Friday 5 January 2018

Who let the dogs out?

Maandag 1 Jan 2018

Die sandhaaie spat in verskillende rigtings.  Net `n wolkie stof op die seebodem.  Toe is hulle weg.  Ek het hulle nie eens gesien nie.  Hulle waarskynlik ook nie vir my nie.  Maar toe my voete die water tref beweeg die modderige oppervlakte hieronder my skielik.
Ek gee `n paar huiwerige treë vorentoe.  Knie-diep in die water.  Kuit-diep in die modder.
Ek het darem nie my skoene aan nie.   Die dryf gevaarlik naby aan die wateroppervlak.  Sentimeters van `n ramp af.  Soos die res van al my stapgoed...  As dit van die kayak afgly is daar groot marakkas.


My hart klop in my keel van benoudheid, maar oom John Moran stoot sy kayak na die land asof dit die gewoonste ding onder die son is.  Ek stabiliseer die vaartuig...  
Dis nie so maklik nie, want hoe nader ons aan die kant kom, hoe dieper sak ek in die modder weg.

Oom Ewald van Wyk het ons vanoggend by Rooiwalle se jetty`s gekry.  Toe hy gehoor het ek moet `n ompad stap om by die anderkant van die Bergriviermond uit te kom, het hy aangebied om my te vat.  Met sy marine ranger boot.  Saam met die trekduikers wat streep-streep of in reuse v-formasie die hawe verlaat om kos in die wye oseaan te soek, vaar ons verby Laaiplek se hawe in die rigting van `n landhoof wat `n ent in die see insteek.


Maar ons kan net tot so naby aan die land kom.  Dan raak die water te vlak.  En dis nou waar oom John inkom.  Hy het gehoor van die skoolseun wat so ver stap vir omgewingsbewaring en wil help.  Hy sal die goed van die boot af “ferrie” land toe.  Ons sien hom al van ver af met sy interessante kleredrag en sy geel kayak.  Opgewonde om sy bydrae te maak.

Toe ek my skoene uittrek bid ek dat alles droog anderkant sal aankom.  Die feit dat ek my voete met soveel sorg vanoggend gesalf en verbind het, vireers op die agtergrond...  Ek moet dit maar weer oor doen AS my goed die land bereik.

Die Here is my genadig.  Ek slaak `n sug van verligting en dankbaarheid.  Oom John glimlag breed.  Hy het nooit getwyfel nie...

Oom Ewald het my `n groot guns bewys.  Ek waai vir hom tot siens.  Ook vir my pa en Maricia wat my op die boot vergesel het. Terwyl ek my voete ordentlik afdroog, sien ek hoe word die boot kleiner Laaiplek se kant toe...

Intussen praat oom John.  Hy het `n groot passie vir die natuur en is baie bekommerd oor wat in hierdie deel van ons land aangaan.  Alhoewel die oom seker al maklik sestig jaar oud moet wees, roei hy nog gereeld op en af teen die rivier.  Selfs skuins oor die baai na St Helenabaai se rigting.  Sommer vir die lekker.  Hy ken hierdie wêreld goed.

Hier waar ons nou staan is ons op privaatgrond.  Ek en my pa het in Junie-maand hier rond verken.  Rondgery tussen die soutwerke en vandaar af die mond probeer bereik.  Verby `n paar huisies langs die grondpad.  Tot by `n hoë hek.  `n Sandpad het vandaar al langs die heinings afgelei see toe.  Dik sand.  Maar ons kon nie by die suidelike deel van die mond uitkom nie.  Nie naastenby nie.  Maklik kilometers daarvandaan het ons gestaan en kon nie verder nie.  

My pa het daardie tyd al vir oom Ewald gekontak en gevra vir hulp.  As daar iemand was wat iets kon reël was dit sekerlik die marine ranger...



En nou staan ek op die suidelike punt van die mond.  Bittermin mense kom hier.  Die eienaar is `n tydjie terug in een van die drie huise op die plaas vermoor.  `n Hartseer geskiedenis.  En daarom is die sekuriteit vandag ekstra streng.  Hoë heinings en hekke.  Maar oom John het gereël dat ek hier mag stap.


