Friday 12 January 2018

Last update from Jacobus before the last day...!


Die langste dag

Maandag 8 Jan 2018


`n Mens doen nie dit aan iemand nie… My eerste gedagte toe ek die rye en rye duine voor my sien…  Ek dog dis `n maklike pad tot by die see.  Dis wat oom Pierre Nel gesê het.  Duidelik het hy nog nie die deel van die pad gestap nie.  En vandag is juis die dag wat ek moet inhaal.  Saterdag se korter stap mag my dalk nog in die agterent byt...

My neef, Johan van Renssen, het my laat weet hy wil `n ent saamstap.  Johan is fiks.  Gewoond aan Tafelberg en Leeukop klim.  Sal lekker geselskap wees.  Ek is opgewonde.  Veral omdat ons nou Kaapstad nader met al sy mense en soms vreemde skepsels langs die strand.  Dan is dit altyd beter om twee te wees.

My pa-hulle laai ons af by die wit paadjie wat oom Pierre voorgestel het.  `n Paadjie wat net eenkeer per jaar oopgestel word vir `n baie spesiale fietsresies.  Ons mag hierdie pad stap tot by die heining.  Die Weskus Nasionale Park se grens. Vandaar af draadlangs tot op die strand en dan so 3km tot by Yzerfontein.  Maar ek kan agterkom oom Pierre is nie so seker van sy afstande nie...  Dalk so `n bietjie meer as 2 ure se stap.

`n Kaapse grysbokkie hardloop oor die pad.  `n Swerm lepelaars kies koers na die naaste varswater.  `n Karoo langstertjie sing tot eer van die Here en `n slangverklikker skarrel onder `n bossie in.  Ons asem die skerp reuk van die bossies in.  Geniet dit om fiks en vry in die natuur te wees.  Gereed vir die dag.  

Die wit pad stap lekker.  Ons handhaaf `n goeie spoed.  As ons op `n bultjie kom kan ons Yzerfontein se huise sien.  Kan nie te ver wees nie.  So sewe of tien kilometer.  Kan nie te lank vat nie.

By die park se hoë heining is daar `n steil bult see se kant toe.  Dan is ons by die see.  En dan nog net drie kilometer...

Maar na die hoë bult wag daar nog een.  En nog een.  En nog een.  Glad nie die maklike paadjie wat ons in gedagte gehad het nie.  Ons kan Yzerfontein teen die tyd al baie duidelik sien.  Dit kan nie meer te ver wees nie...


Die paadjie begin al hoe sanderiger te raak.  Hierdie is definitief nie meer deel van die fietsryroete nie.  Geen fiets kan hier ry nie...  Buiten die dik sand is hier bosse met gruwelike dorings.  Sulke langes wat net wag om `n onskuldige stapper beet te kry.  Op sommige plekke staan hulle so dat jy dit eenvoudig nie kan mis loop nie.  Ek wens ek het my langbroek aangehad.  Terwyl ons stop om `n foto van die dorings te neem, sien ons `n hengse groot miernes tussen die bossies in die heining.  Ons neem daarvan ook `n foto.  Dalk net om `n bietjie langer te rus...



Die bruin sand verander nou in wit sand.  Seesand.  Dit kan seker nie meer te ver wees nie.  Nog `n duin en nog `n duin.  Die sand raak net al dikker.  Sak jy net al dieper in.  Ons hyg na ons asems.  Dit kan nie meer ver wees nie...

Ons het nou net `n baie hoë aaklige duin uitgeklim.  Gedink as ons bo is sal ons die see kan sien.  Toe nie.  Ons tel.  Nog sewe duine voor ons.  Dan sal ons op die strand wees.
So ploeter ons voort.  Kop af.  Linkerbeen.  Regterbeen.  Linkerbeen.  Regterbeen.  Moordend op alles wat jy het en is.  Maar ons stap.  Sewe duine...  Om net nog duine voor ons te sien.


En ons stap.

Ek weet nie wat oom Pierre bedoel het met `n mooi paadjie see toe nie...  Hier is nie meer `n paadjie nie.  Die tweespoor-paadjie lê lankal agter ons.  Het net eenvoudig in die diksand weggeraak...  Ons ploeter voort.  Maak ons eie pad.  Soek die veiligste pad deur die doringbosse met sweet wat ons oë brand.  Ons stap seker nou al `n uur en `n half deur die sand en die duine hou net aan en aan...  Lyk of dit nooit gaan ent kry nie.



Ons kan al die see hoor...  Maar dis nog steeds net duine en duine.  Ek dink ons moet `n serious chat hê met die oom wat gesê het ons moet hierdie pad stap....

Dit begin nou voel soos die eerste dag van my staptog, toe ek vir die sekuriteit in die myngebied weggevlug het.

