Wednesday 10 January 2018

Fair winds and following seas

My skoene moet net nie nat word nie...  My skoene moet net nie nat word nie...  My skoene moet net nie nat word nie.  Dieselfde rympie maal oor en oor deur my kop.
My skoene moet net nie nat word nie...

Want as dit gebeur het ek moeilikheid.  Dan is blase my voorland.  Daar is nie `n manier hoe ek my skoene weer gaan droog kry nie.

Ek staan onder `n gebou.  `n Hotel of iets.  Teenaan een van die pilare wat die hele konstruksie in die lug hou.  `n Klein blokkie concrete hoër as die res.  En die water stroom om my.  Slaan teen die muur agter my en kom weer terug.

Ek moet my timing mooi regkry.  Voor die branders terugkom, moet ek al weer by die volgende pilaar wees...

In die half skemerte draf ek vorentoe.

Waar is ek nou en hoe het ek myself hierin bevind?  Goeie vraag.

Die kort antwoord: vas verdwaal.

Die langer antwoord is baie interessanter...

Donderdag 4 Jan 2018


Jacobsbaai is seker een van die mooiste dorpies wat ek ken.  Die pragtige wit huisies teen die diep blou van die koue oseaan.  Rotsagtige baaitjies.  Vissersbootjies.  Alles netjies.  Goedversorg. 

Teen 7h00 die oggend is hier al baie mense aan die gang.  Party ry werk toe.  Seker Vredenburg toe, wat nie te ver van hier af is nie.  Daar is heelwat drawwers en fietsryers.  Ek sien `n man en vrou aankom op hulle fietse.  `n Waentjie agteraan vasgemaak.  Seker mede-reisigers dink ek…  Toe nie.  Dis `n klein babatjie wat agter in die waentjie sit.

Ek kies my pad see toe. Bietjie deurmekaar.  Ek hou maar net in die regte rigting.  Stap selfs deur twee mense se tuine.   Aan die anderkant van die dorpie kry ek `n fietsry-paadjie wat deur die bossies vleg.  `n Fietsryer kom van agter af en beduie vir my hoe ek moet stap.  Vorentoe is daar `n klomp paadjies wat mekaar kruis.  Ek moet net regs hou. 


“Hou die see net aan jou regterkant”, sê hy met `n laggie.  “Dan kan jy nie verdwaal nie.”
As ek met die paadjie hou tot by die lang strand, daar afstap en dan weer by die vakansie-oord op, dan behoort ek OK te wees.  Die mense van Jacobsbaai is vriendelik.  Hy is nie die eerste een vanoggend wat vriendelik gegroet of gou `n geselsie gemaak het nie.

Ek is maar bietjie skrikkerig vir vanoggend se stap.  Erens vorentoe moet ek by Diazville verby.  Darem nie deur nie...  net strandlangs verby. Maar tog.  Ek het duur toerusting by my.  `n Groot verleiding vir mense wat swaarkry of selfs sonder kos sit...

My pa het dit so gereël dat ek deur die Saldanha vloot se gronde kan stap.  Om Diazville.  Baie mense het gehelp om dit reg te kry:  Oom John Kieser en tannie Nazeema Duarte.  Eindelik het die brief van Commander A.J. Lakay gekom.  Ons het toestemming!
Onderaan die brief die mooiste aanmoediging:
“SAS SALDANHA applauds you for this tremendous initiative and also recognizes your passion for the environment.  We wish you all the best and may the objectives of the walk be attained, in naval terms. Allow us to say, “Fair wind and following seas”.

Ek staan nou aan die beginpunt van `n reuse baai.  Dis pragtig.  Ek kyk `n paar uur die toekoms in.  Dit is nie altyd so lekker nie.  Afwisseling is gewoonlik beter.  Anders voel die stap so lank...

Voor my is `n geboutjie wat vroeër seker gebruik is as wagtoring.  Iemand het seil en net bo-oor gegooi om al die gate toe te maak en vir hom `n lekker huisie gemaak.  Reg op die strand.  Ek weet nie of dit net as vakansiehuisie gebruik word en of iemand hier permanent plak nie.  Maar hy het vir hom `n “prime spot” uitgesoek.  Wat sê hulle altyd?  Ligging, ligging, ligging.


