Vernuwing en deelneming: Saterdag 13 Januarie
Lees: Openb 21:1-3: “En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien… en ek… het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel…Hy sal by julle woon…”
Hoeveel van hierdie aarde en ons eie liggaamlikheid sal voortgang vind op ’n nuwe hemel en aarde en hoeveel daarvan sal verdwyn is ‘n vraag wat mens lank besig kan hou. Sal daar diere wees in die hemel of is al daardie teksgedeeltes wat na harmonie tussen mens en dier verwys maar net beeldspraak? Watter kultuur van die mens sal ons terugsien op die nuwe aarde? Of gaan dinge so radikaal verander dat ons weinig van die huidige aarde en ons menslikheid sal terugsien?
Hierdie vrae mag dalk diepgaande en noodsaaklike debat oplewer, maar kan gou die belangrikste saak oorskadu: ‘n Vertroue in God se beloftes en deelneming in gemeenskap met Christus deur die werk van die Gees.
Aan die een kant is daar die argument dat die aarde sal bly voortbestaan min-of-meer soos ons dit ken, alhoewel in hernude vorm sonder enige sonde en kwaad. Aan die ander kant word gesê dat die aarde en alles wat daarop is so vol sonde is dat ons eerder alle hoop moet opgee om die aarde hier-en-nou al te probeer verbeter deur bv. sorg te dra vir God se skepping. Die eerste argument probeer walgooi teen die vergeesteliking van die geloof en die tweede probeer walgooi teen die inherente optimisme van die mens om self iets moois te wil maak van hierdie wêreld.
Beide argumente het waardevolle insigte, maar beide beklemtoon nie genoeg die kern van ons verbondenheid met God in Christus, deur werking van die Heilige Gees. Diegene wie in Christus glo is nou al versoen en verbonde met God in Christus. Ons hoop is veranker in Christus wat “veilig en vas is” (Heb 6:18-19).
Sorg vir die aarde word nie primêr gemotiveer uit die gedagte dat iets van hierdie aarde sal deurvloei na die nuwe aarde toe nie, of dat ons nou-al die paradys-tuin moet restoreer nie. Sorg vir die skepping is deelname aan die gemeenskap in Christus deur die werking van die Gees. Gelowige sorg vir die skepping begin met ‘n deelname in ons verbondenheid in Christus. Sorg vir die skepping word gekenmerk deur aanbidding, gebed en Bybelstudie. Onder hierdie beskerming teen ons eie wysheid sal die Gees ons lei na deelneming in die sorg vir sy skepping.
Ons mag seker weet dat ons volmaak met God verbonde sal wees op die nuwe hemel en die nuwe aarde. Daar bly egter baie geheimenisse vir ons verborge oor hoe die aarde, die ekologie en menslike kultuur sal lyk in hierdie nuwe bestel. Die Christelike geloof laat hierdie vrae wyd oop. Die toekoms sal groter wees as wat ons nou al kan bevat, maar dit verander niks oor die vastigheid van ons hoop nie. Inteendeel, dit bring rus in ‘n wêreld wat op hol geslaan het.
Ekologiese rampe, besoedeling en uitbuiting van die natuur laat ons nie koud nie, maar ook nooit sonder hoop nie. Die antwoord is nie ‘n stel programme en projekte waardeur ons beheer neem oor die bewaring en herstel van die skepping en daardeur dink dat ons ons verantwoordelikheid nakom nie. Die antwoord is deelneming in die gemeenskap in Christus deur die werking van die Gees. In gebed en aanbidding mag daardie verbondenheid groei en sal ons gelei word om die werke te doen wat God al vir ons voorberei het (Ef 2:10). Wat ‘n voorreg om Christus se hande en voete te mag wees in die werk wat Hy alreeds begin het en eendag to volkomenheid sal bring!
By die wederkoms sal Christus die koninkryk aan God oorhandig en dan kom God by ons woon. Kom Here Jesus, kom gou!
Refleksie: Ons gedrag word bepaal deur wat ons dink oor die toekoms. Wat beteken dit vir jou dat dit vas en seker is dat gelowiges eendag volmaak met God verbonde sal wees? Hoe bepaal so ‘n toekomsvisie jou sorg vir God se skepping vandag?
No comments:
Post a Comment