Eindelik is ons op die strand.  Ek kan nie beskryf hoe bly ek en Johan is om hier te wees nie.  Dit voel of ons die eindpunt bereik het.  Maar eintlik het ons nou nog net Saterdag se gedeelte ingehaal.  Die eintlike skof lê nog voor.


Op `n duin `n entjie voor ons staan `n gebou op `n duin.  Met groot rooi letters is op die mure geverf:  Danger.  Danger.  Stay away.  Die fondasie is al weggevreet deur die sand en water.  `n “Landslide” wat wag om te gebeur...  Dis net `n dwaas wat sy huis op sand bou.  Die Bybel leer ons mos so.  Mense probeer altyd slimmer wees as die Here.  Dit was mos in die Paradys al so...

Ek dink aan Laurika Raugh se liedjie:  “ Kom see.  Kom weer en wind.  Kom oseaan...”  En die toepassing daarvan op my lewe... “Dit is `n Rots waarop MY huisie staan.”


Voor ons lê Yzerfontein.  By die parkeerplek wag hulle vir ons.  My pa-hulle en mnr. Herman van der Westhuizen.  Een van my onderwysers.  Hy het van die begin af belanggestel in my stap en het my gesê ek moet hom laat weet as ek by Yzerfontein verbykom, waar hy vakansie hou.  Ons het gedink ons sal so tien uur daar wees.  Op die ou end het ons eers na twaalf opgedaag.  Hy het meer as twee ure vir my gewag.  Ek is dankbaar hy het.  Dit was lekker om weer `n bekende te sien.  Te sien hoe opgewonde hy was oor my goeie vordering.  `n Groot motivering om aan te gaan.


Na `n foto stap ons aan.  Die eintlike kilometers vir vandag lê nou voor...

Ek was juis besig om vir Johan te vertel hoe fanaties ek my skoene oppas en hoe belangrik dit is om jou skoene droog te hou, toe ek in `n poel water trap.  Diep trap. Net buite Yzerfontein.  Ek het nie eens die glashelder water tussen die rotse gesien nie.  Nou is my een skoen nat...  Gelukkig is dit waterproof en het my voete droog gebly.  Om te verhoed dat die nat deur my skoene syfer het ek sand oor gegooi.  Hopelik trek dit die water uit.  


Ons verdwaal `n bietjie in Yzerfontein.  Sukkel om die regte pad te vind.  Eindelik vind ons die pad uit.  Ons is verby Meeurots.  Dokter se klip.  Bakoond.  Die strand lê oop voor ons.  Kilometers ver.  Tot by die rotse naby Grotto Bay.

Ons het voor die tyd op die kaarte gekyk.  Die sandgedeeltes by Rietduin, Jakkalsfontein tot by die Modderriviermond lyk intimiderend.  Shifting sands waarsku die kaart.  Een dik bruin lyn.  Dan kan jy maar weet.  Ons kuite gaan werk vandag.  Hierdie sand is nie jou speelmaat nie.  Johan het juis gesê sy bene voel soos wanneer hy aan die onderkant van Tafelberg staan...  Nadat hy dit op en af geklim het.  Ons moet omtrent nog 25km stap...

Dit sou te ver gewees het om tot by Grotto Bay te stap.  Volgens ons beplanning sou ons vannag êrens tussen die duine in Rondeberg se omgewing slaap.  Dit sou die inhaal kilometers eweredig tussen vandag en môre verdeel.  Ongeveer 35 tot 40 km per dag...  Maar die eerste drie ure wat dit gevat het om tot by Yzerfontein te stap het klaar sy tol geëis.

Die strand wat ons nou stap is redelik skuins.  Daar is geen harde sand wat die stap makliker maak nie.  En dis hoogwater.  Ons sak plek-plek tot by ons enkels weg.  Nie lekker omstandighede om te stap nie.  Die skuins loop is maar sleg op `n mens se heupe en knieë...


Nog so 11km dan is ons by Dwarsrivier.  Ons besluit om tussen Dwarsrivier en Modderrivier tent op te slaan.  Hopelik is die omstandighede môre beter en kan ons weer inhaal.  Dalk nog so vyf stap na Dwarsrivier.  Ons gaan aan.  Ons gaan dit maak...

Die dik sand vreet ons.  Ons bene wil nie meer lekker vorentoe nie.  Ons besluit om elke half uur te rus.  Nog 9km tot by Dwarsrivier.  Nie te ver nie...  Dan nog so vyf voor ons kan rus.  Ons hou aan.

Net anderkant Jakkalsfontein gaan staan Johan skielik...

Hy kan nie neer roer nie.  Nie `n voet vorentoe sit nie.  Staan daar stokstyf.

Krampe.  So erg dat daar nie `n manier is dat hy verder kan gaan nie.  Sy knieë en heupe...
Hy het al `n tydjie probleme begin kry met krampe, maar nou is dit net te erg.  Die pyn trek deur sy hele lyf.  Ek help hom.  Maak hom gemakliker.