In die baai is daar redelik baie vissersbakkies wat in die water dobber.  Dit is net te ver om goed te kan sien wat hulle doen.  Op die strand staan `n bakkie.  `n Gazebo-net is opgeslaan.  Ek neem maar nie foto`s nie.  Dalk is dit onwettig.

Die baai voel geweldig groot.  Miljoene kilometers lank.  Ek kan amper nie die anderkant sien nie.  So ver...

`n Hele entjie verder staan `n klompie vissermanne op die strand.  Hulle wil eers weet waarnatoe ek oppad is.  En hoekom ek so mal is om so ver te stap...  Toe ek verby is, skree een van hulle:  “Jou foon val uit.”  Darem nie... Dis net my sonpaneel wat agter aan my rugsak hang.

By koördinaat 70 op my GPS tref dit my...  Ek loop op nurdles!  Wat ek gedink het groot sandkorrels is, is miljoene nurdles.  Miljoene der miljoene...  Mens sien dit nie raak nie omdat die strand letterlik uit `n paar klippies en nurdles bestaan.  Ek gaan sit verstom.  Tel `n paar op in my hand.  Nurdles so ver soos ek kan sien.  Nou verstaan ek vir die eerste keer wat nurdle-besoedeling beteken.  Verstaan ek vir die eerste keer wat die impak van hierdie klein plastiekgoedjies kan wees.  Ek neem `n paar foto`s.  Ek neem ook `n paar vaal ou nurdles toegedraai in foelie saam vir dr. Takada se navorsing in Japan.  


`n Tydjie daarna beleef ek een van die hoogtepunte van my stap...  Van ver af kon ek die groot swerm seesterretjies op die strand sien sit.  Hulle het eers opgevlieg toe ek baie naby is.  So lui-lui.  Maar nie regtig padgegee nie.  Net opgevlieg en om my bly draai.  Ek het vorentoe gestap met `n wolk malende seevoëls om my.  Vir `n hele entjie het hulle my so vergesel.  `n Wonderlike ervaring.  Net jammer ek kon dit nie afneem nie.


Ek dink ek is nou op die SAS Saldanha Vloot se gronde.  Voor my is `n container of bunker of iets.  By die deure lê bruin sandsakke. Alles lyk maar redelik geroes.  By die see kan dit seker nie anders nie. Ek kan nie agterkom waarvoor dit gebruik is nie.

Eindelik is ek aan die anderkant van die baai.  Dit het my langer as `n uur geneem.  Maar dit was darem nie so vervelig soos wat ek gedink het nie...  Ek kan Saldanha se vuurtoring al sien.

Ek stap nou hoog op teen die rotse.  Redelik naby aan die kant.  Die see ver onder my.  `n Pragtige stuk kus.  `n Mens kan dit ongelukkig nie afneem nie, maar die malgasse vlieg in strepe hier onder my verby.  Ek kan nie anders as om met `n jubel in my hart verder te stap nie.  Ten spyte van al die hartseer vandag, die slegte goed soos poachers en nurdles, het die Here vir my weer die wonder van sy skepping laat raaksien.  Die voëls het vandag uitgekom om my met hul skouspel te verras.  Dis ook vir hulle wat ek die stap doen...


Die kus raak nou so rotsagtig dat ek meer binneland toe moet gaan.  Weg van die see af.  Ek kan die water so nou en dan deur die duintjies sien, maar nie die strand nie.  Daar hang so `n dynserigheid in die lug, wat veroorsaak dat my kamera nie lekker op alles wil fokus nie.


Voor my is `n koppie.  As ek tot bo-op dit klim kan ek dalk nog `n foto van Malgaseiland neem.  Ek het al vir die eiland probeer uitkyk, maar kon dit tot dusver nog nie sien nie.  My pa het al vir my vertel van die probleme wat hulle daar op die eiland het met die pelikane wat die seevoëls se kleintjies opvreet.  Ons het selfs al daaroor gepraat om vrywilligerswerk op die eiland te doen en die pelikane tydens broeityd te verjaag.


Vanaf die koppie kan ek die eiland redelik goed sien.  Ek neem `n paar foto`s en zoem in.  Behalwe honderde malgasse sien ek ook `n klompie geboue.  Dit dateer seker nog uit die ghwano-tyd se dae.