Die oom ken baie stories van die Weskus.  Hy wys my waar die rivier vroeër geloop het en hoe die mond op `n heel ander plek was.  `n Skeepswrak in `n draai van die rivier dui die plek aan.  Oom John help my bietjie met die roete wat ek moet stap, waarvoor en waar ek versigtig moet wees en beduie vir my waar die plastiek “hotspots” is waarvan hy weet.  Hy vra my om veral op te let hoeveel shotgun shells hier op die hoogwatermerk lê.  Robbe word hier vir `n vale doodgeskiet.  Die vissermanne haat hulle.  Kompetisie vir die vis.  Rowers uit die nette uit...

Poachers soos soveel ander langs hierdie gestroopte kus...

Nou verstaan ek ook hoekom daar op sommige plekke wat ek gestap het soveel dooie robbe gelê het.  Natuurlik sterf hulle ook aan natuurlike oorsake, maar op sommige plekke het die robbe so twee-twee dood gelê en dan kan jy die volgendes al weer voor jou op die strand sien lê.

Hier êrens moet ook die oonde wees waar hulle skulpe gebrand het om kalk te maak.
Omdat die gedeelte waar ek my skoene moes aantrek ook maar modderig was, kon ek nie my voete skoon genoeg kry nie.  Ek is bietjie bekommerd oor watter effek die sand wat agtergebly het op my voete gaan hê vorentoe.  Hoop nie die “river crossing” gaan my nog in die agterent byt nie...

Dis asof ek langs `n ander oseaan stap vanoggend.  Daar is letterlik nie `n golfie op die water nie.  Nie `n brandertjie nie.  Die see is plat.  Plat-plat.

Toe ek terugkyk sien ek ver in die see iets wat blink...  Oom John in sy kayak.  Oppad na West Point toe.  Skuins oor die baai.  Ek haal my hoed af vir die oom...

Die weer begin opsteek.  Gisteraand het dit hard gereën en nou lyk dit of die wolke regmaak vir nog `n bui.  Om die waarheid te sê lyk dit of ek in die oog van `n orkaan stap.  Rondom my is die lug donker grys, maar reg bo my is die lug blou.  Ek weet nie wat ek sal verkies nie... `n Kort harde reënbui of `n ligte drizzle.  Ek ken nog nie my toerusting goed genoeg om te weet hoe ek die droogste sal bly nie.

Ek merk elke nou en dan plastiek “hotspots” vir oom John Kieser van PlasticSA.  Maar hier lê so baie plastiek dat ek nie weet of ek eenkeer moet merk of op `n gereelde basis nie.  Die mense van Laingville behoort hulle te skaam.  Dit is by verre die slegste stukkie kus wat ek nog gesien het.  En ek het al amper 650km kuslyn gecover!

Omdat dit nou die eerste keer in `n lang tyd is wat dit nie mistig is nie, kan ek die horison sien.  Op die oomblik vaar daar behalwe een seilboot, nog elf vragskepe oppad na die Kaapse hawe toe.  Netjies in `n rytjie.  Daar waar die see en die lug bymekaar kom.  Heelwat nader dryf sewe pelikane op die see.


Dit begin liggies reën.  Die wind het ook opgesteek en waai sommer hard van voor af.
Erens voor my lê die dorpie Laingville.  Ek weet nie wat om te verwag nie...  `n Oom by die koffie shop het gehoor ek stap daar verby en wou weet of ek die polisie se nommer het.  Ek kan hom ook bel as daar moeilikheid is.  Hy het `n pistool.  Almal is bietjie op hulle senuwees.  Dit is immers Nuwejaarsoggend.  `n Mens weet nie wat jy op die strand gaan kry nie.  Sal maar op my hoede wees.  My pa het in elk geval gesê hy sal net buite Laingville teen die see staan vir ingeval daar moeilikheid is.

Met `n hart wat klop in my keel is ek verby die dorpie...

Sonder enige rede.  

Die jong mense op die strand het my net verbaas aangekyk en gegroet.  Geen probleme nie.


Ek stap verby die dorp.  Deur `n veld waar die sakke soos blomme aan die bosse sit...
Daarvandaan teerpad langs verby Slippers Bay, Vioolbaai, en Soldatepos.  By Noordbaai, Steenbergsbaai en Hannasbaai begin die dorpies langs die kus.  Visfabrieke.  Huise.  Mense.