Ons stuur `n boodskap na my pa.  Maar die sein is so sleg ...  En my pa was vanoggend laas op sy foon.  Hy het gesê hy gaan bietjie skryf. Dan sit hy met oorfone op en luister na my stories.  Hy gaan nie die selfoon hoor nie...  Die sein is nou weg.  Ek kan nie my ma kontak nie...

Tyd vir plan Z.  Ons laaste uitweg.  Hier by Jakkalsfontein is `n klompie huise.  Ons moet gaan aanklop.  As hulle ons wegjaag, gaan ons maar net na die volgende huis toe.  Iemand sal ons wel help.  Maar dalk is dit `n vakansie dorp en is hier niemand nie...

Ons stap sukkel-sukkel in die rigting van die huise.  Mooi huise.  Goed versorg.  Ryk mense.  Hulle sal goeie opvangs hê.  Wifi.  As ek net my ouers in die hande kan kry.  
Ons het in Mei tydens ons beplanning hier verby gery.  Tot by die hek van Jakkalsfontein.  Die sekuriteit wou ons nie toelaat om in te ry nie, maar darem gesê hulle sal ons laat inkom as ons in die nood is...

En hier is ons nou...  As ek my pa in die hande kry hoop ek hulle sal hom inlaat.  Ek dink darem nie hulle sal `n Gert Engelbrecht op ons trek nie...

Ons sien `n bediende by die deur uitgaan van die eerste huis.  En stap sommer soontoe.  Na die agterdeur toe...  `n Ou tannie is besig in die kombuis.  Sy sien ons nie.  Ons voel bietjie stupid om aan te klop.  Hoop nie die tannie skrik nie.  Gaan sy vir ons oopmaak.  Ons lyk soos twee voëlverskrikkers.  Ons het nie `n keuse nie...  En klop.

`n Baie liewe ou tannie maak die deur oop.  Ons vertel ons verhaal.  Ons moeilikheid.  En vra of ons haar foon kan gebruik.  Nie een van ons het airtime nie.  My ma het gekoop, maar ons het vergeet om dit op my foon te laai...  Sy maak die deur wyer oop.  Ek dink die kruise op ons bors het gehelp.  Net toe ek wou bel, bel my ma.  My pa het die boodskap gekry.  My pa gaan Johan kom haal...


Ek is reg om aan te stap, maar die tannie dring aan dat ons eers Oros drink en `n koekie eet.  Sy vertel bietjie van Jakkalsfontein.  Dit is `n natuurreservaat met `n honderd huise op.  Dertig van hulle word permanent bewoon.  Die tannie en haar man, wat ek dink onlangs oorlede is, was groot voëlkykers.  Hulle het so nou en dan van Silwerstroomstrand af na Bok se punt toe gestap om Oystercatchers te tel.  Sy was baie geïnteresseerd in my navorsing.

Johan is in goeie hande.  My pa is oppad.  En ek stap.  Dis nog `n lang pad wat voorlê.
Ek besluit om aan te stoot tot by die volgende dorp.  Saam met Johan sou ek in die duine oornag het.  Ek is nie nou meer lus daarvoor nie.  Ek stap eerder die ekstra kilometers sodat my pa by my kan uitkom.  Ek haal dan sommer Saterdag se ekstra kilometers vandag almal in...  Dan is ons weer op skedule.

Grotto Bay is die naaste plek.  My pa kan daar vir my wag.  Hier tussen die shifting sands gaan hy my nie kan kry nie...

Die wind begin nou al harder waai.  Die gety stoot ook nog.  Dit moet nou baie naby aan hoogwater wees.  Dit beteken sagte sand is my voorland.

Ek loop nou om klaar te maak.  Ek dink dis nog so drie ure se stap.  Enigiets tussen 13 en 17km.

My pa laat weet hy het vir Johan gekry.  Gelukkig.  My ma het haar broer George Loots, wat `n dokter is,  gebel oor wat sy vir Johan kan gee.  Sy raad: Rennies.  Dit bevat magnesium en word vinnig opgeneem...  Dan sal hy OK wees.  Ek het Johan nogals jammer gekry.  Hy het vir vyf of ses kilometer met die krampe geloop.  Elke keer as ek vir hom vra of ons nie moet stop nie, was sy antwoord dat ons amper daar is.  Hy moet net uithou...  Ongelukkig was dit net te ver.

Ek gaan nie jok nie...  Ek is moeg.  Ek suffer nou erg.  Dit was nie `n maklike dag nie...  Die dik sand.  Die skuins sand.  En die stadig loop met Johan wat krampe het.  Alles het sy tol geëis.  En dis nog ver wat ek moet stap..  Omdat ek moeg is stap ek stadiger. Vat dit langer.  Word ek moeër.  Ek wens ek was al daar...  Maar dit is net die lang strand voor my.  Die geruis van die see langs my.  Duine regs van my.  Ek stap...  Bly myself motiveer.  Ek het nie `n keuse nie.