Ek is amper by my eindbestemming vir vandag.  Die toegangshek na die vlootfasiliteite.  Die hekwagte wag met groot glimlagte vir my in.  Hulle weet van my.  Wil ook eers `n foto neem voor ek mag verder gaan.  Hulle is trots om saam met my `n foto te neem.  Ek is net so trots om saam met hulle te staan.  Kyk net die gun wat die een ou vashou!


Toe ek by die bakkie aankom, stop `n motor langs my.  `n Man in sy “whites” klim uit.  Luitenant Geyser.  Hy kom skud eers hand en vertel my hoe wonderlik dit is wat ek doen.  Hoe belangrik die bewusmaking is waarmee ek besig is.  Ek voel maar bietjie skaam met al die aandag wat op my gevestig word.  Luitenant Geyser vertel my dat hy nou net `n slang moes verwyder het uit een van die huise.  Hulle het maar hulle probleme so nou en dan met pofadders, Kaapse kobras en boomslange.

Hy waarsku my vir oulaas om op te pas vir pofadders in die Weskus Nasionale Park.  Daar is hulle volop.   Die spesmagte in Langebaan eet hulle blykbaar.

Ons groet en ry.  Terug Paternoster toe.  Die wind het intussen sterk opgesteek.

Ons sal seker nie vandag gaan swem nie.


Vrydag 5 Jan 2018

Ek is in Saldanha.  Regs van my is die uitgestrekte baai.  Die hawe.  Die mosselplaas, met die rye boeie in die water. `n Klompie groterige vragskepe.  En die uitgestrekte lang sandstrand wat voor my lê.  Kilometers ver.  Tot daar by die rooi kol.  Saldanha staal en Transnet se spoor Sishen toe.


My knie en enkel is vanoggend weer seer.  Dis maar die gebruiklike pyne so vroeg in die oggend.  Spiere en ligamente wat net bietjie moet warm word.  

My pa het my vanoggend weer by SAS Saldanha se hek afgelaai.  Die wagte het weer vriendelik geglimlag en gegroet.  Ek moet vandag stap tot by die Weskus Nasionale Park se hek, net anderkant Langebaan.  Soos die kraai vlieg nie ver nie.  Maar ek kan nie vlieg nie en daarom is vandag se roete ingewikkeld.  Seker die ingewikkeldste van die hele staptog.  In my pad lê die rooi kol, Transnet se staalhawe en Club Mykonos.  En ek is nie seker hoe ek verby al hierdie obstruksies gaan kom nie...


Die eerste gedeelte deur Saldanha moet ek ongelukkig teerpad stap.  Tot net anderkant die hawe en die industriële gebied.  `n Taxi het my nou net amper raak gery...  Kyk so vir moontlike kliënte dat hy nie eens vir my of die stopteken raakgesien het nie.
Ek kies so vinnig as moontik koers in die rigting van die strand.  Dis nie so maklik nie.  Orals is privaat grond of hotelle.  Maar eindelik kry ek `n gaping sand toe in die omgewing van Hoedjiesbaai.

Die strand is redelik klipperig.  Klein klippies, so groot soos nurdles,  wat die soek van nurdles natuurlik bemoeilik.  Elke nou en dan stop ek om seker te maak dit is nie nurdles nie.  Die sagtheid van die strand maak dit ook nie maklik om daarop te loop nie.  Die vissermanne op die strand naby Peter`s Town groet vriendelik, hoopvol vir kabeljou en witsteenbras.  `n Vrou stap kaalvoet in die water in en bid kliphard toe ek verbystap.  Sy skree dit later uit...  Angsaanjaend.

Kop onderstebo stap ek aan ...  Soos so baie keer al die afgelope paar weke.


By Blouwaterbaai se pier kom ek op die eerste obstruksie vir die dag.  Dis eintlik meer `n lang hoop klippe wat `n hele ent in die see inloop.  Bo-op is `n draadheinig waar ek moet om.  Ek kan nie oor nie.  Die ronde klippe loop nie lekker nie.  Veral nie met die branders wat elke nou en dan daarteen vasslaan nie.  Ek stap versigtig tot by die punt.  Die klippe is redelik los.... Om die heining.  En weer terug.  Ek is nou op Transnet se grond.  Darem met toestemming...