Teen die pad by Jaloersbaai staan nog `n paar van die ou vissershuisies.  Ek stop om `n foto te neem. 


`n Man wat oor die onderdeur van een van die huisies vir my loer, skree op my...
“R50.00 vir `n foto!”  
Ek skree terug:  “Jy`s darem te lelik vir R50.00!”
Hy beduie met sy vinger.  Ek lag lekker.

Ek stap aan.  Kop onderste bo.  Hoor of sien niks.  Verby die woonstelle wat in rye gepak staan.  Waar die wasgoed in die wind wapper.

Ek stap om klaar te stap.  My pa is `n hele tydjie terug al verby my.  Hy laat weet my waar ek hom moet kry...  By St Helenabaai se hawe.  Agter die visfabrieke.

Ek is lankal verby.

Dis die vinnigste wat ek nog gestap het. 26km.  Drie ure drie minute.

Vandag het ek laat waai...

Dinsdag 2 Jan 2018

My heup is vanoggend bietjie styf.  Ek is nie te bekommerd nie.  Waarskynlik is dit net as gevolg van die vinnig stap van gister.  Dit kort dalk net `n bietjie oefening. Oor die afgelope paar dae het ek agtergekom dat die meeste van die skete wat my die eerste vyfhonderd kilometer so gepla het, iets van die verlede is.  Danksy my liggaam wat gewoond geraak het aan die strawwe oefening.  En natuurlik my ma se geduldige en toegewyde versorging.  Panamor- of Voltaren- gel wat elke aand gesmeer is.  En met daai dun vingertjies van haar druk sy elke knoop uit my spiere uit.  Of dit nou kuite of rug is.  Hy het nie `n kans as my ma eers met hom besig is nie...  Op `n stadium was ons bekommerd oor alles wat so op `n knop getrek het.  Tannie Elmien Begemann het selfs haar infra rooi lig gestuur toe sy hoor van al my pyne.  Die word ook elke aand gebruik.  Net twintig sekondes op een plek.

Die enigste pyn wat nou nog gedurig terugkeer is die shins in my regterbeen.  Daar is nie veel wat `n mens daaraan kan doen nie.  Ek stap maar deur die pyn.


Sommer hier by my beginpunt vandag, naby Jaloersbaai,  sien ek die skelm bootjie tussen die boulders.  Manne wat met sekels die kelpblare afsny.  Sover ek weet is dit verbode en mag kelp net van die strand af opgetel word.  Ek neem foto`s.  Oom Ewald, die marine ranger, sal hiervan wil weet.


Die voordeel van stap waar daar mense woon is dat ek die verskillende voetslaan- en fietspaadjies kan gebruik.  In die dorpies is ook orals paadjies langs die teerpaaie.  Ek hoef dus nie die heeltyd op my hoede te wees vir motors wat my raak ry nie.  Die oppervlakte is ook oor die algemeen goed.  Die eerste deel verby Sandy Point, Klipbank, Stompneusbaai tot verby die gholfbaan naby Shell Bay Point is lekker gelyk.  Van hier af is daar `n staproete na Paternoster wat ek volg.  Verby Britania Bay en die kleiner baaitjies Witbaai, Agterbaai en Marine`s Bay.  Ek kyk bietjie vir nurdles.  Maar hier is net poeiersand en mosselskulpe.

Volgens die topografiese kaart wat ek het, is die paadjie waarop ek nou op loop deel van `n staproete.  Maar hier voor my is `n heining.  En `n bord.  Groot Paternoster Privaat Natuurreservaat.  Oortreders sal vervolg word.  Ek weet nie van waar tot waar hierdie reservaat strek nie...  Hoe ver ek sal moet om stap nie.  Hier is ook geen nommers om te bel nie.  Ek besluit om die heining te volg strand toe.   Gelukkig kan ek op die laagwatermerk verby kom.  As iemand my nou voorkeer is ek waarskynlik in die moeilikheid.  Ek voel in elk geval soos `n oortreder.  Maar daar is niks anders wat ek kan doen nie.  Ek besluit om tussen die hoogwater en laagwater merk te hou.  Die admiraal se grond, soos ek in Port Nolloth in tannie Jacqui se huis gehoor het.  “Niemand kan jou daar niks maakie”. Iemand anders het vir my gesê dit behoort aan die President.  Vir wat dit werd is.  Behoort seker nou aan die Guptas...