Op hierdie stadium gaan dit nie oor hoe ver nie.  Ook nie hoe vinnig nie.  Kilometers en tyd is nie nou meer belangrik nie.  Ek moet net stap.  Nie rus nie.  Net stap.  Anders kom ek dalk nie weer aan die gang nie.  Hou net aan.  Kom net daar uit...

My bene voel al soos jellie...  Ek ploeter aan.  Trek my lyf vorentoe.  Aan en aan en aan.
My skoene voel vreemd aan my voete.  Ek stop.  Trek my skoene uit.  Dis vol sand.  Ten spyte van die hoë rante en die kamaste wat ek dra.  Ek het nie eens opgelet hoe diep ek in die sand weggesak het nie.  Ek kyk na die sole van my skoene.  Glad.  Gelyk vol sand.  Sulke nat plakkerige sand. Modderig. Amper of ek in hondemis getrap het.


My spiere is styf.  Het koud geraak in die kort tydjie.  Stram stap ek aan.  Dis nog `n hele ent.  Omtrent ses kilometer.

So ver ek kyk is dit net wit sand hier voor my...  Nimmereindigend.

Ek hou aan.  Mag nie opgee nie.

Al my snacks is nou al opgeeët.  Ek het nie gereken om so ver te stap vandag nie.  Ek is ook nie lus om nou te stop om my middagete te eet nie.  Dan gaan my mond droog wees.  Ek sal later dalk van die peanut butter sakkies wat ek by my het eet.  Dink ook nie dit gaan werk nie.  Sal maar kyk...

Na `n paar minute kon ek dit nie meer hou nie en ek eet die eerste twee peanut butter sakkies.  Gelukkig het het dit nie te veel aan my verhemelte vasgeplak nie.  Dankie tog vir dit.  Maak my `n bietjie dors, maar ek neem aan die dors is beter as die ontsuikering of wat `n mens dit ook al noem...  My kop wil nie meer lekker werk nie.  Kan nie reg dink nie.  

Ek is nou op die rotsagtige deel voor Grotto Bay.  Twee oystercatchers dive bomb my.  Aanhoudend.  Ek moet net koes.  Ek sien nêrens `n nes nie, maar hulle kom vir my.  Dit is nogal scary.  Hulle is nie soos seemeeue wat net vir jou wil skrik maak nie.  Hierdie Oystercatchers val jou aan.  Verskree jou.  En dis op moeilike terrein.  Klipperig.  Rotsagtig.  Die paadjie self was nie so erg nie, maar op hierdie rotsgedeeltes waarop ek nou stap moet ek mooi konsentreer.  Ek verbeel my ek sien my pa se bakkie.  Ek probeer in die verte tuur.  Hoop dis hy... Toe rol die klip.  Ek trap skeef en maak my enkel vieslik seer.  Die opgestrapte enkel.

Ek kry `n boodskap van my pa.  Hulle staan by `n shack op die rotse teenaan die see.  Net anderkant Grotto Bay.  Hy en Johan en `n klompie manne wat al bietjies te veel op het.  Hulle soek met verkykers of hulle my sien.  Waar is ek?

Ek is net anderkant die Modderrivier.  Omtrent by Bakkies se bank.  Nog so `n entjie.  Maar dit is moeilike terrein.  Die branders slaan teen die rotse hier om my.  Ek moet my pad mooi kies hier oor die nat rotse.  Ek kan nie pad gee as `n groot brander kom nie.  Links van my is `n hoë klipkrans.  Regs die see en voor my die rotse en klippe.  En die son begin sak.
Ek kan darem al die shack sien.

Ek stap voor Grotto Bay verby.  Baie los klippe.  Ek kry nie die paadjie nie.  `n Seun van so sestien jaar oud kom na my toe aangehardloop.  Kaalvoet.  My pa het hom gestuur.  Sy naam is Dian en hy ken hierdie wêreld.  Het hier groot geword.  Hy sal my die paadjie wys.  Opgewonde om my te help.  Ons gesels lekker vir die volgende paar honderd meter.
En dan is ons daar.  By die shack. Net voor donker.


Ek het 11 uur en 11 minute gestap vandag.  Die langste dag van die hele staptog so ver.  En een van die swaarstes...

By die shack groet die manne my.  Theo... Dronk Theo soos hy homself aan my voorstel.  Arnie Barnard - `n Engelse Barnard.  En Pierre Barnard – Afrikaans.  Lekker warm.  Maar dis gesellig in die shack.  Hulle is gasvry.  Dankbaar ek het dit gemaak.


