Saturday 6 January 2018

Uitbrand en vergaan: Saterdag 6 Januarie


Lees: 2 Petr 3:10 “Maar die dag van die Here sal egter kom soos ‘n dief in die nag, ‘n dag waarop die hemele met ‘n gedruis tot ‘n einde sal kom sal kom en die elemente sal uitbrand en vergaan, en die aarde en wat daarop gedoen is, ontbloot sal word.” (DV)

In sterk profetiese beelde spreek die apostel Petrus hier oor ‘n kosmiese katastrofe wat die “groot en deurlugtige dag” van die HERE kenmerk (sien bv. Joël 2:31).  Juis deur hierdie teks van ‘n komende kosmiese katastrofe ernstig op te neem, bly daar nog steeds ‘n belangrike motivering om om te sien na God se goeie skepping. Die kern lê in ons vertroue op God se beloftes en die gepaardgaande gehoorsaamheid aan ‘n oproep tot ‘n heilige lewe. 

As God tog die aarde gaan vernietig, wat maak dit dan nog sin om die aarde met al die plante en diere te bewaar?  Die wêreld met alles daarop is verderflik en wag net om vernietig te word. Om te pleit vir omgewingsbewaring sou nie net sinneloos wees, maar kan selfs gesien word as ‘n manier om God se soewereine oordeel te weerstaan. Aldus ‘n veel gehoorde, maar tog eiesinnige interpretasie van hierdie teks.

Hierdie teks kan egter wel verwarring skep. Daar is verskillende Griekse grondtekste wat gebruik word. In die Direkte Vertaling staan daar dat die aarde ontbloot sal word. In ander vertalings (soos die 1933/53 vertaling, maar ook die invloedryke Engelse KJV), staan daar dat die aarde verbrand sal word.  Eersgenoemde beklemtoon ‘n openbaarmaking van die aarde en alle werke, terwyl laasgenoemde veel sterker ‘n volledige vernietiging aantoon.  Om hierdie teks se implikasie te begryp gaan egter nie ten eerste oor grondtekste en vertalings nie (alhoewel baie belangrik en verseker die nodige en deeglike Bybelstudie oproep!), maar oor ons sig op wie God is en wat dit vir ons optrede beteken.

God se teenwoordigheid, mag, oordeel en louterende werk word dikwels in die Bybel met die vuur uitgebeeld.  In 1 Petr 1:7 lees ons dat ons geloof deur vuur getoets word. God het aan Moses verskyn in ‘n vuurvlam (Ex 3:2). Vermetelheid en goddeloosheid sal op die oordeelsdag aan die brand gesteek word (Mal 4:1).  God se oordeel is egter regverdig; net diegene wie Hom nie ken en nie die evangelie van onse Here Jesus Christus gehoorsaam is nie, word vir ewig vernietig en uitgesluit van die teenwoordigheid van God (2 Thess 1:5-10; 2 Petr 3:7). God is ‘n jaloerse God, ‘n verterende vuur Wie geen sonde in sy teenwoordigheid duld nie (Deut 4:24).  Die sonde en korrupsie op die aarde en alles wat daarop gedoen is, moet dus volledig uitgebrand word voordat die hemel kan neerdaal na die aarde en God by ons kom woon (Open 21:2-3). Wat in hierdie teks voorgestel word, is enorm, maar wat presies gaan gebeur op die dag van die HERE weet ons nie. En dit is ook maar goed so; ons maak nie self ‘n nuwe aarde nie, maar mag in volle vertroue staatmaak op God se beloftes. 

In Openbaring 21:5 staan daar dat God alles nuut sal maak.  Die klassieke Griekse taal ken twee woorde vir nuut, naamlik neos en kainos.  Neos beteken totaal nuut. Kainos benadruk die besondere waardeur die nuwe onderskei kan word van die oue. In Openbaring 21:5 word die woord kainos gebruik. Die nuwe aarde is dus nie ‘n totaal ander aarde, maar die aarde met sy plante en diere wat ek en jy vandag ken, maar wat dan heeltemal vernuwe is.

Hoe dit presies gaan wees bly ‘n misterie en ‘n verrassing. Ons mag vashou aan God se getrouheid en weet dat Hy goed is en ook alles goed sal maak. Ons mag weet dat ‘n radikale herskepping kom en juis daarom “…ernstig daarna streef om deur Hom in vrede, vlekkeloos en onberispelik bevind te word” (1 Petr 3:14).  

Net in Christus kan ons so gevind word. 

Sing: Ps 102:11

Refleksie:  Die hele skepping sal van alle sonde en korrupsie gelouter word op die Dag van die HERE.  Jy word ook uitgenooi om daar te wees - in ‘n opgestane liggaam en op ‘n herskape aarde - om te woon waar God ook woon. Hoe verander so ‘n toekomsvisie jou lewe vandag al?

No comments:

Post a Comment