Wednesday 3 January 2018

Meetsnoer: Woensdag 3 Januarie


Lees: Ps 19:5: “Hulle meetsnoer gaan uit oor die hele aarde, en hulle woorde tot by die einde van die wêreld” (OV)

Die woord “meetsnoer” in ons teks is in verskeie ander vertalings vertaal as boodskap of stem.  Daar is baie goeie gronde daarvoor. Ps 19:5 word bv. aangehaal in Rom 10:18 en daar word die woord stem gebruik.  In die Griekse vertaling van die Ou Testmanent (oftewel die Septuagint) word ook die woord stem of boodskap gebruik. 

Daar is egter wel ‘n groter betekenis wat in die getuienis van die skepping oor die eer van God met sulke vertalings verlore mag gaan.  Die Hebreeuse stamwoord qav in Ps 19:5 beteken koord of meetsnoer. Dit moet egter wel onderskei word van die woord chelin wat ook met meetsnoer vertaal is (bv Ps 16:5). 

Die spesifieke woord qav kom slegs een keer in die Psalms voor, maar 9 keer in die profete, waarvan 6 keer in Jesaja. Die woord word gebruik in die konteks van God se oordeel (2 Kon 21:13, Jes 34:11; Klaagl 2:8), waar reëels verstrik (Jes 28:10, 13) of juis waar God sy reg laat geskied deur reëls (Jes 28:17), waar land uitgemeet word (Jes 34:17) of om die see simbolies te omspan in die tempel  (1 Kon 7:23; 2 Kron 4:2).  Die woord word ook gebruik met verwysing na God se almag toe Hy ‘n meetsnoer oor die aarde gespan het by die grondlegging van die aarde (Job 38:5) en by God se herstelwerk; die herstel van die skepping (Eseg 47:3), die herstel van ‘n nuwe verbond (Jer 31:39) en die herstel van Jerusalem (Sag 1:16).

Dit mag duidelik wees uit hierdie tekste dat as daar van ‘n meetsnoer (qav) gepraat word daar groot dinge gebeur wat God se almag laat blyk. Is dit nie juis waaroor hierdie Psalm gaan nie? Die hemele vertel die eer van God (vers 1) en verkondig dit deur die meetsnoer wat uitgaan – nie net oor ‘n klein gebied of oor een volk of oor 'n sekere groepie mense nie – maar oor die hele aarde.  Die meetsnoer gee dus wel dieper inhoud aan die enorme boodskap wat die skepping wyd en syd uitdra.

In ons teks word die gebruik van die woord qav meestal figuurlik as die domein van die hemelruim gelees en dan meestal vertaal met verwysing na die snaar (koord) van ‘n harp.  Die geluid van musikale koord dra dan ‘n boodskap uit oor die hele aarde.  Solank dit maar nooit afbreuk doen aan die eer van God wat met groot letters deur die hemelruim aangekondig word. ‘n Boodskap van oordeel, maar ook van herstel. 

Sit maar regop as daar gepraat word van meetsnoere. Dit gaan beslis nie oor sagte aandmusiek om jou aan die slaap te sus nie. Die hemelruim verkondig luid en kragtig die eer van God! Ons sal baie dwaas wees om nie te kyk en te luister nie.

Sing: Ps 19:2

Refleksie: Koorde maak vry en kan ook bind.  Dink na oor hierdie boodskap wat deur die skepping aan die hele aarde duidelik gemaak word.

No comments:

Post a Comment