Oom Arnie sê nogals vir my pa toe ons groet:  “Toe jy hier instap, kon ek sien jy is anders. `n Ander mens.  Daardie kruis op jou bors het my nogals laat dink.  Miskien is dit tyd om my lewe te verander...”

Dit sal goed wees oom Arnie.  Baie goed.  Mag die Here oom daarmee help.

Ons ry daar weg met die beste wense van `n paar interessante manne.  


Die pad Bokbaai toe gaan vinnig verby.  Ons het so baie om vir mekaar te vertel...
Toe ons op die slegte grondpad net anderkant die Ganzekraal afdraaipad indraai, raak ons stiller.  Elkeen besig met sy eie gedagtes.  Dit was `n moeilike dag vir ons almal...

Ek het tussen 40 en 50 km vandag gestap...


Ek dank die Here stilweg.  Hy was weer goed vir my.  Hy het my beskerm en kragte gegee om klaar te maak.  Dit was nie maklik nie.  Ek sou eerder by Johan agtergebly het op Jakkalsfontein.  Dis die Here wat my tot hier gebring het.  Ek het `n mission om klaar te maak.

Dinsdag 9 Jan 2018


Ons kamp by Bokbaai - `n privaat natuurreservaat wat deur CTEET (Cape Town Environmental Education Trust) gebruik word vir hulle kampe.  Met spesiale toestemming mag ons hier wees.  `n Hele klompie mense was betrokke om dit gereël te kry.  Ons wou eers `n Jeugsaamtrek hier gehou het, maar dit het nie uitgewerk nie.  Nou is dit net ons vyf, Tafelberg in die verte en die pragtige baaitjie.  In die dennebome skree die rooivalkies.  Kaapse fisante stryk in `n oopte naby ons neer.  Ek hoor die Oystercatchers skree.


Dis nog vroeg.  Maar ons maak al gereed vir die volgende skof.  Drink gou bietjie koffie.  Strap gou die enkel weer op.  Drink my pilletjies.  Johan doen dieselfde.  Rennies.  Voorkomend.  Vir die krampe.  Johan gaan vandag net 11km saam met my stap.  Van Grotto Bay tot by Bokbaai.

My pa laai ons af tussen die rotse net anderkant die dorpie.  `n Enkelspoorpaadjie loop saam met die kontoer, so `n paar meter bo die strand.  Vanaf Kabeljousbank tot Die Skaapwas.

My enkel is bietjie styf van gister se ver stap.  En natuurlik van die swik op die rotse.  Johan het bietjie pyn agter sy knie, soos wat ek ook maar gereeld kry.  Nie te ernstige skete vanoggend nie.  Behalwe dat ek skielik baie naar geword het.  Ek weet nie wat dit is nie.  Ons het niks vreemds gister geëet nie.  Dalk is dit maar net my liggaam wat vir my wil sê dat ek nie vandag weer dieselfde tricks moet uithaal as gister nie.  My liggaam is nie vandag lus vir ver stap nie.  My energie is maar min.  Nog moeg van gister.

Ons klim oor nog `n heining.  Gelukkig kry ons dit elke keer reg om nie te haak aan die doringdrade nie.  Ek dink ons is nou in Bokbaai se gronde.  Ons stap met `n wit tweespoorpaadjie.  Lekker gemaklik in vergelyking met gister se boendoe bashing.  `n Paar volstruise hardloop vir ons weg.  Ons kan al die ou plaasopstal sien.  Ons is naby ons kampplek.

By die tente rus ek eers `n bietjie en eet `n hamburger.  Oorblyfsel van gisteraand se kos.  Ek is nie baie lus om aan te gaan nie...  Maar ek moet.  Ek het nie `n keuse nie.  Alles wat ek vandag nie stap nie, moet ek vorentoe inhaal.

Johan bly hier agter.

Ek gaan alleen aan.  Skrikkerig.  Oom dronk Theo het my gewaarsku teen die baie poachers vorentoe...



By die bordjie van natuurbewaring en by die baaitjie van Bokbaai moet ek eers pose vir `n foto.  CTEET wil graag die foto's gebruik in hulle promosies.  Dis die minste wat ek vir hulle kan doen.  Tannies Louise Matschke en Elzanne Burger het baie moeite gedoen om ons te help met slaapplek.  Eintlik was dit oom Dalton Gibbs en tannie Elzette Krynauw wat die bal aan die rol gekry het.



Net anderkant die baai sit `n rooivalkie op `n bordjie.  Ek kon nie glo hoe naby ek kon kom nie.  Gelukkig het my pa aan die anderkant van die baai gestaan en my afgeneem.  Nou het ek `n bewys hoe naby ek was...

