie, hebsug en sug na mag aangewakker. Selfs die voëls ken hulle tye (Jer 8:7), maar die mens wil van God se wil niks weet nie.  Die volk Israel destyds en ons vandag vergeet al te gemaklik van ons roeping om na die groter aarde om te sien en fokus veel eerder net op die finansiële onafhanklikheid van ons eie gesin, enersdenkende groep, ras of kerk se ekonomiese voorspoed.  Die valse leiers van destyds wou nie na Hosea luister nie; voorspoed was toegeskryf aan God se seëninge. 

Christene behoort veel eerder vooruit te loop, nie net oor morele sake (bv. eerlikheid, afwysing van moord (en aborsie) en owerspel), maar ook oor hoe ons sorg dra vir die land, lug, water, diere en ekosisteme - selfs en veral wanneer dit dalk aan ons eie finansiële voorspoed knaag. Dit bly maar soveel makliker om morele oortredings by ander raak te sien as wat ons self tot bekering wil kom oor die skandelike dade wat aan God se skepping gedoen word. Gehoorsaamheid is geen abstrakte breinspeletjie nie, maar word konkreet in hierdie wêreld met alle ekologiese dimensies daarvan, uitgevoer.

Die oproep aan Israel van weleer om hulself te bekeer (sien Hos 6 en 14) geld net soveel vir Christene vandag wie skuldig is aan wangedrag teenoor die skepping.  Hierdie bekering is slegs moontlik in Christus, die enigste Persoon Wie die verbond ten volle onderhou het en vernuwe het (Heb 8). Vernuwing word bewerk deur die Heilige Gees Wie God se wil in ons harte skryf. Oppad na die vervolmaking by Christus se wederkoms mag elke Christen-lidmaat van die kerk nou al besig wees om ekologiese regverdigheid na te streef terwyl ons in volle verwagting leef na die dag waar God self regverdig sal oordeel en herstel. 

Elke korrupte verwoester van die natuur wat gestraf word, elke hebsugtige of nodelose ontwikkeling wat stopgesit word, elke siek dier wat versorg word, elke opruimaksie, elke habitat wat herstel word, elke tuin wat dier- en mensvriendelik ontwikkel word – al hierdie dinge en veel meer wys nou al ten dele wat eendag volkome sal wees. 

Refleksie: In watter ekonomiese tye leef jy? Het jy ‘n oorvloed aan geld, kos, klere en behuising? Hoe staan jy as Christen in ‘n land wat gekenmerk word deur groot welvaartsongelykhede en ekologiese verwoesting? Dink jy die ekologie lei onder die hebsug en morele verval van die mense in die land? Watter voorbeelde het jy al gesien? Bid vir bekering vir die wat betrokke is. Bid dat ekologiese reg mag geskied. Bid dat God jou persoonlik asook leiers van kerke sal bly lei op ‘n pad van bekering, herstel en vernuwing in jou en hul verhoudings tot God se skepping.

No comments:

Post a Comment