Vriendskap
Dit voel vreemd… Die laaste skof het aangebreek. Net anderkant Tafelberg wag Kaappunt vir my. My eindbestemming. Nog net bietjie minder as 90km.En dis heelpad teerpad...
En mense.
En dit is eintlik wat my bekommer. Want die afgelope paar weke se stap was dit mos eintlik net ek en die natuur. So hier en daar `n paar mense of dorpies. Maar nou wag die besig Kaapstad op my. Die hawe. Seepunt. Kampsbaai. Toeriste en besige verkeer. Min stapruimte. Gevaarlik.
`n Mens kan hier ook nie net jou tent langs die see opslaan nie. Dis nou vir moeilikheid soek. In die nagte loop hier allerhande skarminkels rond. Van bergies tot dwelmverslaafdes. En nog allerhande ander moeilikheidmakers. Vir die volgende paar nagte sal ek maar by my ouers moet bly.
Gelukkig kon my pa-hulle darem spesiale toestemming kry om vir `n paar nagte by Apostle Battery, `n ou weermagbasis uit die Tweede Wêreldoorlog, te gaan slaap. `n Enkelkamer vir ons al vyf. `n Bietjie beknop. Maar ons kla nie. Hier is darem warm water en spoeltoilette. En die uitsig hier van bo teen die hange van die Twaalf Apostels af, is pragtig. Oom Anton Duvenhage, die opsigter daar, het uit sy pad uit gegaan om ons te akkommodeer.
Maar Apostle Battery is in Llandudno. Vir my `n dagreis verder in die rigting van Kaappunt. Ek moet dus terug Woodbridge Island toe. Daar waar die Dieprivier in die see uitmond.
Donderdag 11 Jan 2018
Ons is die oggend vroeg weg en ry sommer die paadjie al langs die kus af. Vir die eerste keer het ek die luukse om vooraf te sien waar ek gaan stap. Dit help darem met die voorbereiding. Waar kan probleme wees. Waar is die pad te nou. Hoe moet ek loop om verby die hawe te kom. Dit help ook met die geestelike voorbereiding. Die steil opdraandes plek-plek. Die besige strate. En die warm teer...Hier is al klaar hordes fietsryers op die pad. Soms in bondels van twintig of dertig. Roekeloos teen die afdraandes af. Ek hoop hulle is al weg as ons hier verbykom. Die pad lyk juis so nou...
Vandag gaan `n interessante dag wees. Behalwe dat neef Johan vandag weer saamstap, het Kevin Brand, my skoolvriend , ook laat weet hy wil `n stuk saamstap. Ons is dus weer drie vandag. Dalk is dit maar beter so. Ek is maar skrikkerig vir die hawe-gedeelte en die donker deel daar onder die fly-overs naby die afdraai na die Waterfront. Oom Danie Hefers van SABC 2 Fokus wag ook vandag vir my in Seepunt-omgewing. Ek hoop nie daar is vandag weer te veel oponthoud nie, want die son gaan ons vandag velle brand. Dis aansienlik warmer hier as al die ander dae langs die kus sover.
En vandag is teer... Nie sand nie.
By Lagoon Beach se parkering, teenaan die mond van die Dieprivier, wag Kevin, sy ma en suster al vir ons. Tannie Manette lyk maar bekommerd... Sy het my blog getrou gevolg die afgelope paar weke en weet wat soms te wagte is. Maar vandag behoort darem nie te moeilik te wees nie.
Dis 7h00. En ons begin stap. Met die pragtige Tafelberg voor ons. En die besige spitsverkeer links van ons. Iets om aan gewoond te raak.
Ek hoor nie meer die see nie... Ook nie die seemeeue nie. Ruik nie eens meer die see nie. `n Sterk geur van grondboontjies hang in die lug. `n Ander wêreld...
Ons stap lekker. Gesels-gesels. Johan lyk nog goed na gister se stap van Koeberg af. Lyk my die krampe is iets van die verlede... Maar nou het hy ander issues. Hy begin stadig maar seker uitmekaar val. Sy kleintoontjie se nael het gister besluit hy wil nie meer deel van sy lyf wees nie en intussen dop sy gesig en nek ook so af asof hy een of ander velsiekte het. Maar ek is dankbaar hy is nog met ons. Goeie geselskap. Ek is nie te bekommerd oor hom nie. Johan het hy al gewys wat hy kan doen. Ek is egter onseker oor Kevin. Dis sy eerste keer. Hy stap egter net saam vir die lekker en kan enige tyd ophou wanneer hy wil. Sy ma-hulle ry kuier-kuier saam en kan hom enige tyd optel.