Ek klim oor nog `n heining.  Ek kan voel ek het gister verder gestap, want my bene raak vandag baie vinnig moeg.  Voor Silwerstroomstrand verander die lekker sand in so slush-puppy-agtige modder.  Ek dink die gety is besig om op te kom.  Dis nie lekker om so te stap nie. 

Silwerstroomstrand is `n netjiese plek.  Mooi.  Met `n lekker getypoel.  En hier is mense...  Sommer baie.  En almal kyk my aan asof ek van `n ander planeet af kom.

Ek stap verby Wintersteen se rotse, Skulpbaai se sand tot by Matroosbaai.  Vandaar af is dit weer `n hele entjie rotse.  En dan is ek by Koeberg se natuurreservaat.  Die kaart sê alweer: Shifting sands.  Ek weet wat dit beteken.  Aftjop...  Die strand se helling is baie skuins.  En dit is hoogwater.  Ek probeer op die harde sand stap sonder dat die branders oor my skoene spoel.  Dis beter as om deur die dik sand te loop.  Elke nou en dan kom `n groter golf deur.  Twee keer het die branders my amper gevang.



Ek word gedwing om sagte sand te loop...  My bene pyn.

Ek is amper daar.  Ek kan Koeberg goed sien.  Toe ek omdraai kon ek Bokbaai se bome ook nog sien...  Nie baie bemoedigend nie.  

Ek het meer as `n uur terug `n boodskap gestuur aan my pa.  “Ek weet nie presies waar julle my moet kry nie.  Wag vir my êrens vorentoe.”  Die boodskap het nog nie deurgegaan nie...

Ek stap maar aan.

Ek dink ek het nou net `n visvalk gesien.  Dit sal my derde keer wees, so dit is nie `n wilde raaiskoot nie.  Ek was net verbaas om dit hier te kry.  Nie bo my, sodat ek dit goed kon identifiseer nie, maar langs my.  Dit was definitief `n valk met `n swart en wit kop.  Kenmerkend soos `n visvalk s`n.  Baie spesiaal.


Voor my sien ek `n strand met hoë sandkranse.  Maklik tien meter hoog.  Ek hoop nie die water slaan daarteen vas nie, want dan is ek in die moeilikheid.  Ek kan nie daar op nie.  Ek sal my skoene moet uittrek en die res kaalvoet moet stap as dit nie anders kan nie...  Ek hou die water dop.  Wil nie onkant gevang word nie.

Voor my is skielik `n moeilike rotsagtige gedeelte wat ek moet oor.  Met sandkranse links van my en die branders wat van regs af op my af kom.  Ek het nie `n keuse nie.  Ek moet hier oor.  En vinnig ook.

Op die ou end was die rotsgedeelte wat ek gedink het net so 50m sal wees, maklik `n kilometer lank.  Glad nie lekker nie. Nat. Gevaarlik ook met die branders wat daarteen vasslaan.  

Die strand stap verskriklik.  Dis lank.  Baie skuins.  En dik sand.  Ek sien op die kaart hier is êrens `n pad, maar ek weet nie waar en hoe ver nie.  Ook nie of ek daar mag stap nie.  Jurina le Roux het gereël dat ek strandlangs deur Koeberg mag stap.  Dis al.  Ek weet nie wat verbode terrein is nie.



Ek weet ook nog steeds nie tot waar ek moet stap vandag nie...

Gelukkig hoef ek nêrens my skoene uit te trek nie.  Daar was letterlik net genoeg plek vir my om tussen die water en die sandkranse deur te skuur.  Genade van Bo.  Want teen hierdie tyd is die sand seker vuurwarm.  Sou my voete gebrand het.

Ek sien hier loop `n voetslaanpad “Die Dikkop-voetslaanpad” hier naby my.  Ek sou dit graag wou gestap het net om uit hierdie moordende dik sand te kom, maar ek kan nie.  Tussen my en die paadjie is `n paar meter hoë sandkrans.  Ek besluit om vorentoe te kyk vir `n pad soontoe.

Die wind begin al harder waai.  Maar ek gee nie meer te veel om nie.  Ek behoort nou baie naby te wees.

Voor my sien ek iemand op die strand.  Net een.  Ek hoop dis my pa...  Of `n werker.  Ek hoop nie dis iemand wat my moeilikheid gaan gee nie...

Later kom daar nog `n paar by.  Kindertjies wat op die strand speel.  Seker van die Koebergmense se kinders.

Ek kry `n boodskap van my ma.  Ek moet stop.  Nie na die kragsentrale toe stap nie.  Waarnatoe dan?

Ek draai om.  Ek is nou net verby `n paadjie wat see toe geloop het.

Toe ek in die pad oploop sien ek my pa.  Perfekte tydsberekening.