Ek stap.  Nie baie gelukkig met my situasie nie.  Die omgewing is pragtig.  `n Kaapse grysbokkie hardloop skielik uit die bosse uit.  Weg van my af.  See se kant toe lê `n klompie eilande in die wit breke van die branders.  Seal Island.  Ek is verby Groot Paternosterpunt.  Naby aan Steenbrasbaai.




Hopelik kan ek hier op die strand onder die radar deurbeweeg...

Toe nie.

Voor my op die horison is daar huise.  By Sonwyserpunt.  Net bo die strand.  En ek sien beweging.  Ek bel my pa.  Hy antwoord nie.  Ek los `n voice message.  Hy kom nie terug na my toe nie.

Ek besluit om die kans te vat.

Ek hou net my kop af en stap.  Vorentoe.  As iemand my roep is ek doof.  Ek hoor of sien niks.  Net die sand voor my voete...


Na `n tydjie is ek verby.  Lyk my die taktiek werk...  Voor my is nog `n groepie huise.  Mense op die stoep.  Mense op die strand.  Ek doen dieselfde.  Kop onderste bo.  Kyk nie links of regs nie.  En kom anderkant uit sonder om gepla te word.  Waarskynlik was hierdie almal vakansiegangers, wat die kop onderstebo-stapper met stomme verbasing aangekyk het...  Ek gee nie om nie.  

Ek stap al langs die Paternosterbaai. `n Lang strand wat maar nie wil ent kry nie.  Hier en daar is groot ronde rotse waar ek moet om.  Boulders.  Indrukwekkend en pragtig.
Die shins van my regterbeen begin nou regtig pyn.  Ek stap nou om klaar te stap.  
Ek besef eers hoe vinnig ek stap, toe ek `n groepie perderuiters wat `n entjie voor my uit die duine uitgekom het, in haal, verbysteek en agter my laat.  Ek is reg vir die "July"...  Nog net ses kilometer.

`n Entjie voor my is ses mans in wetsuits besig om witmossels te trap in die vlak water.  Twee mans en `n hond lê langs `n bakkie op die strand.  Elf voersakke vol mossels staan reeds regop op die strand...

Ek weet nie wat hier aangaan nie...  Ek neem nie foto`s nie.  Vir die tweede keer vandag volg ek die volstruis taktiek.  “See no evil.  Hear no evil.”  Ek verwag enige oomblik dat hulle my gaan roep.  Ek loer net so sydelings.  Lyk darem of die bakkie groen nommer plate op het.  Weet nie wat dit beteken nie.

My pa-hulle wag vir my op Paternoster se strand.  My been pyn verskriklik, maar ek is hier.  Die Here het my vir hierdie skof ook weer die kragte gegee wat ek nodig gehad het.  Dit is Hy wat my pad so gelei het dat ek sonder moeilikheid hier aangekom het.  Dankie Here.
Ek vertel my pa van die kelpsnyers by Jaloersbaai en die witmosselmanne hier naby.  Hy stuur vir oom Ewald `n boodskap.  Na `n tydjie kom `n boodskap terug:
“ Stuur foto`s asb as hy het.  Albei is onwettig.”

Die wetteloosheid langs die weskus is eenvoudig net ongelooflik...

Maar vir nou is dit nie my prioriteit nie.

Vanaand kan ek op `n sagte bed slaap in oom Gert en tannie Ingrid Klapwijk se vakansiehuis in Mosselbank.  Kan nie wag nie...

Woensdag 3 Jan 2018

Ek het my shins gister probeer dokter.  Selfs van daardie blou pleisters, kinetic tape, langs die skeen van my regter been geplak.  Presies soos wat hulle dit op Youtube verduidelik het.  Met een verskil...  Ek het nie my beenhare geskeer nie.  Nou hoop ek maar dit kom nie los nie.

Ek kan nie juis voel dat dit `n verskil gemaak het nie.  Ek begin vanoggend sommer met seer shins...


