Monday 8 January 2018

Mens, ken jou plek! Maandag 8 Januarie


Lees: Job 39:29-30 “Is dit op jou bevel dat die valk hoog vlieg en sy vlerke sprei na die suide? Gee jy bevel dat die arend hoog moet vlieg om sy nes te gaan bou?" (NLV)

Wat gaan aan in die swart-tobie se brein? Hoe weet valke wanneer om te migreer?  Hoe besluit die arend om opwaarts te begin sweef?  Vandag het ons al baie geleer oor dierwetenskap en –gedrag sedert die tyd van Job, maar hoe swart-tobies, valke en arende dink en voel sal ons seker nooit presies weet nie. Ons is mense, nie voëls nie.

Ons verstand is beperk. “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie”, adviseer God aan ons deur die wyse Salomo (Spr 3:5). Hierdie insig is ook die punt van God se uitdaging aan en antwoord op Job se refleksies oor die vraag na lyding onder regverdige mense. 

God se antwoord in hoofstuk 38 fokus op die verborgenhede van die aarde en die lug en in hoofstuk 39 op die verborgenhede in die lewe van diere en voëls. Job 39 is ‘n pragtige verwysing na die gawes wat aan diere gegee is, sommige baie nuttig en ander selfs nutteloos. Daar is wilde esels wat nie deur die mens ingespan kan word nie (vers 10) en volstruise wat vlerke het en tog nie kan vlieg nie (vers 16). In kontras, dinge wat vir ons negatief lyk, soos klein arende wat bloed slurp, is wel baie nuttig in die sorg en onderhouding van God se skepping. Die siklus van lewe en dood is deel van ‘n God-gegewe orde in die natuur wat tans nog wag op vervolmaking. God sorg vir alle diere en sy goedheid is nie afhanklik van hul verdienste of nuttigheid nie. Hierdie diere dien God sonder om na voordeel of redes te soek. Hierdie kinderlike (dierlike?) vertroue en oorgawe is iets wat vir die mens maar baie moeilik is (sien ook Jes 1:30). 

Op hierdie punt word Job destyds en ons vandag op ons plek gesit. Selfs redelik “alledaagse” dinge soos valke wat ongelooflik vinnig vlieg en suidwaarts migreer en arende (ook vertaal met aasvoël) wat tot groot hoogtes opwaarts sweef hou groot geheimenisse in.  Al weet ons dalk vandag heelwat meer oor hierdie diere as Job destyds, is die boodskap om ons plek te ken duidelik. God as Skepper van al hierdie diere ken elkeen en hulle erken God deur te wees wie hulle is.  Van die natuurlike mens kan dit egter nie gesê word nie. 

Hoekom wil jy as mens God manipuleer deur lyding direk te gaan koppel aan sonde (soos die teologie van Job se vriende) of God se regverdigheid te bevraagteken as lyding ook gelowige mense tref (soos die vertwyfeling van Job self)? Kyk na die diereryk, sê God, en sien wat kennis werklik is.

Hierdie goeie nuus van die evangelie bly uiters aktueel in ons tyd van massale verstedeliking en die tegnologiese oorname van ons lewens.  Om fyn die natuur waar te neem is nie net ‘n stokperdjie vir ‘n paar natuurliefhebbers nie, dit is ‘n krities belangrike manier om ons eie beperkings te verstaan en deel te neem aan God se genieting van sy skepping.

God is God, Job is Job en Jy is Jy. Ken jou plek. Vertrou op God. Moet Hom nooit probeer verstaan of manipuleer nie, hoe vroom en teologies dit ook al mag klink.

Refleksie: Verwonder jouself deur fyn te kyk na die diere wat jy raakloop. Elke dier word deur God geken, ken vir God en leef instinktief tot sy eer.  Elkeen het sy plek in die skepping, hoe nutteloos of wreed dit ook al vir ons mag lyk. Hoe sien jy jou plek in verhouding tot God en in verhouding tot al hierdie skepsels? 

No comments:

Post a Comment