Pyn, lyding en dood: Dinsdag 9 Januarie
Lees: Job 39:33 “Ook slurp sy kleintjies bloed, en waar gesneuweldes lê, daar is hy.” (OV)
Die wereld is vol pyn en lyding. Siekte, pyn en verlies aan geestesgesondheid lei tot groot gebrokenheid. Moord, gesinsgeweld en verkragting vernietig menselewens. Armes en swakkes in die samelewing word maar net eenkant toe gedruk as die mag van geld begin praat. Diere word wreed behandel en sommer net vir die pret afgemaak. Hele ekostelsels word vernietig in ondeurdagte ontwikkelings. Baie keer lyk dit so sinloos. Waarom Here? En, waarom is dit nie net die slegtes, maar ook die goeies en onskuldiges wie so moet ly?
Job worstel ook met hierdie vrae. Job se “vriende” het al gou ‘n netjiese teologiese antwoord; slegte dinge gebeur nie met goeie mense nie. Job moet dus gesondig het. Koud en klinies is hulle oordeel. Hierdie valse vriende se woorde is glad soos olie, maar sny soos ‘n mes (Ps 55:22). Job self het egter ook nie ‘n goeie antwoord nie. Tereg pleit hy vir sy onskuld, maar kom dan tot die gevolgtrekking dat God, Wie die Almagtige is, self nie reg doen deur hom so te laat ly nie (Job 9:20-21). Vir Job kon daar dus by so ‘n wispelturige God geen troos wees nie.
God wys egter sy groot liefde en soek Job op in sy worsteling. God sê dat Job se antwoord op die vraag na pyn en lyding “woorde sonder kennis” is (38:2). God se kennis en mag is heeltemal anders as Job s’n. Die wonderlike is dat God hierdie nederigheid aan Job leer deur hom na die natuur te wys. In die natuur mag ons saam met Job God se almag, sy sorg en ons nietigheid sien. In die natuur mag ons ook deelneem aan God se vreugde in sy skepping.
In die natuur sien ons nie net die mooie nie, maar ook pyn en lyding en dood. Job word ook daarop gewys: die kleintjies van die arend slurp die bloed van die wat dood is (39:33) en leeus jag op hulle prooi (39:1). Pyn en lyding en dood in die diereryk val wel onder God se planmatige sorg vir die skepping. Verstaan jy dit? Nee, nie regtig nie. Vertrou jy God Wie goed is? Job en ons elkeen word gekonfronteer met hierdie werklikheid sodat ons pyn en lyding in ‘n beter lig te kan sien.
Daar is pyn wat lei tot heling en pyn wat lei tot verderf en die ewige dood. Job se vriende met hulle mooi praatjies het gevaarlik naby die uitwerking van God se toorn beweeg, wat net afgewend kon word toe Job vir hulle gebid het (40: 10). Bly altyd bid vir die wat jou en die res van die skepping pyn en lyding aandoen.
Christus self verwys na aasvoëls wat sal saamkom waar dooie liggame is by die koms van die koninkryk van God (Matt 24:28; Luk 17:37). By Christus se oorwinning oor die dier en die konings van die aarde, sal die voëls geroep word om hul vlees te eet (Openb 19:17-19). Die profeet Eségiël sluit hierby ook wilde diere in (Eseg 39:17-19). Wat leeus en die kuikentjies van arende en aasvoëls vandag al doen sal eendag by die laaste oordeel ‘n klimaks bereik.
God is nie ‘n wispelturige God nie. Pyn, lyding en dood vorm deel van sy goeie sorg vandag, is deur Christus in ergste vorm gedra tydens sy lyding en sterwe, en is ook deel van die komende oordeel. Pyn, lyding en dood in ons eie lewens en in die mooi skepping mag ons soms tot radeloosheid stem. Wat Job ons leer is om nederig te wees en op God te bly vertrou - ook dít is alles deel van sy plan om ‘n volmaakte koninkryk te vestig.
Refleksie: ‘n Fyn waarneming van die natuur gee weer nuwe perspektiewe. Die natuur is nie in die eerste plek ’n speelplek of ‘n reservoir van hulpbronne of ‘n objek vir studie nie, maar ‘n plek om God beter te leer ken. Hoe bring Job 38-39 beter perspektiewe vir die pyn en lyding wat jy persoonlik ervaar, wat jou kerkgemeenskap ervaar, wat die streek waarin jy woon, stap of reis ervaar, en wat die wêreld as geheel ervaar?
No comments:
Post a Comment