Ek stap strandlangs verby die pragtige dorpie Paternoster.  Verby die strandkafeetjies, veelkleurige bakkies (weskus bootjies) en vissershuisies op die bult.  In die see is `n hele klompie groot ronde boulders.  Onderkante bruin.  Bo-op wit van die ghwano.  Soos reuse roompoffertjies in die water.


Ek stap tot by die hek van die Cape Columbine natuurreservaat.  Tot by die hekwag.  Ek weet nie regtig wat om te verwag nie.  Gaan hy my keer om in te stap.  Moet ek betaal.  Of kan ek net my Wild Card wys.  Ek moet betaal.  R20.90 om in te gaan.  Maar nie nou nie.  Ek is nog te vroeg.  Die mense wat die geld invorder is nog nie hier nie.  Ek moet betaal as ek weer uitgaan...


Maar ek kom nie weer hier uit nie.  Ek is oppad Jacobsbaai toe.  Ek sê maar niks.  Dit gaan te lank vat om te verduidelik.


Ek vat die steil paadjie op na die indrukwekkende ligtoring.  Van voor af kom `n jongerige vrou met haar groot swart boerboel aangestap.  Lyk of hulle al ver gestap het.  Ek kyk net vir die hond.  Bang dit gaan my byt.  Hoop nie die hond storm nie...  Tot my stomme verbasing is die hond te bang om verby my te stap.  Draai selfs om en loop terug.  Toe is dit eers `n deurmekaar spul.  Ek voel sleg vir die arme vrou wat sukkel om haar hond verby my te kry.  Ek gaan staan, sodat die hond net verby kan kom.  Dit kan darem seker nie die baard wees wat ek so oor die afgelope weke ontwikkel het nie?  Seker die stapstokke...



By die ligtoring gaan ek gou badkamer toe, drink bietjie water en neem `n paar foto`s.  En geniet natuurlik van die pragtige uitsig.  Dis prentjie mooi en jy kan alkante toe kilometers ver sien.  In die rigting waarnatoe ek moet stap is dit maar mistig.  Dalk ook maar goed so.  Dis nie altyd lekker om te sien wat op jou wag nie.



Langs die paadjie wat ek nou stap vind ek iets vreemds. Volledige heuningkoeke in `n bossie.  Iets of iemand het `n bynes geroof en die leë koeke hier neergegooi.

Die voetjie van een van my stapstokke, die een wat keer dat ek te ver in die sand wegsak, het nou finaal die gees gegee.  Ek het gelukkig `n reserwe paar.  Sal dit aansit as ek weer sand begin stap.  Vireers stap ek deur pragtige bossieveld.  Baie vygie-tipe plante.  Dis mooi, maar nie lekker om te stap nie.  Op en af.  En baie rotsagtig.  My knieë wil nie meer so lekker die rotse-ding doen nie.  Ek steun en kreun soos ek loop.  `n Dassie loer vir my.  Bo in die lug draai `n geelbekwou.


Onder in `n baaitjie kampeer `n klompie mense.  Naby hulle is mense besig om kelp bymekaar te maak.


By die bekende Tietiesbaai staan die karavane en tente soos `n klein dorpie om `n baaitjie geplant.    Baie CY en CF nommerplate.  Dis besig.  Selfs so vroeg in die oggend.  Kindertjies het al hul maatjies gaan opsoek en speel in die pad.  Twee Jack Russels kyk mekaar stert swaaiend aan.  Gereed om weer die rondhollery te begin waar hulle gisteraand opgehou het.  Die ouer mense sit rustig onder hulle afdakkies.  Kyk my verbaas aan.  Sommiges lig darem die hand op in `n groet.


Dis te besig vir my...   Te vol.  Alles net te naby mekaar.  

Ek loop om by die stilte te kom.


Die rotse verander in duine...  Ek het nou gevoel soos `n mier in `n mierleeu se gat.  Ek moes hier teen `n steil sandwal uitklim, maar hoe harder ek probeer, hoe minder vorder ek.  Soos jy `n tree gee, sak jou voet net weer tot waar hy was.  Soos om teen `n roltrap op te loop wat verkeerde kant toe gaan.  Jy moet net bly loop.  Stadig maar seker begin ek wen.  Hygend en natgesweet staan ek bo.  Ek koel bietjie af in die windjie voor ek verder gaan.
Omdat die terrein heeltyd verander tussen sandpaadjie en rotse en bossies en strand kom ek nie lekker in `n ritme vir stap nie.  `n Mens kom nie lekker op spoed nie.  Gelukkig is ek nou op `n lekker lang strand wat ver voor my uitstrek.  Ek moet nou volgens my berekeninge omtrent by Trekoskraal se strand wees.  Dit beteken dat ek nou al gevorder het verby Varswaterkop en Hoëbank.