My pa het Jurina, die omgewingsbewaringbeampte van Koeberg opgespoor en ons penarie verduidelik.  Hy moet by die strand uitkom om my voor te keer...  Jurina reël dat oom Francois my pa vat.  Tot by die laaste duine.  Net betyds.  Dit sou `n gesukkel afgegee het as ons mekaar daar gemis het...

Maar die Here het dit so gelei.  Soos Hy dit die hele dag gedoen het.  Oor die rotse en langs die kranse.  Sonder dat my voete nat word...

By die Koebergontvangs moet ek eers gaan groet.  My pa het daar gaan vra waar Jurina se kantoor is.  Hulle het geweet van my.  Die outjie van die TV...

Ek is moeg.  Wil eers gaan rus.  Die pad terug Bokbaai toe gaan in `n dwaal verby.

Woensdag 10 Jan 2018


My selfoon lui... “Van waar af stap jy vanoggend?” Dis Pierre Lourens.  Pierre van Groenriviermond.  Pierre van “Why are you chasing him away?” Hy wag vir my.

Ons is al so 7km weg van Bokbaai af.  Op die slegte grondpad oppad na Koeberg...  Maar ons moet omdraai.  Eers `n “Footsteps”-hemp vir Pierre gaan haal.  Na alles wat hy toe vir my gedoen het, verdien hy een.


Ons kom bietjie later by Koeberg aan as wat ons beplan het.  Behalwe Pierre is Marius Roos en sy pa, oom Willem, ook daar.  Marius stap vanoggend bietjie saam.  Vandag is ons drie wat loop.  The three musketeers met ons stapstokke.


Ek ken hierdie gedeelte.  Tydens my oefentyd vir die staptog het ek en Maricia dit een Saterdag gestap.  Dis `n mooi gedeelte.  Nie te moeilik nie.

Die wind is ook nie te erg.  Lyk na `n lekker gemaklike stap in vergelyking met die afgelope dae.  Ek hoop so...

Vir Marius is dit natuurlik `n eerste keer.  Hy het so `n tydjie terug `n ernstige rugoperasie gehad en dis wonderlik om te sien dat hy nou al saam met ons kan stap.  Nou nie met `n groot rugsak nie, maar tog.  Die stappery deur die sand is ook maar stremmend op `n mens se rug.  Maar Marius is `n tawwe outjie.

Ons stap eers `n tydjie.  Daar van Duynefontein en Van Riebeeckstrand se kant af.  Maar dis nie lank nie toe slaan ons die sagte sandkolle.  Marius se skoene vreet sand...  Hy kry die “Footsteps to Good Hope”-experience.  Vroegoggend sien hy ook al sy eerste dooie en lewendige rob.

Dis van die begin af hoogwater.  Ek was bietjie bekommerd oor Marius, aangesien dit sou beteken dat hy die grootste deel van die dag deur los sand sou moes stap.  Volgens hom sou hy en sy groot kuite “fine “ wees...  Ek moenie bekommerd wees nie.

Ons vorder lekker verby die Soutriviermond en Kapteinsbaai tot by Melkbosstrand.  Hier is gewoonlik baie mense, maar ons is nog `n bietjie vroeg.  `n Paar mense stap met hulle honde of draf `n ent teen die see af.  Dis nog lekker rustig voor die mense in busvragte opdaag...  Ons stap verby die groot NSRI-gebou.  Die Seereddingsinstituut.  Mans en vroue vir wie ek groot respek het...  Mense wat soms hul lewe moet waag om ander te red.

Ons stap agter “Ons Huisie”, die bekende restaurant, verby.  Die gety is te hoog om by die strandjie uit te kom.  Tussen die huise deur tot by Bontkop.  En dan lê die strand weer oop voor ons.  Holbaai.  Haakgat.  Kreeftebaai.  En al die stene tot by Eerste Steen.  Rotspunte in die see in.  Lekker surfplekke.  Van die strand af kan `n mens sommer sien hoe gepak is die parkeerplekke.  En natuurlik Big Bay.  Die surfmekka van die Kaap...


Johan het skielik `n groot nood aan.  In die veld of êrens in die eensaamheid is dit nie `n probleem nie.  Maar nou is dit.  Hier is mense...  Nie een van ons is eintlik ekstroverte nie.  Al drie maar `n bietjie skaam as dit by mense kom.  Maar as die nood druk moet jy `n plan maak.  Ons moet aanpas.  Johan stap sommer die eerste beste restaurant in...  Die kelner wil nog vra wat hy wil bestel, toe is Johan al verby hom...  Toilet.  Gelukkig was dit nie `n probleem nie.  Die kelner het seker gesien hier kom moeilikheid as hy Johan gaan probeer keer...