Toe ek en my pa in Mei verlede jaar hier kom kyk het as deel van ons beplanning, het die sekuriteitsbeamptes vir ons baie mooi laat verstaan dat daar nie `n manier is dat ek hier sal mag deurstap nie.  My Pa het selfs vanaf die sekutiteitskantore vir twee mense van Transnet gebel, sonder enige sukses.

Deur die hulp van tannie Nazeem Duarte,  omgewingsbewaringsbeampte van die Saldanhastreek, het my pa twee maande gelede in kontak gekom met Rejean Viljoen, wat dadelik bereid was om te help.  Aangesien die treine en trokke `n veiligheidsrisiko is, sal hy my per motor oor die besige hawegebied en treinspore vat.  Ek moet net tot naby die hawe kom...

Ek bel my pa.  My pa bel Rejean.  My pa bel my.   Om en om trek die boodskappe tot alles mooi gesinkroniseer is en almal presies weet wie is waar, hoe ons mekaar gaan kry en wat van elkeen verwag word...



Rejean wag al vir my toe ek by die afgespreekte plek aankom.  Gelukkig ook maar, want ek het redelik agter my neus aangeloop.  Hoe moet ek nou weet waarvoor elkeen van hierdie geboue gebruik word?  Of waar die sample room is...

Terwyl ons ry verduidelik Rejean vir my wat eintlik hier aangaan.  Hulle voer omtrent 60 miljoen ton ystererts uit per jaar.  Hy praat van hierdie area as “Die Rooi Kol”.  `n Mens moet blind wees om nie te verstaan wat hy bedoel nie.  Alles is bedek met `n rooi, poeierige stof.  Die paaie.  Die aanwysingsborde.  Die bossies.  Die grond.  Alles.  Selfs die sitplekke in Rejean se bakkie.

Rejean laai my af by die dam wat vroeër gebruik is vir marikultuur.  Voordat Transnet die grond gekoop het was hier `n oesterplaas.  Soos die hawe elke keer groter gemaak word, word hierdie damme net kleiner.  Volgens Rejean is dit omtrent die enigste mooi deel nog in die hawe.  Die enigste deel wat nie rooi is nie.  


Ek is nou deur al die hekke en heinings en ander obstruksies van die hawe.  Die strand lê weer oop voor my.  Maar net tot by die volgende uitdaging.  Club Mykonos.  Ek weet nog nie hoe my roete daar gaan loop nie...

Ek stap nou op `n lang sandstrand.  Ek het nou weer tyd om op te let na die natuur.  Hartlaubse meeue.  Swartrug meeue.  Seesterretjies. En Oystercatchers.


Sommer uit die bloute het `n swerm swartrugmeeue my begin aanval.  Ge”dive-bomb”.  Van agter af.  Jy sien hom nie aankom sodat jy betyds kan koes nie.  Vir omtrent `n kilometer stap ek omkyk-omkyk.  Koes-koes.  Ek het nêrens neste gesien nie.  Kan nie die gedrag verklaar nie.  Was hulle agter my kos aan?  Vreemd.

Ek is nou by die Spreeuwalle.  Van ver af sien ek die volgende moeilikheid aankom.  `n Hoë sandwal aan my linkerkant.  `n Paar meter hoog.  Rotse voor my.  En die see aan my regterkant.  Vasgevang in `n tregter.  Soos mens wild vang in `n drukgang.  As dit hoog water is, slaan die water tot teenaan die sandwal.  Gelukkig is dit laagwater.  `n Bestiering van die Here.  Ons het nie eens hiervan geweet nie.  My enigste alternatief sou weer die duine gewees het.  En my kuite begin sommer al kramp as ek net aan duine dink...  

Ek klouter oor die rotse.  Al waarvoor `n mens altyd moet oppas is jou balans.  Met die swaar sak op jou rug kan jy maklik te veel vooroor of kant toe leun.  En dan is dit nag.  Jy lê nou-nou gat-oor-kop in `n rotspoeletjie.  Al troos is dat hier niemand is wat jou gaan sien nie...  Die stapstokke help darem.