Op die strand staan `n gesinnetjie.   Oupa, ouma en hul kleinkinders.   Hul tentjie so `n entjie in die duine in.  Lekker privaat.   Hier is heelwat eilandjies of rotsriwwe in die Noordwesbaai: Voëleiland, Soldier`s Reef en Rooisteen.  Sommiges sien jy net omdat die branders om hulle skuim.  Geen wonder die Cape Columbine-vuurtoring is gebou nie.  Dit moes maar `n gevaarlike besigheid gewees het om hier te vaar in die tyd voor ordentlike kaarte en vuurtorings.  Ek wonder hoeveel skepe het al hier vergaan.

Vanaf Klein-Noordwesbaai, verby Sandbaai tot by Perlemoenbaai kamp die mense weer wild.  Anders as langs die Namakwa Eko-roete ( Noord van Gert du Toit se baai) sien `n mens hier heelwat bootjies wat die kampeerders saamgesleep het.  Ook meer visstokke.  Maar ek dink dit is veral kreef wat die manne hier uithaal.  Niemand lyk te vriendelik nie.  Almal te besig om wakker te word of te besig met hul eie dinge.

Skielik storm twee honde op my af.  Grommend.  Blaffend. Pittbulls!  Vegtershonde...  `n Vrou skree uit `n tent uit.  Die honde luister nie.  Aarsel nie eers nie.  Kom net oopbek op my afgestorm.  Ek is lam geskrik...  In stadige aksie lig ek my stapstok op.  Hou die skerp punt soos `n spies tussen my en die honde.  Die ander een trek ek terug om te steek.  Hoe nader die honde kom, hoe harder skree die vrou.  Ek weet nie of dit die vrou se stygende stemtoon was of my stapstokke nie, maar skielik verloor altwee honde belangstelling in my en draai om.  Gelukkig.  Dalk wou hulle my net skrikmaak.  Dit het hulle goed reggekry...
Ek stap aan.  Bewerig.

Ek het nou `n hele entjie oor klippe geloop.  My enkels is moeg.  Seer van die rond rol op die klippe.  Veral my regterbeen met die shins.  Maar ek kan al die huise van Swartriet en Jacobsbaai sien.  Nog net die lang sandstrand van Wesbaai, dan kan ek weer `n entjie pad loop.  Ek weet nie presies tot waar ek moet stap vandag nie.  Erens daarvoor wag my pa.  En oom Fanus Louw wat vir die dag kom kuier het.
  
Ongelukkig is dit nou al hoogwater en kan ek nie op die harde sand stap nie.  Sagte sand is my voorland.  Aan die einde van `n dag se stap is dit nogals moordend op jou bene.  Die sand is nou so warm dat dit stoom as die water daaroor gaan.  Ek stap die hele tyd in `n wasigheid.  Maar ek is amper daar.  Vasbyt.

Twee stappers en hul dogtertjie kom van vooraf.  En hul Dalmation. Oom Cor en tannie Nini wil weet waarheen ek oppad is en of ek oefen vir die Camino de Santiago (Die weg van St. Jacobus).  Ek is nie die Heilige  Jacobus nie...  Maar op `n manier is ek besig met my eie Camino...


My eie geestelike en liggaamlike worsteling.  Deur die krag van die Here het ek al tot hier gevorder.

Ek is driekwart.  Sewehonderd en tien kilometers is verby.

Toe ek my kop optel sien ek my pa en oom Fanus op `n duin staan.

Ek is hier.

3 comments:

  1. Ai man, ek het nie nodig om leesboeke te koop nie. Ek hoef net jou blog te lees ...

    ReplyDelete
  2. Baie sterkte Jacobus met die laaste week se stap! Ons dink elke dag aan jou. Groete vanuit 'n baie warm Pretoria.

    ReplyDelete