By Kreefbaai en Bokkombaai loop ons onsself vas teen die rotse.  Gewoonlik is dit maklik om hier verby te kom.  Maar dis met laagwater...  Nou slaan die water elke nou en dan oor die rotse.  Ons kan nie die kans waag nie.  Ons moet terug.  Om.  Deur die dorpie.
En dan is ons op Bloubergstrand se lang strand.  Met sy baie mense.  Almal op die strand.  Daar is maar min wat dapper genoeg is om te swem.  Dis sonsambrele en bruingebrande lywe net waar jy kyk.  Sommige mense speel met `n bal.  Ander lê op hul handdoeke met sonbrille en breërandhoede.  Ander lees.  

In die baai, voor Robbeneiland, lê groot vragskepe.  

Dis interessant om die mense se reaksies te sien as ons verby stap.  Ons het dit veral by die restaurante opgemerk.  As jy aangestap kom, is dit nog Ok.  Maak die mense of hulle jou nie raaksien nie.  Maar as jy verby is en draai om, kyk almal vir jou.  Al die mense...  Maar niemand vra uit nie.  Hier doen almal sy eie ding.  Almal in sy eie bubble.

Dis interessant hoe dit werk.  Lyk my mense word aangetrek deur mense.  Ons stap gedeeltes strand waar daar niemand is nie en dan weer plekke waar ons deur die mense moet vleg.  Sulke groot groepe bymekaar.  Almal kyk ons nuuskierig aan.  Almal is in slow motion.  Net ons beweeg teen spoed.  Dis amper soos daardie grys foto`s met die rooi blom wat uitgelig word.  Die enigste kleur tussen die massa grys.  Dis hoe ons nou voel.  Die kollig is op ons.  Dit voel bietjie vreemd.  Nie een van ons is regtig kollig mense nie...


Die mense praat ook oor ons asof ons doof is.  Terwyl ons by hulle is of langs hulle verby stap terwyl hulle op die strand sit of lê, sal hulle mekaar vrae oor ons vra of kommentaar lewer oor ons stokke of ander toerusting.  Praat hulle oor ons, maar nie met ons nie.


Hier is aansienlik minder dooie robbe as hoër op teen die kus.  Ons het vanoggend drie gesien.  Ek weet nie of die robbe hier verwyder word weens gesondheidsredes nie.  Dalk is hier maar net minder robbe.  Of is die kompetisie met die vissermanne hier net minder.  Of word die wette teen die doodskiet van robbe hier net strenger toegepas.  Waarskynlik all the above...

Ons bederf onsself vinnig met iets kouds by KFC. `n Eerste vir die staptog.  Gewoonlik rus ek êrens op my eie tussen die duine.  Nou sit ek saam met twee vriende binne in `n gebou en eet Krushers.  Kan sien ek begin nader aan die stad kom...

Vanf die KFC handhaaf ons `n lekker spoed.  Dis nie altyd so maklik nie, want die strand na Sunset beach begin half klipperig raak.  Ek was verniet bekommerd of die gety ons gaan vang by Milnerton gholfbaan.  Tydens my oefenstap het die brandsers tot teenaan `n sandwal geslaan en my gedwing om op die gholfbaan te stap.  Ek het net `n paar treë gegee toe jaag die sekuriteitswag my weg.  Ek mag nie daar stap nie.  Ek moet deur die water stap.  Daar waar die branders toe met hoogwater slaan...  Ek kon dit nie glo nie...   My skoene was daardie dag papnat.  Ek het binne twee kilometer `n blaas op my voet gekry.  Maar dit was `n paar maande gelede.  Vandag is die sand droog.  Ons stap lekker.  Voel nog fiks.

Ek kry `n boodskap van my pa.  Ek moet wag by die seereddinggebou naby Milnerton se vuurtoring.  Ek laat weet hom toe ons 100m daarvandaan is.


 Skielik sien ek iemand vinnig nader gestap kom uit die skare mense op die strand.  Iemand met rooi hare.  Van ver af lyk dit soos die tannie wat agter ons in die kerk sit.  Wraggies dit is sy.  Ek sien die oom ook nader kom.  Oom Menno en tannie Ina van der Vinne.  Hulle het spesiaal hiernatoe gery om vir my te kom sterkte toewens.  Wow!  Dit is spesiaal...  Die tannie is sommer in trane toe sy my druk.  Ek kon dit nie glo nie.  Die meelewing en ondersteuning wat ek gekry het op hierdie staptog was soms so oorweldigend.


Oom Menno wil sommer die laaste kilometer en `n half saamstap.  Trots dat hy dit nog kan doen.  Stap saam met die jong manne.  Vir ons was dit `n voorreg.  Kuier-kuier stap ons die laaste entjie tot by die mond van die Dieprivier.

Nog `n dag is verby...

Ek kan van hier af letterlik `n dagreis ver sien...  Tafelbaaihawe. Die Waterfront.  Die sokkerstadion

Maar dit is deel van môre se stap.

890km is verby.

Die laaste skof lê voor.

As die Here wil.

No comments:

Post a Comment