Wednesday 10 January 2018

Nuwe hemel en nuwe aarde: Woensdag 10 Januarie


Lees: Openb 21:1-3: “En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien… en ek… het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel…Hy sal by julle woon…”

Wat ons glo oor die toekoms is ‘n goeie voorspelling van hoe ons optree vandag.  As jy glo dat jy net eendag hemel toe gaan en ‘n geestelike wese word, gaan jy waarskynlik sukkel met jou liggaamlikheid en die materiële wêreld waarin ons woon. As jy glo ons gaan terug na ‘n paradys-tuin toe, gaan jy sukkel met die plek van die stad.  Dit is daarom baie belangrik om die Bybelse gegewens oor die toekoms te bly opsoek en te oorweeg. 

In ons teks vandag is dit duidelik dat ons nie teruggaan na ‘n paradys-tuin toe nie, maar dat ons uitsien na die nuwe tuin-stad Jerusalem.  Hierdie tuin-stad daal vanuit die hemele neer na die aarde toe.  God kom by ons woon op ‘n nuwe aarde! Ons sal dan werklik mens in volmaakte gemeenskap met Hom wees. Om só verbonde te mag wees met God is dan ook die kern van ons toekomsperspektief.

Hierdie gemeenskap met God bly wel in hernude liggame en op ‘n hernude aarde.  Die skepping word nie vernietig en vervang nie, maar word vernuwe.  Net soos iemand in Christus ‘n nuwe skepsel is, versoen God in Christus ook die wêreld met Homself (2 Kor 5:17-19). Soos wat ons weet dat ons sal opstaan met nuwe liggame, so word die aarde ook herstel. Die skepping wat “baie goed” geskape is sal werklik vir die eerste keer “baie goed” wees wanneer alles wat dit bedreig en vernietig verwyder is (sien Openb 20:11-15).

Menslike kultuur en die natuur ontmoet mekaar in ‘n tuin-stad. Ons gaan nie terug na ‘n utopiese natuur-wildernis en gaan ook nie verstik in ‘n stad-ghetto nie.  Daar sal genoeg ruimte wees gevoed deur die ewige lewe uit God self.  Liefde en sorg vir God se skepping hoef daarom nie per definisie teenoor die arbeid, ekonomie, politiek en kultuur van die mens te gaan staan nie. God se eer moet in die hele werklikheid gesoek word.

Nie net gelowige mense maar die hele skepping word met God versoen. Op hierdie aarde is die “bediening van die versoening” nou al aan ons gegee (2 Kor 5:18). As mens só na die toekoms kyk kan dit tog nie anders as om nou al hierdie versoening tussen mense onderling en tussen mense en die res van die skepping na te streef, voor te leef en uit te deel aan ander nie?

Refleksie: Hoe jy dink oor die toekoms bepaal jou optrede vandag. Hoe pas God se goeie skepping in by jou visie oor die toekoms? 

No comments:

Post a Comment