Friday 12 January 2018

Lewe in die Gees: Vrydag 12 Januarie


Lees: Gal 5:25: “As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel” (OV)

Op ‘n snikhete dag in die veld kom jy by ‘n koel, skoon waterval of fonteintjie aan. Jy is moeg en het ver gestap.  Sal jy verder stap op jou eie kragte? Sal jy nie eerder van daardie water neem, jou gesig afspoel en daarvan drink nie?  Natuurlik sal jy!

Om die Gees te ontvang hoef jy nie eers ver te stap of moeg te word nie. Die Gees word aan ons gegee uit genade, nie op grond van die nakoming van die wet nie, maar op grond van geloof (Gal 3:2).  Daarom is dit sulke dwaasheid om nie die geskenk van die Gees te wil ontvang nie en om eerder op eie menslike krag te probeer aangaan (Gal 3:3).  Enige teologie wat nie erken dat die Gees van God aan jou en my gegee word uit die genade van Christus nie, is geen evangelie nie (Gal 1:6-7).  Sulke teologieë bring nie die lewe van die Gees voort nie, maar die dood deur ons sondige natuur.

Die woord “lewe” verwys hier spesifiek na die manier hoe om te leef en op te tree.  Jou moraal en karakter word aangespreek.  Om te leef deur die Gees is nie ‘n self-verbeteringsprogram nie, maar is net moontlik as ons bly in die vryheid wat deur Christus se kruis vir ons aangebied word.  Om vry te wees in Christus beteken nie dat dit nie saak maak hoe ons leef nie.  Die manier hoe ons leef deur die Gees word gekenmerk deur mekaar te dien deur liefde (Gal 5:13-14). Jou moraal en karakter word gevorm deur ‘n lewe in die Gees.

Dit is verseker nie maklik nie en is ‘n groot stryd in Christene se lewens (Gal 5:17).  As ons sien hoe God se skepping vernietig word kan ons gou verval in twis met mekaar, woede oor die sinloosheid, of selfs vyandskap aanwakker en dalk aanblaas tussen gelowiges.  Ook hierdie sondige aard met sy hartstogte en begeertes moet saam met Christus gekruisig word (Gal 5:24).  

Die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing (Gal 5:22-23).  Hierdie vrug kenmerk net soveel die lewe van ‘n Christen natuur- en buitelewe-liefhebber as enige ander persoon.


Sing: SB 14:2

Refleksie:  Bely jou eie sondige begeertes en hartstogte voor die Here. Bid hartstoglik vir ‘n lewe deur die Gees.

No comments:

Post a Comment