Die rotse stap nie lekker nie.  Jy kan nie vinnig stap nie.  Dis heeltyd ongelyk.  Jou knieë en enkels vat heeltyd punches.  Verder is hier water.  Deurskynende water. Ek trap elke nou en dan in `n poel.  Gelukkig skrik ek dan so groot dat my skoene nie lank in die water bly nie.  My voete mag nie nat word nie...  Gelukkig is die poele nie te diep nie.  Maar dit vat ongelooflik baie konsentrasie om nie te val nie.  Die wind waai ook so dat dit `n mens heeltyd wil omwaai.  As ek Oystercatchers sien, moet ek eers stilstaan, anders val ek.  So ook as ek `n voice recording vir my pa los.  Ek moet kyk waar ek loop en die stapstokke in die regte gate indruk.  `n Ongeluk gebeur net so...  As ek nie konsentreer nie sal ek my enkels breek.  Dis nie lekker om so te loop nie.  Dit gaan maar stadig.  En dit lyk of dit nog vir lank so sal aanhou...

My enkels en knieë is nou al so moeg geloop dat ek besluit het om kortpad deur Club Mykonos te vat en nie die veiliger ompad nie...  Veiliger in die sin van konfrontasie met ander mense.  Ek sal maar stap tot waar ek kan.  Tot hulle my wegjaag.  Uitjaag.  Ek het nie `n idee wat op my wag nie.  Weet nie eens of dit fisies moontlik is om deur te stap nie.
Ek scramble weer letterlik oor die rotse om in Club Mykonos in te kom.  Van hier af weet ek nie verder nie.  Ek sien `n seilboot-hawe. `n Strandjie.  `n Klomp spierwit huise.  Ek sal dit maar vat soos dit kom.  Kop af.  Net stap...


Club Mykonos was nie lekker nie.  Ek probeer die heeltyd sekuriteit ontduik.  Soms moes ek om geboue loop.  Verby die plekke waar die trokke die goedere aflaai. Al wat ek moes onthou was om in die regte rigting te bly loop. As daar `n pad see toe mik vat ek hom.  Daar voel ek veiliger.  Weet ek, ek loop nie in sirkels nie.  Die hawe is skielik weer voor my.  By die lang hawemuur wat in die see inloop kan ek nie verder nie.  Dis net seiljagte waar jy kyk.  Ek stap `n ent op die muur en klouter later oor tot op die rotse en klippe aan die anderkant.  Die golwe se kant.  `n Vrou skree op my, maar ek maak of ek haar nie hoor nie.  Ek weet ek mag nie hier wees nie.  Maar wat kan ek nou doen.  Ek stap terug in die rigting wat ek gekom het.  Net op die rotse aan die anderkant van die muur tot by `n strandjie. Privaat strandjies lyk dit my...  Nie geweet `n mens kry so iets nie.  Gedink die stuk tussen laagwater en hoogwater is staatsgrond...


Maar duidelik dink die mense wat hier tussen die hawemuur en die hotel, wat `n entjie verder in die see inloop, nie so nie.  Dis hulle grond.  Streng privaat.  `n Vet man op sy stoep skree `n klomp goed vir my wat ek nie op die blog kan herhaal nie.  Ek hou my doof.  Kop-af.  Stap net aan.  As die vet omie iets vir my wil sê sal hy my eers moet inhaal...  Maar ek voel soos `n hond wat moet pakkry.  `n Roofdier in `n hok...  Opgejaag.  Gespanne.  Ek weet nie eens of ek vorentoe hier kan uitkom nie.  Dalk moet ek weer terug...  Verby die vet oom en die skreeuende tannie en al die mense wat nou al van die indringer weet...  

By nog `n privaat strandjie vra `n man my wat ek daar soek en waarmee ek besig is.  Ek verduidelik.  Hy lyk darem nie te kwaai nie. En beduie vir my hoe ek moet stap.  Ek kan onderdeur die hotel stap.  Maar dis gevaarlik...  Ek  moet baie versigtig wees.  Ek sal maar sien.

Voor  my raak die hotel al groter.  Loop hy al verder op pilare die see in.  Van waar ek nou loop is dit pikdonker onder die gebou.  Lyk dit of ek by die einde gekom het.  Die finale versperring...  Ek sal moet om...


Of nie...

Dis `n kans wat ek vat.  Maar `n berekende kans.  My skoene mag dalk nat word.  Of nie...  Ek hou die branders dop soos wat dit onder die gebou inloop.  Sommiges versigtig.  Rustig.  Ander weer met meer geweld.

Ek is banger vir die mense as die see.

