Friday 5 January 2018

Hoopvol op die dag van die Here: Vrydag 5 Januarie


Lees: 2 Petr 3:10 “Maar die dag van die Here sal egter kom soos ‘n dief in die nag, ‘n dag waarop die hemele met ‘n gedruis tot ‘n einde sal kom sal kom en die elemente sal uitbrand en vergaan, en die aarde en wat daarop gedoen is, ontbloot sal word.” (DV)

Ons mag met volle vertroue die toekoms afwag, al weet ons nie met sekerheid hoe die toekoms lyk nie. Ons is nie in beheer nie en weet nie wat die uiteindelike uitkoms van die hele skepping gaan wees nie.  Ons leef nie na ‘n doel toe nie, maar eerder in blye afwagting op die dag wanneer Jesus Christus terugkom op die wolke van die hemel. 

Ons teks verwys na die komende “dag van die Here” wat, alhoewel ons nie weet wanneer dit gaan gebeur nie, ingelui word met beeldspraak van geweldige omwentelings in die skepping.  Ons lees elders in die Bybel dat die hemel inmekaar gerol sal word soos ‘n boek (Jes 34:4; Open 6:14), dat daar ‘n groot aardbewing sal wees (Open 6:12), dat die son en die maan donker sal word (Joël 3:15; Mark 3:24), dat die sterre van die hemel sal val en dat die kragte in die hemele geskud sal word (Mark 3:25).  

Ons kan maar weinig voorstelling maak van wat dit alles beteken. Dit is ook presies die punt waarby ons vandag moet stilstaan. Doelgerigte mense weet presies wat hulle wil en probeer dan ook alles rondom hulle so te beheer dat hulle daardie doel kan bereik.  So ‘n houding mag werk om vir ‘n toets voor te berei of om ‘n projek afgehandel te kry, maar die Christelike lewe is nie ‘n toets wat ons moet slaag of projek wat afgehandel moet word nie.  Die realiteit is dat ons nie presies weet hoe alles gaan eindig nie.  God maak iets nuuts wat by die - vir ons bekende - skepping bly, maar terselfdertyd word Hy nie deur die skepping beperk nie. 

Die hoopvolle lewe van ‘n Christen is nie in die eerste plek op ‘n bekende doel gerig nie. Ons leef in blye afwagting op die dag van die Here en vertrou dat alles goed sal wees, juis omdat ons God so leer ken in sy openbaring aan ons. God het alles goed gemaak, onderhou alles en bring alles na voleinding toe.  Sulke Christelike hoop is onveranderlik, of ons nou goeie of slegte tye beleef.  

Dat die hemele met gedruis tot ‘n einde sal kom, dat die elemente sal uitbrand en vergaan, en dat die aarde en wat daarop gedoen is, ontbloot sal word, mag ons met ontsag en vrees vervul, maar nie soos vir iemand sonder hoop nie.  Die Christelike geloof laat ons gedagtes oor die einde van hierdie aarde wyd oop vir ‘n toekoms veel groter as wat ons kan indink, en veel groter as wat enige doelgerigte visie vir die aarde ook maar kan opdis.

Sing: Ps 102:12

Refleksie:  Dink na oor die enorme bevryding daarvan om op God te mag vertrou Wie Homself aan ons geopenbaar het as Iemand Wie alles goed gemaak het en ook alles tot ‘n goeie einde sal bring. 

No comments:

Post a Comment