Die R27 verby Paardeneiland is besig. Altwee kante toe. Die paadjie langsaan waarop ons loop ook. Fietsryers wat oefen of werk toe ry. Hulle groet darem vriendelik. Behalwe een ou oom wat voel ons los vir hom te min spasie om verby te kom. Hy is seker nie `n oggendmens nie... Ons het meer plek vir hom gelos as wat ons al drie gevat het.
Ons vorder teen `n goeie pas. Terwyl ons lekker gesels, bly ek maar vorentoe kyk. Hierdie is die ingewikkeldste deel van die hele staproete. `n Mens moet hier mooi kophou anders lei die pad jou sommer in die verkeerde rigting. Die hawe se container depot is nou aan ons regterkant en die R27 kies koers binneland toe. Oor die N1 Maitland se kant toe. Ons hou al langs die hawedraad af. Aan die buitekant van die hawe. Met net `n paar meter se gras tussen ons en die N1 se spitsverkeer. Hier is nie meer `n paadjie nie, maar die gras is kortgesny. So hou ons aan verby die Ben Schoeman en Duncan Dokke.
`n Grillerige stukkie lê nou voor. Die donker gedeeltes onder die fly overs... As `n mens Waterfront toe ry kan `n mens mos nooit lekker sien wat daar onder in die diep skaduwee aangaan nie. Voel dit altyd of jy oor die onderwêreld van die Kaap ry... Nou moet ons daardeur. Gelukkig nie net ek nie. Ons is darem drie. Vir wat dit werd is...
Ek sou graag wou begin het met: “Toe ons oë die donker gewoond geraak het...” Maar dit was nie naastenby so dramatiese ervaring nie. Behalwe vir `n paar haweloses en hul shacks, was daar nie veel om te sien nie. Ons kruis `n paar strate, voor ons afdraai in die rigting van die Waterfront. Dis besig. `n Onophoudelike stroom motors ry verby ons. Saam met honderde toeriste loop ons op die nou paadjie in die rigting van die Two Oceans Akwarium. Ek kan nie glo dat ek `n paar weke gelede hier was vir `n onderhoud met Ingrid Sinclair nie. Dit voel soos maande gelede. So veel het intussen gebeur. Ek wonder waar is oom Danie. Hy moet my hier êrens ontmoet vir nog `n filmsessie.
By die standbeelde van die vier Suid-Afrikaners wat al die Nobelprys vir Vrede gekry het, gaan staan ons eers vir `n foto. En betoon die nodige respek. Vir Kevin se onthalwe gaan sit ons ook by `n spierwit Mclaren-motor vir `n foto. En betoon soos tipiese seuns ook daar ons respek...
Ek besluit om nie my kookstelletjie uit te haal en in die Waterfrontarena vir my kos te maak, soos ek my pa gedreig het nie. Dit mag dalk net al die toeriste ontstel. Dit sou wel `n interessante foto gemaak het. Ons is egter reeds deeglik bewus van hoe vreemd ons moet lyk tussen al die grand vakansiegangers. Uitgevat vir hul uitstappie Kaap toe. Kevin lyk nog netjies, maar `n mens kan van ver af sien ek en Johan het al `n klompie myle agter die blad.
Oom Danie bel my. “Waar is ons?” Hy wag vir ons by die Mouille Point-vuurtoring. Ons sal moet aanskuif. Dis nog `n entjie. By Grangerbaai sien ek vir die eerste keer op my staptog `n skool dolfyne, wat heerlik in die water baljaar. Duskies. Ek neem `n paar fotos, maar weet sommer die afstand is te groot vir mooi duidelike beelde. Dis interessant hoe opgewonde `n mens altyd raak as jy dolfyne sien. Seker maar die onuitputlike bron van energie wat hulle uitstraal.
My pa het gesê ons moet probeer om `n foto te kry by die groot wêreldbeker sokkerstadion, maar toe ons weer sien is ons verby. Te ver om om te draai. Oom Danie wag ook vir ons vorentoe. Ons het ook nie tyd om `n tydjie by Groenpunt met sy interessante geskiedenis van galge en konsentrasiekampe te vertoef nie.
Ons kan egter nie help om eers `n paar mannewalesse uit te haal by `n groot bril in die middel van nêrens nie. Ja. `n Groot bril. Ek weet nie of dit een of ander kunswerk of `n aanmoediging is om gereeld jou oë te laat toets nie, maar vir ons was dit `n baie interessante klimraam... Boys will be boys. Ons kon onsself net nie help nie. Selfs oom Danie wat vir ons wag kon ons entoesiame nie keer nie...
Oom Danie praat hierdie keer nie baie nie. Neem sy film en skuif `n paar kilometer aan. Sonder dat ons eenkeer hoef te stop. Die meeste van die harde werk en die onderhoude het hy al gedoen.
Vanaf Mouille Point tot naby Bantry Bay stap ons heerlik langs die Beach Front Promenade. Verby Drieankerbaai en Rocklands Bay tot by Sea Point pavillion. Die kus is hoofsaaklik rotsagtig. Plek-plek is daar sandstrande, maar ek sien dit skaars. Die paadjie waarop ons loop is fantasties. Met heerlike grasperke langsaan. Mense stap of draf lang ente. Of hou piekniek. Hier gebeur heeltyd iets. Ons is nie een oomblik verveeld nie. Elke nou en dan land iemand met `n hanglider op die gras. Seker van Leeukop of Seinheuwel af. Baie cool. Almal is in `n vakansie-bui. Sommige mense is vreemder aangetrek as ons. Ons trek dus nie baie aandag nie. Behalwe een jongerige outjie wat in `n motor naby ons gestop het en na ons gewys het. Hy het na sy ma toe gedraai en toe verskriklik beduie asof hy iets verduidelik het. Ek weet nie of hy ons dalk al voorheen langs die pad gesien of dalk van die TV herken het nie. `n Man met `n groot duffel bag oor die skouer stap verby en mompel `n paar onverstaanbare woorde na ons kant toe. `n Entjie verder stop `n ouerige oom en tannie ons en vra uit oor ons stapstokke. Dalk nie `n slegte idee as `n mens bietjie onvas op jou bene begin raak en jy nog steeds lief vir stap is nie. By Seepuntswembad staan`n lang ry mense om in te gaan. Dis nog redelik vroeg, maar dit gaan warm word vandag. Tot dusver kan ons nie kla nie. Maar ek weet vorentoe gaan die son ons nog kou...
By Bantry Bay begin die pad nouer raak. Gelukkig is hier darem nog `n stappaadjie en hoef ons nie in die pad self te stap nie. Die pad kronkel al teen die helling van die berg tussen die duurste huise deur. Dit raak nou warm en die pad begin klim. Ek begin die warm teer deur my stapskoene voel. Die sweet loop in straaltjies teen my rug af. Brand my oë. Die koel blou water doer onder by Clifton roep my... Ons sien weer dolfyne. Hierdie keer nog verder as die vorige keer. Maar darem naby genoeg dat ek kan sien dit is Common Dolphins.
`n Man wat verlam is in sy onderlyf kom op `n fiets verby. Daardie soort wat jy met jou hande “trap”... Teen die steil bult uit. Ons kyk hom agterna.
Respek ou!
Clifton se strand doer onder is besig. Die motors staan gepak langs die pad. En die toeriste bly kom. Jy hoor meer ander tale as wat jy Engels of Afrikaans hoor. Ons moet ons paadjie behoorlik oopveg tussen al die mense.
En dan sak ons af na Kampsbaai. Besige, onrustige, woelende Kampsbaai. Dis koeler hier. Maar `n aanval op al jou ander sintuie... Mense, mense, mense. Restaurante. Winkeltjies, smouse en motors. Musiek. Onbekende tale. Piekniekmandjies. Sambrele.
Die verkeer is so erg dat dit beter is om te stap as om te ry. Jy beweeg in elk geval vinniger.
Dis een groot karnaval van vakansiegangers.
Ons is dors en koop elkeen `n yskoue coke. R15.00 vir `n blikkie... Ons het dit gedoen, want ons weet wat vir ons wag. Eers bietjie afkoel en suiker inneem...
Na Kampsbaai begin die pad weer klim. Sommer steil.
En dis nou behoorlik warm. Die warmste dag by verre van my hele staptog. Ons sweet buckets. Die paadjie waarop ons loop is nou. Ons stap agtermekaar. Praat nie baie nie. Kyk net voor ons en loop. Elkeen besig met sy eie gedagtes en motivering. Ek begin die pas bietjie aanstoot. Ons moet begin klaarmaak anders gaan ons gaar by Llandudno aankom.
By een van die uitsigpunte, waar `n mens kan parkeer met jou motor, besluit Johan dis genoeg. My pa kan hom maar hier kom haal. Ek weet Johan kan nog maklik die stap klaarmaak, maar hy wil nie vir my terughou nie. Hy kan aanvoel ek begin spoed optel. Hy het nog `n paar dae wat hy saam met my wil stap... Kevin besluit egter om aan te hou. Vir hom is dit `n uitdaging. Hy het gekom om sy dertig klaar te stap. Hy kan nog baie dae rus hierna.
My Pa kry Johan en spoor ons vir oulaas aan. Dis steil, baie steil. Maar darem nie ver nie. Minder as vyf kilometer. Die laaste moordende vyf van elke skof het aangebreek. En hierdie een gaan nie `n grap wees nie... Ons stap om klaar te stap. Kop af. Een voet voor die ander. Amper daar.
En dan is ons skielik daar. Die ingang teen die berg op na ons kampplek. Oom Danie wag daar met sy driepoot en sy kamera. Tussen al die Afrika-houtsneebeeldjies langs die pad. My pa neem foto`s.
Kevin se ma daag ook daar op. Ons nooi haar om gou te kom koffie drink. Sy kom net vir `n tydjie sê sy. Maar ek weet. Dis nie hoe dit werk nie. As Kevin nou gaan sit... staan hy nie sommer op nie. Tannie Manette straal van trots. Ek ook. Kevin lyk op... Dis dalk die strafste oefening wat hy nog gedoen het. Maar my vriend het saam met my gestap. Die volle dertig kilometer. Om my te ondersteun. En ek waardeer dit.
Vrydag 12 Jan 2018
Ons het gisteraand by Snoekies gaan eet. Vis en chips. Heerlik. Sommer omdat dit een van ons laaste aande langs die kus is. Maar ook om die pad vorentoe te verken na Houtbaai toe en verder.Toe ons vanoggend vertrek het, het ons dus geweet wat vir ons wag... `n Lang afdraande. Terwyl ek en Johan die pad aandurf, sou my pa-hulle oppak en aanry. Vorentoe. Ons weet nog nie waar ons slaap vanaand nie. Ongelukkig kom Stellenberg Hoërskool se graad 8`s vanaand by Apostle Battery kamp en kon ons nie langer hier bly nie. Ons het `n moontlikheid gehad om in Noordhoek te slaap, maar dit het op die nippertjie deur die mat geval. Maar dit is die ondersteuningspan se bekommernis... Ek moet sorg dat ek sonder te veel beserings teen hierdie verskriklike afdraande af kom.
Die wind waai al weer redelik sterk van voor af. Dis gelukkig nog koel en die grootste deel van die pad is nog in skaduwee gehul. Dit is fietsry-spitsverkeertyd. Honderde fietsryers van albei kante af. Die wat teen die opdraande opsukkel en ander wat teen die afdraande af free. Ek weet nie of hulle êrens agter ons omdraai en die bult `n paar keer ry nie, maar dit lyk definitief soos spanne wat oefen.
My enkel was vanoggend `n bietjie seer, maar dit het gelukkig gou reggekom. Ek is egter meer bekommerd oor my knieë teen hierdie afdraande. Ons stap teen `n lekker gemaklike pas en voor ons weer sien is ons in Houtbaai. Die maklikste pad vir ons is reguit af see toe. Dis veiliger ook as die pad langs die plakkerskamp verby. Minder besig ook. Ons is nog `n hele entjie van die strand af, maar orals lê berge seesand op die sypaadjies en in die straat. `n Verkeersirkel is toe onder die sand. `n Groot probleem vir die mense hier. Veral as die wind waai. Hierdie fyn sand waai seker in die winkels en in die mense se huise ook in.
By die laaste sirkel draai ons links en kies koers na die Chapmanspeak Rylaan. Volgens my pa een van die mooiste paaie in die wêreld. Ek kan nie onthou of ek al ooit hier gery het nie en weet nie lekker wat om te verwag nie. Dit lyk maar steil van hier af. En dis `n tolpad. Moet ek betaal? Betaal stappers by tolpaaie? Hoe moet ek maak... Gaan hulle vir my en Johan deurlaat?
By die begin van Chapmanspeak kom ons op `n man af wat op die ritme van musiek dans terwyl hy `n bottel op sy kop balanseer. Interessante mense hier aan die Kaap...
Ek was toe verniet bekommerd of ons toegelaat gaan word op die tolpad. Geen probleem nie. Hier is fietsryers, drawwers en ander stappers wat almal gratis die pad gebruik. Geen wonder nie, want die pas is werklik pragtig. Dit klou teen die berghang en kronkel al hoër en hoër bo die see doer onder. Maar dit is steil. En ons voel dit in ons kuite. Die probleem met die pas is ook dat hier nie regtig paadjies is vir drawwers of stappers nie. Langs die teerpad is `n klipmuurtjie waarop `n mens kan klim of spring as jy nie `n swaar sak op jou rug het nie. Andersins moet jy maar op die teerpad loop teen die verkeer in. Dit bly egter maar gevaarlik. Veral as motors vinnig om die draai kom of groepe fietsryers in bondels verbyjaag. Ons is heeltyd op ons pasoppens.
Ek het nou al geleer dat Johan `n nood ontwikkel op die onmoontlikste plekke. Hierdie was nou weer so `n situasie. Hy kon nie meer hou nie. Maar hier is nie juis plek om weg te kruip nie... `n Steil krans aan die linkerkant en `n steil afgrond aan die regterkant. En blinde draaie. Dus kan jy nie van ver af sien as iemand aankom nie. Maar as jy moet gaan, moet jy gaan... Net toe Johan gereed maak om te gaan, kom `n vrou om die draai gedraf `n paar meter van Johan af. Hy moes uit die pad uitspring anders het sy hom daar bo van die pad af see se kant toe gestamp. Gelukkig is Johan rats. Hy het letterlik sy nood weggeskrik...
Van hier bo af kan `n mens ver sien oor Houtbaai en Koeëlbaai. Ons sien vir die derde keer in twee dae dolfyne, maar dis te ver om hulle te identifiseer. Vanaf die teerpad is hier orals afdraai-paadjies na besienswaardighede soos die forte wat gebou is om die baai te beskerm. Ook `n paar paadjies wat verbind met die Houtbaai voetslaanpad hoër op teen die berge.
Die wind het nou opgehou met waai. Die wolke het ook gelig en die son begin oor die bergpunte loer. Dit raak warm. En bedompig.
Erens in die middel van die pas word ons gestop by `n kontrolepunt. Die beampte het gedink ons het verdwaal. Hierdie is nie die hiking trail nie... Toe ons hom vertel ons stap Kaappunt toe, was hy nie verbaas nie. `n Heeltemal ander reaksie as wat ons tot dusver by mense gekry het as hulle hoor waarnatoe ek oppad is. Ek besef nou skielik hoe naby ons aan my eindbestemming is...
Oom Danie van die TV het ons weer op die pas ontmoet. Hy wil weer `n paar oomblikke afneem vir die program. As gevolg daarvan loop ek en Johan `n hele entjie uitmekaar. Die pad is in elk geval so nou hier dat ons nie langs mekaar kan loop nie. As `n motor van voor af kom, staan ons maar eenkant toe en maak ons so klein as moontlik. Veral net voor die draaie is dit regtig scary, omdat jy nie weet of iets oppad is nie en hulle ook nie van jou weet nie.
Anderkant Chapman`s Point kan ons die Noordhoekstrand sien. Maar ons is nog hoog. Ek bel my pa. “Hoe kom ons by die strand? Dis ver ondertoe.” My pa het nie raad nie. Ons moet maar vir `n paadjie soek. Maar daar is nie. Ek wil ook nie die kans vat om teen die steilte af te boendoe bash nie. Wil nie nou seer kry op die laaste nie, maar ek wil ook nie die plantegroei beskadig nie. Ons stap `n hele klompie ekstra kilometers tot in die dorpie Noordhoek. Tot daar waar die pas eindig en ons weer op gelyke grond is. Net om weer met `n ander pad terug te loop in die rigting waarmee ons gekom het. Alhoewel ons deur `n pragtige deel van die dorp stap, is dit sieldodend en demotiverend. Dit was nie deel van die beplanning nie. En ons was nou net hier... Net `n paar meter hoër op teen die berg. Dertig kilometer word nou skielik 35 of meer. Vyf en veertig minute langer se stap. Maar dit help nie ons kla nie. Dit moet gestap word.
Anderkant Ratelklip, langs die lagoon, by die begin van die uitgestrekte Noordhoekstrand kom twee mans van natuurbewaring op ons af. Nie om verby te stap nie, maar reguit na ons toe. Wat nou? Mag ons nie hier wees nie? Is dit deel van `n nasionale park of natuurreservaat en het `n mens `n permit nodig om hier te stap? Ek het my immers al in die afgelope klompie weke in vreemde situasies bevind... Maar hulle wou ons net waarsku. Hierdie is `n gevaarlike strand. Dit is kilometers lank. Uitgestrek en eensaam. Heelwat mense is al hier aangeval en selfs vermoor. Ons moet versigtig wees. In groterige groepe bly. “Stab hulle sommer met die stokke as hulle moeilikheid maak” sê die een ou nog vir oulaas terwyl hy na die stapstokke wys.
Wel, dis nie baie bemoedigend nie... Ons groot groep bestaan net uit twee!
Hier is heelwat mense wat op perde op die strand ry. Twee perderuiters kom op ons af en vra of ons foreigners is. Hulle waarsku ons dat ons baie versigtig moet wees. Blykbaar lê die rowers en wag tussen die duine naby die Kakapo skeepswrak wat in die jaar 1900 hier vergaan het.
Hoe nader ons aan die skeepswrak kom hoe vinniger stap ons. `n Hele entjie voor ons op die strand is `n klompie perderuiters. Ons loop om by hulle uit te kom. Veiligheid in getalle. In die stap neem ek `n foto van die wrak. Maar ek dink nie die foto gaan te goed uitkom nie. Ons is te skrikkerig om te stop vir `n foto. En ons moet natuurlik die perde inhaal...
Ons nader Klein Slangkoppunt. Die einde van die strand is in sig. Hier is heelwat surfers. Twee van hulle stap verby. Een draai om en hardloop agter ons aan. Diego. Hy wil weet waarnatoe ons oppad is. Hy kom nou net terug van `n staptog in Natal: Die Drakensberg Traverse. Klink na `n tawwe stap van ongeveer twee weke.
Ons bereik die einde van die strand sonder enige moeilikheid. Daarvoor is ons die Here geweldig dankbaar. Veral ook omdat ons weer gestop is deur sekuriteitsmense wat ons gewaarsku het om nie so alleen langs die strand te stap nie. Hulle het juis die vorige dag `n mes by iemand afgeneem waarvan die lem 30cm lank was. Dit klink nie meer vir my soos `n mes nie...
Ons is dankbaar vir die Here se beskerming en sorg. Hoe baie het ek dit nie die afgelope paar weke gesê of gedink nie... My lewe is veilig in sy hande.
Behalwe dat ons maar skrikkerig was, was die sandstappery nie lekker nie. Ons het gedink ons stap vandag hoofsaaklik teerpad en was daarom nie goed genoeg voorbereid hiervoor nie. Op die kaart het hierdie stukkie strand nie baie lank gelyk nie en het ek nie my kamaste aangetrek nie. Met die gevolg dat my skoene hope sand ingekry het.
Ons is altwee redelik moeg. Chapmanspeak se opdraandes en die vinnige stap deur die sand het ons redelik uitgeput. En natuurlik die adrenalien om deur die gevaarlike strand te kom. My pa laat weet vir my hulle wag vir ons op die Soetwater kampeerplek naby die Slangkoppunt-vuurtoring. Hulle soek nog steeds slaapplek vir die nag. Alhoewel dit op die kaart naby lyk is dit nog `n paar kilometer se stap. Verby Klein Slangkop, Bokramstrand en Long Beach en verby Kommetjie. Ons rus `n tydjie, verkyk ons aan die baie surfers by Long Beach en kom na `n uur by my ouers aan. Net betyds om te sien hoe my pa die laptop wegpak agter in die bakkie. Die sein is maar sleg hier en hy het gesukkel om die foto's en Blog post “Die langste dag” weggestuur te kry.
Johan besluit om hier te stop. Ek moet omtrent nog so 8km stap tot by Scarborough. `n Pragtige pad. Vir `n hele paar kilometers kuslangs binne die uitgerekte karavaanpark van Soetwater. Hoofsaaklik rotsatige kus. Ek teken weer elke nou en dan Oystercatchers aan. Verby Rossouwsbank en Die Eiland. By Witsandbaai kom ek op `n bikini foto-shoot af op die strand. Vat die hele strand oor. Niemand mag verbykom nie. Hulle gee ook nie kans tussen die fotonemery deur nie. Maar ek moet aangaan. Het nie tyd om te mors met sulke goed nie. Ek wil ook nie hulle foto`s opmors nie en stap in `n wye half maan deur die duine om hulle. Maar ook dit is nie goed genoeg nie... Hulle skree op my en gaan tekere. Ek steur my nie teveel aan die geraas nie. Ek is moeg en wil klaarmaak. Ek is vinniger as hulle op `n duin. Hulle sal my nie vang nie... Dis nie `n lang strand nie en al gou is ek weer terug op die teerpad.
`n Pragtige passie al teen die hang van die berg. Dis egter naby genoeg aan die see dat jy dit kan hoor en ruik. Dit is al na een in die middag, maar ek loop hier lekker in die skaduwee van die berge. By Middle Beach staan `n paar huise. Die omgewing is skilderagtig mooi met die mis wat teen die berghange klou. Geen wonder hulle noem dit Misty Cliffs nie.
In die verte sien ek my pa se bakkie staan. Vandag se eindpunt. Ek hoop hulle het êrens blyplek gekry. `n Stort sal nou wonderlik wees.
Johan gooi `n paar klippies in die water. Dit is lekker dat hy ook nog hier is. Hy stap nou wel nie môre die laaste dag saam nie. My keuse. Die laaste entjie moet ek op my eie aandurf. Nie net vir die TV-opname môre nie, maar ook vir my self. Ek en my gedagtes. En emosies...
Johan was `n wonderlike metgesel oor die laaste honderd plus kilometers. Lekker geselskap. Fiks. Het nooit gekla nie al was sommige dae swaar. Hy is nie net my neef nie. Ook `n goeie vriend. Hy het my baie gehelp met die laaste stuk. `n Mens voel maar net veiliger as jy met twee is.
Maricia moes eintlik ook hier gewees het. Dis jammer dit het nie so uitgewerk nie. My respek vir haar is nie minder nie... Sy het geloop tot sy nie meer kan nie. En dit sê baie. Sy is `n tawwe girl.
Ons kry slaapplek in Kommetjie by “A Bird`s Gift”. My ouers het nie kans gesien om weer te kamp nie. Ons bederf onsself. `n Warm stort. `n Sagte bed. Plek vir al ses van ons...
Oor die afgelope paar weke het ons seekos geëet as ons onsself wou bederf. Vis en chips. Eenkeer calamari. Weskus-styl. Vanaand eet ons pizza. Net om anders te wees. Ons ry na Kommetjie se strand toe en eet ons kos terwyl die son sak. Die surfers keer terug van die see af. Mense wat met hul honde gaan stap het, keer terug na hulle motors.
Sommiges groet. Niemand van hulle weet watter groot dag wag môre op my nie. Die lewe gaan aan soos elke dag...
Die pizzas is lankal klaar. Ons sit... Geniet van die skemerte wat oor ons daal. Die gedruis van die golwe. Môre is `n groot dag.
My pa lees vir my `n boodskap wat Henriëtte Klapwijk op ons Facebookblad ontvang het:
“Well done Jacobus. You have DONE and not just talked about it.
Well done! That`s the toughest part of any journey. DOING. Your real journey though, has just begun, so keep the spirit fresh and everything about YOU! My son`s name is the English version of Jacob. I`m hoping he has your spirit of adventure.
Enjoy the finish tomorrow... It will go by in a blur!”
“Raai van wie?” vra my Pa. Hoe moet ek weet? Dit kan mos enigiemand wees.
Riaan Manser.
Ek slaan hoendervleis uit...
Die groot avonturier van Suid-Afrika. Die man wat om Afrika gery het met sy fiets. Om Madagskar in `n kayak. Om Ysland. En oor die Atlantiese Oseaan.
Die man wat die saadjie vir die groot stap in my kop geplant het, sonder dat hy daarvan weet...
Ek het nog net twee boeke vrywilliglik gelees in my lewe. Altwee van hom. Tegnies is ek nog besig met die een: “Around Africa on my Bicycle”.
Wow! Dit is spesiaal. Ons babbel opgewonde vir `n tydjie. Hoog op adrenalien.
Skielik besef ek die grootheid van die oomblik. Ek kan nie meer wag nie. Ek is reg vir die laaste stukkie. Môre maak ek klaar.
As die Here wil.
No comments:
Post a Comment