Dis hier waar ek my dodge speletjie met die see gespeel het.  Op die verhoginkie by die eerste pilaar staan ek eers weer en hou die branders dop.  Daarna was dit net `n kwessie van goeie tydsberekening.

Ek is deur.  Die Here was weer goed vir my.  Ek was maar skrikkerig.  Maar nou is dit gelukkig verby.  Hopelik was dit die laaste moeilike stuk.  Dit het baie tyd gevat om deur Club Mykonos te stap en ek het nog `n hele entjie om te gaan tot by die Weskus NP se hek.

Erens tussen Leentjiesklip 1 en 3, sulke rotspunte met sandstrandjies tussen in, het `n seemeeu nou net `n seekat gevang.  Uit die water opgetel. Dit het `n entjie daarmee gevlieg, dit laat val en weer uit die see opgepik en weggevlieg.  Natuurlik met `n hele klompie maatjies agterna...  Dalk kan hulle ook ietsie kry.

Ek stap vir `n tydjie weer rotse.  Een van daardie groot plastiek strandballe kom skielik aangewaai.  Ek draf tot in die ding se pad en vang dit.  So stap ek met die bal in die rigting van die strand waar `n klompie mense ontspan.  Iemand sal wel vir my kom vra vir die bal.  Na `n tydjie kom `n klein seuntjie aangehardloop.  Tog te bly dat hy sy bal teruggekry het.  Die wind het so hard gewaai dat dit net eenvoudig nie moontlik was om dit in te haal nie.  Dit was lekker om sy groot glimlag te sien.  Beter in elk geval as die klomp knorrige gesigte tot dusver...

Ek het nou vir `n hele tydjie nie presies geweet waar ek is nie.  Maar toe ek die musiek vanaf `n kampeerterrein hoor, weet ek sommer ek is by Seabreeze.  Ek en my pa het juis by hierdie kampplek `n hele klompie jare gelede so `n slegte ondervinding gehad met musiek wat dwarsdeur die nag gespeel het.  Die naam Seabreaze is ook nie heeltemal gepas nie.  Dis baie meer as `n breeze.  Die wind waai my omtrent uit my skoene uit...

In Langebaan koop ek gou vir my `n Coke by die petrolstasie.  Al die petroljoggies was geïnteresseerd waarnatoe ek oppad is.  Toe hulle hoor ek stap deur die Nasionale Park was hulle baie bekommerd.  “Da`s baie giftige slange”.


Ek is verby Langebaanhawe en kies kortpad met `n toegemaakte tweespoorpad al langs die strandmeer langs.  Voor my is skielik `n skouspel van seildoeke in die lug.  Kite-surfers. Allerhande kleure.  Pragtig teen die groen-blou van die water.  Feestelik.  `n Vakansiestemming.  Die pad is toegeparkeer met motors.  Mense wat kyk.  Surfers wat hule wetsuits aantrek.  Almal surfers-style rustig en cool.  En ek...  Met my rugsak en my stokke.  Op my eie mission.  Ek wil nou klaarmaak. 


By die hek wag my pa.  Met `n groot glimlag.

As hy maar net geweet het waar ek vandag deur is...

Om te hou by die seevaartterme...  Vandag was dit nie net “Plain sailing” nie.
Maar die Here was goed vir my.  Hy het my paaie weer gelei.

Vandag kon maklik anders verloop het...

Saterdag 6 Jan 2018

My neef, Cornel Smuts, trou vandag met Elzanne Roos.  Ek is ook genooi...

Bietjie `n vreemde situasie.  As ek vandag klaar gestap het, moet ek eers Paarl toe.  Ek het dus nie baie tyd om te stap vandag nie.  Om sake nog moeiliker te maak is vandag ook die dag wat oom Danie Hefers van SABC2Fokus my weer wil kom afneem.  



Ek het spesiale toestemming gekry by oom Pierre Nel van die Weskus NP om die verbode witpad te gebruik.  Dit loop verby die sensitiewe suidelike deel van die strandmeer.  Die gedeelte wat die laaste tyd so in die nuus is as gevolg van `n  maatskappy wat toestemming gekry het om fosfor te myn teenaan die park.  Dit is nog onseker wat die effek van die water van die myn op hierdie spesiale gedeelte van ons land gaan hê.  Oom Pierre wil juis hê dat my stap vandag op hierdie gedeelte moet fokus.  Veral omdat oom Danie nou ook hier is.


