Eet smaaklik? Dinsdag 2 Januarie
Gen 9:2-4: “…Alles wat beweeg en lewe, sal julle voedsel wees. Net soos die groen plante, gee Ek dit alles aan julle. Net die vleis met sy siel, met sy bloed, mag julle nie eet nie.”
Daar is omtrent niks wat Suid-Afrikaners so kenmerk as ons liefde vir ‘n lekker braaivleis nie. God sou sonder skroom by een van daardie vure kon aanskuif as mens ons teks op gesigwaarde lees. Die mens as plant-eter was dalk iets wat in die Paradys aangekondig was (Gen 1:29), maar wat nou na Gen 9 nie meer geldig is nie. Met so redenering is die laatste woord oor ons karnivoriese voorliefde nog nie gesê nie.
Ons vertaling kan maklik die indruk skep dat alles wat beweeg geëet mag word. Dit skep egter ‘n verkeerde beeld. In Gen 1:24-25 lees ons dat God verskillende kategorieë diere gemaak het, naamlik wilde diere (khayyat), vee (behemah) en kruipende diere (remas). Laasgenoemde diere word in ons teks vermeld. Die wilde diere wat ander diere en mense eet is nie geskik as voedsel vir die mens nie. Die vee was teen die tyd van hierdie beskrywing alreeds geoffer en hoogswaarskynlik ook as voedsel gebruik (Gen 4:2-4; 7:2-3). By kruipende diere moet nie gedink word aan kleiner diere, bv. muis, reptiele en insekte, nie. Ook die diere van die bos kruip (Ps 104:20). Dit is daarom veel meer aanneemlik om te dink aan nie-karnivoriese wilde diere, soos bokke, wat hier gegee word as voedsel.
Daar is wel ‘n streng beperking op die eet van vleis. Ten spyte van die feit dat in die sondvloed baie diere doodgegaan het, is die lewe van diere nie goedkoop nie (Gen 7:22). Alle diere het die lewensasem van God waarvan die bloed ‘n simbool is. Die bloed moet eers goed uitloop en die diere behoorlik dood wees voordat daar geëet mag word (Deut 12:23; Lev 17:11). Respek vir alles wat leef bly die norm. Selfs ‘n dier wat sterf om geëet te word mag nog aanspraak maak op die morele gedrag van die mens. Die rede daarvoor is dat alle lewe heilig is en aan God behoort.
Die verhouding tussen mens en dier het verander na die sondeval. Daar is vrees en skrik onder die wilde diere vir die mens. Ons kan nie daaruit aflei dat dit is hoe dit nou behoort te wees nie. Die verwagtings bly veel hoër as dit. In Hosea 4:1-3 lees ons dat die land treur en die diere doodgaan as die mens nie God ken en liefhet nie. Die regverdige persoon ken die natuur van sy diere (Spr 12:10). God se vloek oor die skepping is nie ons noodlot nie. Daar is altyd twee keuses: of gehoorsaamheid aan God of ons eie kop wil volg.
Om vleis te eet op sigself is nie die probleem nie, solank dit gedoen word uit menslike noodsaak en in die konteks van sorg vir die skepping. Om diere te dood mag nooit op ‘n speelse en traak-my-nie-agtige manier gedoen word nie. Om lekker te eet kan gou ‘n versoeking word. Isak en Esau is gedryf deur die lus vir vleis en het aan hulle siel skade gelei. Die neem van dierelewe moet altyd uitgevoer word in die teenwoordigheid van God om legitiem te wees. Alles wat deur God geskape is, is goed as dit met danksegging ontvang word.
Vra jouself af waar jou vleis vandaan kom. Word daardie diere wat op jou tafel bedien word met sorg en respek behandel? Neem jy nog jou braaivleis in gebed en danksegging aan?
Sing: Ps 50:5
Refleksie:
Al die wilde diere, die voëls, ja die hele wêreld behoort aan die Here (Ps 50:10-12). Alle lewe is heilig en behoort aan die Here. Dink na hoe dit jou eie verhoudings tot diere, asook die doodmaak en eet van diere, bepaal.
No comments:
Post a Comment