Ek ken oom Danie nou al goed.  Hy is `n man met baie kontakte en baie ervaring.  Hy reël gou by die park se hek dat ons kan inkom.  Sommer gratis.  Al het ons `n wildkaart.  Ons is hier vir `n program oor omgewingsbewaring.  Ek stap by die hek in.  Oom Danie film.  Ek stap by die bult op.  Oom Danie film.  By Seeberg se voëlskuiling in.  Oom Danie film.  Hy is al in die sestig en hou by.  Soms hardloop hy vooruit.  Lê omtrent op die grond om die beste “shots” te kry.  Ander kere neem hy van agter af.  Ek het baie respek vir die oom en die vergelyking is dalk nie vleiend nie, maar om `n idee te gee is dit omtrent om saam met ons bokkiehond “Killer” te gaan stap.  Al om jou bene...



Oom Danie is `n baie interessante oom.  Was ook al orals.  Kilimanjaro is vir hom niks meer nie...  Hy verstaan my avontuurlustigheid.  Ek kan maklik met hom gesels.  Maar die tyd stap aan.  En ek vorder maar stadig.


By Seeberg se voëlskuiling sit die voëls nog op die strand.  Honderde klein seesterretjies wat elke nou en dan in `n wolk opvlieg.  Dis pragtig.  Skouspelagtig.  Maar nie wat my die meeste opgewonde gemaak het nie.  Voor my staan 38 Oystercatchers bymekaar.  Dubbel die grootste swerm wat ek nog op hierdie staptog gesien het.  Ek het gehoor hier is so baie van hulle:  Die grootste deel van die beskermde  Oystercatcher-bevolking kom in hierdie park voor.


Ek stap op my eie aan op die witpad in die rigting van Geelbek.  Ek ken nie die pad nie en hier is `n paar afdraaipaadjies.  Voor ek my weer kon kry stap ek verkeerd.  Strand toe, maar `n doodloop.  Voor my sit mense en piekniek hou.  Met drank en musiek.  Nie geweet `n mens mag nie?  Dalk van die parkeraad se families?  Hul spesiale voorregte?

Ek is nog steeds onseker oor die pad wat ek moet loop.  Dit begin nou al hoe meer weg van die starndmeer af loop.  Ek hou maar aan...  `n Mens kan sien hier kom nie baie mense nie.  Net `n paar drawwers en fietsryers.  Die diere is oor die algemeen rustig en die pad is vol gate van knaagdiere.   Ek het vanoggend ook al heelwat tarentale, Kaapse patryse, skilpaaie en streepmuise gesien.  Ook twee troppe elande.  Een groep van sewe en die ander ses.  Sommer naby aan die pad.  Lekker groot, stewige elande.  Hier is ook baie volstruise.  

Naby Geelbek kom my Pa en oom Danie my tegemoet gestap.  Hulle het sopas `n swart molslang gesien.  Ek onthou die waarskuwing van die petroljoggie.  Molslange is nie giftig nie, maar byt seer.  Dis meer vir pofadders en kobras wat ek moet versigtig wees.  Die giftige slange...


Ek gaan kyk gou by die Geelbek-voëlskuiling terwyl ons vir oom Pierre Nel wag.  Oom Danie wil met hom ook `n onderhoud voer.  Ek loop op die plankpaadjie deur die soutmoeras.  Die kleure van die plantegroei is pragtig.  Helder.  Verskillende skakerings van geel, rooi, oranje en groen.  Te mooi om te beskryf.  Met blou poele tussen in.  By die poeletjies loop geelborsstrandkiewiete en rooipoot elsies. Hier en daar ook `n ringnekstrandloper.  Die water by die voëlskuiling is al redelik vlak. Die beste tyd hier is mos so vier ure na hoogwater.  Ons weet.  Ek en my pa was al `n paar keer hier.  En dit is omtrent nou sulke tyd.  Voor my in die water loop groot flaminke, moerasruiters, klein wulpe en grysstrandkiewiete.  Die water is nog net te diep vir die heel kleinste waadvoëls.



Ek ontmoet vir oom Pierre.  Hy beduie hoe ek Maandag moet stap.  Ek wil nog baie by hom uitvind oor die park, maar daar is ongelukkig nie baie tyd nie.  

Ons het `n troue in die Paarl wat wag...



1 comment: